Familie eis antwoorde ná motor pa doodry

Godfrey Donald Warren (Foto: Verskaf)

Die familie van Godfrey Donald Warren (35) soek antwoorde ná sy vergruisde liggaam drie weke gelede langs die N12 digby Carletonville, Gauteng, gevind is. Warren was die pa van ’n driejarige dogter en twee stiefseuns, onderskeidelik 12 en nege jaar oud.

Familielede is ontsteld omdat hulle meen die polisie het nie die saak met die nodige erns hanteer nie en hulle boonop nie in kennis gestel van Warren se dood nie. Hulle moes ’n dag later op Facebook daarvan te wete kom.

Volgens Warren se ouers, Viva en Henry John, was hy Maandag 1 November omstreeks 19:40 te voet op pad werk toe vir die aandskof toe ’n motor hom getref het. Die ongeluk het op die N12-afrit digby Carletonville plaasgevind.

Warren het van sy gesin se huis in Carletonville na die Kloofmyn in Westonaria geloop, waar hy as skagwagter gewerk het. Warren het nie ’n voertuig gehad nie en sy vrou se motor was stukkend.

“Toe Godfrey nie die volgende oggend terugkeer huis toe nie, het sy vrou begin vrae vra. Sy werkgewer het ook laat weet dat hy nie die aand vir sy skof opgedaag het nie,” vertel Viva.

“Ons het eers Dinsdagmiddag omstreeks middagete gehoor dat Godfrey weg is. Ons dogter het ’n inskrywing oor Godfrey se verdwyning op Facebook gemaak. Die inskrywing was nie eens ’n halfuur op Facebook nie, toe iemand op dié platform met ons kontak maak en sê dat Godfrey na bewering doodgery is.”

Henry John vertel volgens dié persoon het twee sekerheidswagte van Kloofmyn op Warren se liggaam afgekom. Die bestuurder van die voertuig – ’n silwer Mazda – wat hom raakgery het, was na bewering op die toneel.

Henry John is kort daarna self na die ongelukstoneel, waar hy sy seun se skoene en dele van die motor in die middel van die pad aangetref het. Volgens hom was daar geen remmerke in die pad wat wys dat die motor probeer stop het nie.

Die familie het die volgende oggend by die polisie navraag oor die ongeluk gedoen. Warren se broer en swaer moes hom eers op ’n foto en toe later aan sy liggaam gaan uitken.

“Godfrey was só erg vergruis, my skoonseun het nie die moed gehad om terug te gaan en hom in lewende lywe uit te ken nie. Volgens my seun was dit nie ’n mooi prentjie nie. Die helfte van Godfrey se kakebeen was stukkend, en sy hele gesig was flenters. Volgens die outopsieverslag was sy rugwerwels ook vergruis en sy borsbeen gebreek,” vertel Viva.

Viva en Henry John sê hulle is in die duister omdat hulle geen antwoorde by die polisie kry nie.

“Die polisie sê hulle kan tans geen inligting verskaf nie, omdat hulle die saak eers moet ondersoek.” Hulle verstaan ook nie hoekom die betrokke motoris nie in hegtenis geneem of aangekla word nie.

Dié bekommerde ouerpaar is ook ontsteld dat die polisie hulle nie van Warren se dood in kennis gestel het nie, maar dat hulle daarvan op Facebook te wete moes kom. “Warren het sy werkskaart met sy naam en besonderhede by hom op die toneel gehad.”

Viva en Henry John glo daar moes ooggetuies op die toneel gewees het wat die ongeluk sien gebeur het.

“Die N12 is ’n baie besige pad en daar moes in daardie stadium iemand verbygery het,” sê Henry John.

Warren se familie pleit by mense om met hulle kontak te maak by [email protected] en [email protected] indien iemand enigsins inligting oor die ongeluk het.

Maroela Media het navraag oor die ongeluk aan die polisie gerig, maar wag nog vir terugvoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

24 Kommentare

Genis ·

Die SAPD doen ongelukkig nie hulle werk nie, lnank nie meer nie…. hoekom sal hulle, word tot in die Stasie beroof… Baie jammer vir familie en vriende…

Onbesmetlik ·

Natuurlik sal niemand aangekeer word nie. Die slagoffer is mos ‘n blanke persoon. Blankes is mos wegdoenbaar in hierdie land !!!!! Ons voel so bitter JAMMER vir die familie!!!!

