Familie ‘bid elke dag’ vir baba wat met olie brand

Foto: Verskaf.

Jaydené Croucamp, die 17 maande oue dogtertjie van Port Elizabeth wat in Julie met kokende kookolie gebrand het, se toestand het ná die traumatiese beproewing stukke verbeter.

Só sê Chantelle Botha, Jaydené se tannie, Dinsdagoggend aan Maroela Media. Volgens Botha was Jaydené Vrydag by ʼn velspesialis in Bloemfontein wat haar verhaal sedert die ongeluk gevolg het.

“Hy het haar ondersoek en gesê sy benodig nie nou nog ʼn veloorplanting nie, maar dat hulle dalk wanneer sy puberteit bereik aan die vel op haar bors moet ‘knip’ sodat dit saam kan groei,” het Botha gesê.

Volgens haar het Jaydené tot verlede week nog elke Maandag en Vrydag gegaan vir wondsorg by die hospitaal, maar nou is al die verbande verwyder en Jaydené is weer haar besige self.

“Ons was Saterdag met haar by ʼn partytjie en sy het lekker onder die gazebo gesit en saam met die maatjies gespeel; sy het dit so geniet,” het Botha gesê.

Jaydené ervaar wel nog pyn, veral in die aande. “Sy huil baie in die aand en skree ‘eina! eina!’”

Sy vertel verder die spiere van Jaydené se een armpie groei stadiger as die ander een juis weens die skade wat opgedoen is met die erge brand. “Sy moet nou so ʼn plastiekstut kry vir die armpie, dit lyk heeltyd asof sy met iets onder haar armpie rondloop en hy is dunner as die ander arm,” het Botha gesê.

Foto: Verskaf.

Maroela Media het vroeër berig Jaydené het brandwonde oor 30% van haar lyf opgedoen toe sy Sondag 15 Julie ʼn braaipan met kokende olie op haarself omgetrek het. Sy het brandwonde aan haar bors, rug en gesig opgedoen, waarvan sommige derdegraadse brandwonde was. Sy is onmiddellik ná die voorval eers na die Livingstone-hospitaal gehaas waar die gesin na die Dora Nginza-hospitaal verwys is omdat dié hospitaal glo beter toegerus is om brandnoodgevalle te hanteer.

Die ongeluk het die middag omstreeks 17:00 gebeur terwyl Jackie Croucamp, Jaydené se ma, aandete voorberei het. Sy het olie in ʼn braaipan verhit om aartappels te braai en Jaydené het ʼn paar meter weg van die kas gesit en speel. “Ek het omgedraai om ʼn bak net op die kas agter my neer te sit en in daardie oomblik het Jaydené verby my geglip en die braaipan op haarself omgekeer.”

Botha sê die gesin is positief oor klein Jaydené se toekoms. “Ons vertrou net, dis al wat ons kan doen. Ons almal bid elke dag vir haar.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

christa ·

so bly dat sy nie erger wonder opgedoen het nie. Ouers moet met sulke kleintjies dubbel seker maak om sulke ongelukke te voorkom. Kleintjies is baie vining.

Jakalas ·

Ek het ‘n lelike brand merk op my arm en bout toe olie my gebrand het toe ek 5 jaar oud was. Ek ken die pyn wat daai kind deur gegaan het. Bly sy lyk so goed na so storie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.