Familie dankbaar vir ‘wonderwerk’ ná gasontploffing

Banie Coetzee, sy vrou Natasha, en sy drie kinders, Mickayla, Tyrone en Jarred. Foto: Verskaf

Banie Coetzee, die man van Heidelberg in Gauteng wat erge brandwonde opgedoen het tydens ʼn gasontploffing in sy motorhuis, sal waarskynlik ʼn veloorplanting moet kry om die skade aan sy arm te herstel.

Thea Roode, Coetzee se niggie wat as woordvoerder vir die familie optree, het Dinsdag aan Maroela Media gesê Coetzee (41) word steeds in die waakeenheid van die Netcare Unie-hospitaal in Alberton behandel. “Hy word steeds onder verdowing gehou en is ook steeds op ʼn ventilator, maar die dokters sê hy herstel eintlik bo verwagting. Ons het nie gedink ons sal só vinnig al genesing begin sien nie, maar die swelsel in sy gesig is amper heeltemal weg en hy lyk al klaar beter,” het Roode gesê.

Maroela Media het vroeër berig Coetzee het Sondag ʼn lekkende gasbottel in sy motorhuis neergesit, maar later toe hy agtergekom het dat die bottel steeds lek, dit buite die huis gaan sit. Ure later was hy in die motorhuis besig en het hy ʼn sigaret aangesteek, onwetend dat daar steeds gasdampe in die motorhuis was.

Dit het ʼn reuse ontploffing veroorsaak en Coetzee het brandwonde aan 50% van sy liggaam opgedoen, terwyl sy longe en lugweg ook beskadig is.

Roode het gesê Coetzee is Maandagaand weer teater toe geneem om sy wonde skoon te maak en die verbande te ruil. “Sodra sy koors styg, is dit asof sy liggaam vir die dokter sê dat sy wonde weer skoongemaak moet word en dan vat hulle hom teater toe,” het sy gesê.

Banie Coetzee in die hospitaal. Foto: Verskaf

“Die foto’s wat ons van sy wonde gesien het … dit lyk nie mooi nie. Maar dit is al klaar beter as toe hy pas in die hospitaal opgeneem is en die dokter is baie tevrede met sy herstel. Hy het wel gesê daar sal waarskynlik ʼn veloorplanting aan een van sy arms gedoen moet word om die skade daar te herstel.”

Sy het gesê hoewel Coetzee onder verdowing is, toon hy klein tekens dat hy wel kan hoor wanneer daar met hom gepraat word, soos sy oë of een van sy voete wat beweeg. Sy dokter beplan om van Donderdag sy verdowing te verminder sodat hy hopelik stelselmatig kan wakker word. “Hy verjaar Sondag en ons het gister vir hom gesê hy beter nou wakker word want ons gaan almal Sondag vir hom sing en saam met hom koek in die hospitaal eet,” het sy gesê.

Volgens Roode word Coetzee se familie gedra deur die talle gebede en boodskappe van ondersteuning wat hulle sedert die voorval ontvang. “My foon lui sonder ophou. Mense sal sommer in die vroeë oggendure bel om te hoor hoe dit met Banie gaan, dit is net ongelooflik hoeveel ondersteuning ons kry,” sê sy.

“ʼn Man van Skotland, wat ons van geen kant af ken nie, het ons ook gekontak en aangebied om die eerste klomp hospitaalrekeninge te betaal. Hy ken ons nie eens nie, maar sy pa het dieselfde deurgegaan toe hy ook brandwonde opgedoen het en die man sê hy wil help omdat hy weet hoe swaar pad dit is om te stap. Dit is niks anders as ʼn wonderwerk nie,” sê Roode.

“As daar nog enigiemand was wat getwyfel het of gebed werk, kan hulle net hier kyk na wat God kan doen. Ons staan verstom. Ons wil ongelooflik dankie sê vir elke persoon wat bygedra het tot Banie se mediese onkoste, maar nog meer wil ons dankie sê vir elke gebed, want dít is die kragtigste van alles. Ons kan nie vir beter ondersteuning vra nie, ons is so dankbaar.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Ai ·

Sjoe dis fantasties! En ja, God is wonderlik! Sal julle in ons gebede hou en ek glo dat hy sal volkome herstel. Dis regtig wonderlik om te sien hoe God werk.

Alles van die beste vorentoe.

MM ·

Lees ek reg? Het die aansteek van n vieslike sigaret hierdie tragedie veroorsaak? Reuse ontploffing? Ongelooflike beserings…. en dan rook mense nog….