Swerwer ·

Hoe onbedag van die skuldige om nie na vore te kom nie. Innige simpatie en meegevoel aan die familie.
Blyk dat die SAP glad nie meer omgee en hulp verleen nie. Hul kan net sowel die SAP ontbind en net die Privaat Sekuriteitsmaatskappy gebruik, dan was hierdie skuldige dalk al vas.

Pieter ·

Die s.a.p sal ons by kfc kry of by hulle huise dit is hoe ons belasting geld gemors word

Jr ·

Ek ken hierdie jong man van hier in Carletonville bly. Hier in Carletonville sien jy nie een speedcop nie. Daar is nie petrol nie. Dis die verskoning. Die enigste tyd wat jy n speedcop sien is vroeg oggend wanneer hy of sy die grys speedcop uitsit ( kamera) in Annan of Agnew dan weer in die middag om hom te kom optel. Stop strate beteken niks in ons dorp. Roadblocks is net om uitstaande boetes to eis. Mense drink daagliks by die hostel in Agnew str. Dan klim hulle in hulle karre vol Johnny Walker stampe en ry terug na die myne toe om te gaan werk. Rapporteer dit dan word jy met n rassistiese houding gehandteer wat sê “please don’t waste my time. Of ons speedcops het of nie is dit die selfde.

Ian ·

Sjoe wys jou net hoe ver is die baie van ons verwyder van die werklikheid wat op straat gebeur. Dis is eintlik baie erger as wat n mens dink dit is. Eintlik is ons baie naby aan wetloos lewe.

Sandra ·

Haai dis so tragies. En dis nogals ver om te loop. Dat hulle nou so sleg moes uitvind van die seun, man en vader se dood is uiters laakbaar. My simpatie gaan uit aan die ouers en sy vrou en kinders.

Elize ·

Hierdie is my boetie. Weet julle hoe dit voel om te weet die skuldige kry sielkundige behandeling maar die familie kry nie eers antwoorde nie? Die skuldige loop vry rond omdat daar na bewering geen ooggetuies was nie. My boetie se bloed was getoets maar nie die skuldige party se bloed nie. Na ons antwoorde vra op die Carletonville blaaie op Facebook, is daar nog mense waarmee dieselfde gebeur het selfs van 2012 af maar dit word nie opgelos nie. Hoe kan mens berusting kry?

Jakkie ·

Baie sterkte vir julle almal, mag julle vertroosting en antwoorde ontvang. Moenie ophou baklei vir geregtigheid nie.

Misky ·

So jammer vir julle verlies @Elize. Hoop julle kry antwoorde en berusting in die moeilike tyd

Janine ·

So bitter jammer vir hul hartseer. Dis absoluut hartverskeurend.

Spookasem ·

My best friend and colleague was murdered at Univ of Fort Hare. The corruption and thievery there was endemic. He had uncovered some ugly doings and he was murdered to keep him quiet. 7 black Students were indicted for his murder. They are still walking free as are the top guns at the university who were behind the murder. One of them were accused of corruption, so the mister up and left and too a top job at Univ of PE. In 2010 I was assaulted by my black boss. When defbriefed by the detectives in Caledon Square police station the four bastard ignored me and made comment among themselves while looking and laughing at me. Nothing came of it. But I did report them for tax fraud in person with proof to SARS. Someone was washing someone’s hands…. The vast majority of police are pieces of excrement. I am very sorry for your loss and I know what you are up against. Keep fighting for justice. They want to wear you out so you will just give up and go away. Don’t go away!

