Familie bly hoop ná Pta-man in see verdwyn

Kevin Annandale (28). Foto: Verskaf

Kevin Annandale (28). Foto: Verskaf

“Ons weet hy kan nie meer lewe nie, maar tot sy liggaam gevind word, hou ons aan hoop.”

Só sê Maryke Lombaard (36) nadat haar broer, Kevin Annandale, ʼn tegnikus van Pretoria, Saterdag in die see by Sodwanabaai in KwaZulu-Natal verdwyn het. Annandale het verlede Donderdag sy 28ste verjaarsdag gevier.

Annandale is Saterdag saam met twee van sy kollegas deur ʼn sterk stroom in die see meegesleur toe hulle saam gaan swem het. Hy is dieper in die see ingetrek voor hy verdwyn het.

Sy kollegas, Michael Louw en Mario Bouer, kon ná ʼn groot gespook daarin slaag om uit die water te kom.

“Ek was die kollega wat saam met hom ingesleep is en wou etlike kere tou opgooi. Ons het ook nog geen ander nuus gekry nie, maar hoop en bid maar net ons kry hom. Kevin, my vriend, ek hoop regtig dat jy ons nie verwyt vir wat gebeur het nie en sal vergewe vir die feit dat ons twee jou ook nie verder kon help nie. Groete, my vriend, totdat ons mekaar weer sien. Ek en Mario gaan saam met ʼn paar van sy naaste mense in November ʼn gedenksteen op die kuslyn plaas,” het Louw op ʼn aanvanklike Maroela Media-berig oor die voorval kommentaar gelewer.

Sedert sy verdwyning is ʼn soektog van stapel gestuur deur personeellede van die plaaslike iSimangaliso-vleilandpark, mariene beamptes van Ezemvelo en die polisie se duikeenheid, honde-eenheid en soek-en-reddingspan.

Die vermoede bestaan dat hy verdrink het.

“Daar is tot dusver nog geen teken van hom nie en die soektog duur voort. Dit sal moontlik ná 10 dae [vanaf Saterdag] afgeskaal word as daar nog niks gevind is nie,” het Lombaard Vrydag aan Maroela Media gesê.

Sy het gesê die gesin het Annandale, ʼn pa van ʼn jong seun en dogtertjie, vier weke gelede vir die laaste keer gesien toe hy vir hulle kom kuier het. Hy is hoofsaaklik van Capital Park in Pretoria se Moot-omgewing, maar het die afgelope paar maande in Piet Retief in Mpumalanga gebly van waar hy gewerk het as tegnikus vir ʼn onderneming wat lugversorgers installeer.

“As ek my oë toemaak, sien ek die lang, skraal, bruin gebrande man voor my staan en glimlag. Hy het altyd geglimlag, was vriendelik en vol grappies,” het ʼn emosionele Lombaard gesê. “Hy het daarvan gehou om saam met sy familie en vriende te kuier. Hy was liefdevol en baie erg oor sy kinders.”

Sy het afgesluit dat daar ʼn tikkie hoop bestaan totdat sy liggaam opgespoor word, hoewel hulle die ergste vermoed.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Sommer net sad ·

Dit is sommer net sad, sterkte aan sy gesin, veral die kleintjies, so frats ongeluk gebeur so maklik, ek kan net dink hoe hy dit voluit geniet het.

Landrot ·

Ek lees hy is ‘hoofsaaklik’ (seker oorspronklik) van Pretoria en ken seker nie die see. Ek is maar lugtig vir die see en sy verraderlike strominge en bly maar weg veral by afgeleë strande.
Wat ‘n tragedie om so ‘n jongeling in die fleur van sy lewe (moontlik) te verloor. Sterkte aan vrou , kindertjies en fam. in hierdie tyd van beproewing.

Letty-Ann Mõller ·

‘n Soortgelyke trauma is deur die ouers van Trevor Marthinus van Waenhuiskrans beleef. Hy was ook weggespoel…en het eers na 12 dae, uitgespoel.Sy ouers het nou berusting gevind. Hy was ook 28 en is gister begrawe.

marlene ·

Voel so jammer vir julle. Dis hartverskeurend. :( :(
Sterkte vir die familie ♡♡♡

Ric ·

21 Janurie 2007 is my pa tussen Elandsbaai en Dwarskersbos deur ‘n stroom ingetrek, amper 10 jaar later en nog geen liggaam! Ek hoop regtig hulle vind iets! Die onsekerheid maak jou klaar, al weet jy daar is/was seker geen hoop! Baie sterkte vir sy familie!

Cherokee ·

Ek woon al vir vele jare op die strand. ‘n Seestroom is in vorm ‘n smal kanaal van sowat 50 tot 100 meter breed. Indien jy in ‘n seestroom beland, moet nie veg daarteen nie. Dit sal jou uitput. Moet nie teen die stroom swem nie … moet nie probeer terug swem nie! Dit gaan jou moeg maak. Bly kalm en swem in lyn met die strand sodat jy nie dieper ingetrek word nie. Onthou die stroom is net tussen 50 en 100 meter breed. Swem na die kant daarvan sodat jy uit die seestroom kan swem en en spaar kragte deur te dryf. Bly kalm en swem nie terug maar dwars met die stroom en jy sal uit dit swem. Haaie is nie werklik ‘n gevaar want dit val nie mense aan nie en wanneer mense deur haaie gebyt word is dit weens ‘n misverstand, wanneer die mens vir ‘n rob of so iets aangesien word. ‘n Waterski lyk van onder baie na ‘n rob. As jy deur ‘n seestroom ingesuig word kan jy deur kalm te bly, daaruit swem. Lewensredders swem daarin om mense te gaan uithaal. Hou kop en geniet jul vakansies by die see… maar wees versigtig.

Anneke ·

Ons is so lief vir jou Kev. Ek weet jy kan die nie sien nie en sal ook moontlik nooit. Jy het in ons lewens ingewals en besit van ons harte geneem. En nou neem jy stukke daarvan saam jou. Ek kan nie ophou glo en vertrou dat jy gaan terug kom. Lief jou Kev.

Cherokee ·

Moet nooit sê nooit Anneke. Ons weet nie wat uit ‘n ander dimensie hier gesien kan word.

Anneke ·

Baie dankie vir die positiewe antwoord. Dis so moeilik om n kop omhoog te hou, maar met mense wat jou moed in praat, maak elke dag bietjie meer hanteerbaar.

Pastoor ·

Cherokee jys 100% reg. Ek bly 27 jaar by die see. Het ook amper verdrink. Die lewensredders was al oppad om my te kom haal. Die see het my baie ver ingeleur. Ek het proberrveg. Gelukkig gestop. Lster los die stroom jou. Ek kon rustig uit swem. Dit is baie erg. Baie sterkte aan die geliefdes. Die ander wat lees onthou dit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.