Ris ·

Regtig? Wie is jy om te oordeel……. baie meer mense sterf op ons paaie deur dronkbestuur of roekeloosheid maar jy kla oor n sigaret!!!! sterkte aan Coetzee familie.

Piet ·

Ag ek glo nie dis nodig om so dramaties te wees omdat die ou gerook het nie. Meer mense het n gewig probleem a.g.v ongewone suiker inname en ek het nog nooit gehoor iemand se dat n persoon n vieslike bottel Coke in sy yskas het nie. Rook is n slegte gewoonte wat ek gelukkig nie self het nie maar sommige mense kan so kerm daaroor, mens sal glo dat daar nie iets beters is om oor te sanik nie.

jan van riebeeck ·

Piet jy is meer reg as wat jy weet , meer mense sterf jaarliks van die komplikasies van te veel suiker in ons kosse (suiker is in absoluut alles deesdae) dit is n epidemie wat regerings onder die mat invee want groot maatskappye maak baie geld uit suiker en die medisyne wat gebruik word om die simptomes van siektes wat deur suiker veroorsaak word te beheer

lana ·

Ek rook eerder as om ander mense te oordeel vir wat hul doen
Sterkte vir die Coetzee familie.

MeisieMens ·

lana, dankie ek stem saam. Ek rook veel eerder as om myself dronk te drink, en dan agter ‘n stuurwiel in te klim en mense se lewens in gevaar te stel. Ek rook ook veel eerder voor ek besig is met my foon en bestuur. Daar is baie meer wat skade veroorsaak as ‘n vieslike sigaret. Fisies en emosioneel.

Boerseun ·

Ja, dit is soos hulle sê: hier kan mens kyk wat God doen! Arme man en familie.

Minette du Toit ·

Ons dien ‘n wonderlike lewende God. My pa was 27 Febr in gasontploffing by Goudini. Hy het ‘n breinbesering opgedoen en hoe hy bo verwagting van dr’s en neurloog al gevorder het is ongelooflik. Dit is nog ‘n pad om te stap, maar soveel mense bid vir hom en net soveel bid vir julle en daardie gebede dra jou daagliks. Ek dra jul in gebed op, wonderwerke bestaan wel.

D. ·

Genade MM het jy ooit n hart??

Ek is dankbaar dat hy gespaar is vir sy gesin en familie. Daar is nog n pynvolle lang pad voor.. En hy gaan baie gebede en ondersteuning nodig he..

anton ·

Snaaks hoe party mense altyd ”Rook” sal probeer goedpraat ongeag die feit dat dit niks goeds aan n mens se liggaam doen nie. Absoluut n vermorsing van geld en die menslike liggaam.
Ek oordeel nie maar hoekom iets slegs probeer regverdig of goedpraat?
Nikotien is ook n ”DRUG”
Baie mense weet nie hoe baie sterf daagliks a.g.v rook verwante siektes.

Thea ·

Baie dankie aan al die gebede en sterkte toe wense.
Dit maak nie saak of hy n sigarette wou opsteek nie. Geleerders op die toneel het gese dit kon van enige iets anders die ontploffing veroorsaak het, bv n safety skoen wat stukkend was, of krag kabel wat aangeskakel kon word, garage deur wat oopgemaak was.
God het besluit waarmee die ontploffing moes “aansteek”.
Ons is net God se instrumente waarmee Hy werk
Groete
Banie se Nig
Thea

wyfie ·

Sterkte sterkte sterkte aan die hele gesin. Dit moet onbeskryflik seer wees, fisies en emosioneel. Saam baie dankbaar vir kosbare mediese sorg. Hou maar aan om op te kyk…

Rachel ·

Ek wil net se dat die man is my neef (Banie). dankie aan almal wat ons by staan en vir ale gebede want ook sonder jul sou ons dit nie tot dus ver gemaak het nie. dan wil ek net ook by se dat ons dien n Almagtige God en net ons Hemelse Vader kon die wonderwerk doen op Banie. Nie te min wil ek ook net se hou jou/jul negatiewe comments vir jouself, moet tog nie vir my se dat nie een persoon wat jy ken nie rook of so nie asb! Ons almal is skuldig in wat ons elke dag doen, niemand is so perfek soos wat somige mense dink nie! Ja my neef het sleg seer gekry maar op ie einde van die dag het hy n tweede kans gekry.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.