Gogga ·

Hierdie gesin plaas amper elke dag die noodkreet vir inligting op ons plaaslike omgewings se facebook blaaie. En ek stem, iemand moes tog iets kon sien. En wat my die hardste tref, is dat die man en pappa so ‘n geweldige ent pad moes stap, sodat hy die einde van die maand ‘n salaris kan trek om sodoende vir sy gesin te sorg!!! Dis duidelik iemand wat die belange van sy gesin op sy hart gedra het, en dit breek my om te dink dat daar buite iemand is wat moontlik weet wat gebeur het, en nie na vore kom nie. Ek kan net aanneem dat die man werklik iemand sou wees wat berge sou versit om ‘n ander persoon in nood te help. Wie is daar nou wat sy voete gaan blase loop sodat daar kos op die tafel kan wees en ‘n dak oor die kop vir sy gesin? Want die een wat aanspreeklik is, kry nou sielkundige hulp, en gaan seker net met alle onskuld stry dat dit nie sy skuld is nie! My innige simpatie met julle verlies, en ek kan net hoop dat julle die antwoorde sal kry waarna julle soek.

Janine ·

My innige simpatie. Ek huil so, ek moet my oë bly afvee om te tik. Dis hartverskeurend! :'(

AmY ·

Die skuldige is seker familie van ‘n grootkop by die myn?
Maar ek is seker verkeerd.
Die polisie doen maar net nie hulle werk nie. Hy kon eerder vir hom ‘n saamgeleentheid gegee het, maar toe ry hy hom eerder dood.
Ek het ook elke dag net so gevaarlike pad hier in Kemptonpark (verkeer) werk toe geloop. Die motors jaag by mens verby.
Sommige plekke is daar nie eens ‘n ordentelike sypaadjje gewees nie, en ek moes noodfedwonge op die skouer van die pad loop.
Daar was geen ander pad werk toe nie.

Blomme ·

Dis ń tragiese verhaal. Dis iemand se geliefde en dit is absoluut onaanvaarbaar dat die polisie die situasie so sleg hanteer het. Sterkte aan die familie.

Danie ·

Alhoewel ek simpatie het met die naasbestaandes dink ek dis n bietjie voortydig om nou al na n skuldige te verwys.
Die motorbestuurder het nie weggejaag soos in baie gevalle nie wat wys dat hy verantwoordelikheid aanvaar en hoogswaarskynlik nie iets het om weg te steek nie.
As voorbeeld, my motor het onlangs n voetganger met 2cm gemis nadat hy net skielik uit die padskouer gestap het. Sou ek ook die skuldige wees?
Miskien moet mens wag vir enige bewyse voordat vinger gewys word.

Tiptol ·

Hulle moes ten minste sy bloed getoets het….. Daai geleentheid is nou verby. Die polisie kon ten minste die naasbestaandes in kennis gestel het van die voorval. Nee wat, te veel goed wat van die begin af verkeerd hanteer is.

Elize ·

Het jy gerem toe jy die persoon gesien het? Die bestuurder van die voertuig het nie! Alhoewel die berig sê my boetie is in die middel van die pad doodgery is hy langs die pad op die eiland doodgery. Die klippe moes uit my boetie se gesig verwyder word en dis hoe my man en ander boetie hom moes gaan uitken. Met ñ vlenters gesig vol klippe. Ek praat nie eers van hoe sy lyf gelyk het nie en dit in ñ 60km zone. Sou jy van die pad af gery het om die persoon raak te ry? As jy die persoon sou raak ry, sou hulle jou bloed toets vir alcohol? Die bestuurder het my boetie dood gery en hulle mag blykbaar nie sy bloed getoets het nie! Sou jy wou hê dat jou familie op Facebook moes hoor van jou dood as die polisie al jou besonderhede gehad het? Ek is jammer as my bewoording nie reg is nie maar daai man het my boetie dood gery en het nie eers “Jammer” gesê nie! Niks gaan hom terug bring nie maar ñ lewe kan mos nie so min werd wees nie…

Charl ·

Doen weg met die sapd, stel privaat sekerheidsmaatskappye in diens van ons land, hulle doen al geruime tyd in elk geval hierdie onbevoegde lot se werk vir hulle, Jammer vir die ouens (blankes en nie-blankes) wat nog lojaal is en steeds ‘n passie vir hul werk het maar julle is ongelukkig ver in die minderheid.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.