Familie eis geregtigheid ná moord op sakevrou

Glenda Ndlanzi (28) is voor haar huis in Wierda Park, Centurion, doodgeskiet. (Foto: Facebook)

Familie en vriende van Glenda Ndlanzi (28), wat verlede maand voor haar huis in Friederichestraat, Wierda Park, doodgeskiet is, het met ʼn sosialemediaveldtog begin om geregtigheid vir die jong sakevrou se dood te eis.

Maroela Media het vroeër berig Ndlanzi, besturende direkteur van DRIP Footwear, is oorkant die Voortrekkerterrein in haar motor voor haar huis doodgeskiet. Glenda het by die hek gewag toe ʼn man by haar motorvenster verskyn en drie skote op haar gevuur het.

Glenda het op die toneel gesterf. Geen van haar besittings is in die aanval geneem nie.

Sowat drie weke ná haar moord is niemand boonop nog aangekeer nie.

Penny Ndlanzi, Glenda se jonger suster, sê sy was tot dusver nie juis beïndruk met vordering in die ondersoek nie. Speurders het die familie Dinsdag besoek en wag glo vir die uitslae van forensiese toetse.

“Ek het vir hulle gevra wat doen hulle dan terwyl hulle wag?”

Sy sê speurders het vandeesweek ook met ʼn buurman in die straat gesels. Penny sê egter hulle het geen notas geneem terwyl hulle met haar en haar familie, óf die buurman gesels het nie. “Miskien het ek net ʼn bietjie meer verwag.”

Penny sê haar ma, Thuli Mabel (67), sukkel om die gebeure te verwerk, nes die res van die familie.

“Ons probeer baklei vir geregtigheid, terwyl ons terselfdertyd genesing probeer vind.”

Penny sê haar ouer suster het veel eerder tuis gebly as wat sy gaan kuier het en het nie juis tyd gehad vir ʼn liefdeslewe nie. Dit is ook onduidelik of die voorval met haar werk verband hou, maar die familie vermoed nietemin dat Glenda waarskynlik in ʼn sluipmoordaanval dood is.

Haar geliefdes het intussen die veldtog #whokilledglenda van stapel gestuur in ʼn poging om meer druk op die owerhede te plaas sodat geregtigheid kan geskied, asook ʼn beroep op enige ooggetuies of diegene met inligting oor die saak te doen om na vore te kom.

“Eerlikwaar, dit was ʼn sluipmoord – en as iemand iets gesien het, moet hulle asseblief na die polisie gaan. Ons hoop ook die veldtog help om mense aan te moedig om dit te doen.”

Glenda sou op 8 Desember haar 29ste verjaardag gevier het. Die dag lê soos ʼn berg voor haar familie en Penny sê sy “wens ek kon net op daardie dag verdwyn”.

“Ons probeer genesing vind, maar dit is allermins maklik.”

Niemand is nog in verband met die moord op die jong sakevrou aangekeer nie. (Foto: Twitter)

ʼn Inwoner van die buurt waar Ndlanzi doodgeskiet is, het Vrydag aan Maroela Media gesê sy het self haar geslote kringtelevisiebeeldmateriaal gefynkam in ʼn poging om die polisie te probeer help. Sy sê talle inwoners van die buurt het kameras wat na die straat wys en volgens haar het die polisie nie veel moeite gedoen om enigsins van dié beeldmateriaal te bekom nie.

“Dit is asof niemand werklik omgee nie,” sê sy. “Hoe is dit moontlik dat nog niks met die ondersoek kon gebeur nie?”

ʼn Verklaring wat DRIP Footwear ná Glenda se moord uitgereik het, het gelui dat sy “instrumenteel in die vestiging, ontwikkeling en groei van die DRIP-handelsmerk was”. “Sy was die fondament, die rots en die anker van die DRIP-familie. Ons gaan haar geesdrif, toewyding en lojaliteit aan die handelsmerk geweldig mis.”

Die stigter van die maatskappy, Lekau Sehoana, het enkele dae later luidens berigte boonop gesê hy vrees ook vir sy lewe.

Die Gautengse polisie het met Maroela Media se vorige navraag geen kennis van die voorval gedra nie en het Vrydag ook nie op hernieude navrae oor vordering met die ondersoek gereageer nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Misky ·

Sterkte aan julle as familie en gaan vra gerus vir Cele wat aangaan met sy mense in diens en hoe vorder ballistiese en DNS toetse deesdae

Di ·

Sterkte aan die familie! Met die huidige regering is ons almal aan ons eie lot oorgelaat! Polisie stel GEENSINS belang om hulle werk te doen nie, net so useless soos hulle hoof CELE. Meeste van hulle het in elk geval nie die nodige kennis om die werk te doen waarvoor hulle aangestel is nie. Sit net in daardie pos om ‘n salaris te verdien en net nog ‘n pos te vul.

Swerwer ·

Dit is en bly verskriklik dat onskuldige mense se lewens deur gewetlose boewe geneem word en niks word daaraan gedoen nie. Waar is die Hoed met sy groot mond nou. Hy en die res van die ANC is verantwoordelik vir hierdie gemors in die land.

Vanessa ·

Sy lyk na ‘n dierbare mens. Wat gaan aan by die polisie dat niks aan sulke gevalle gedoen word nie. Het jy al ooit gedink wat jy sou doen as dit jou kind was.

Dan word ons vuurwapen lisensies ook nie goedgekeur nie, so hoe moet ons ons self beskerm, maar die misdadigers loop met ongelisensieerde vuurwapens rond en moor sovêr hulle gaan en word nie vasgetrek nie.

Mag God die wat agterbly die krag gee om weer hulle lewe te hervat na so tragiese gebeurtenis.

Ons bid vir julle

Shakespeare ·

As julle aanhou ANC/EFF stem dan sal julle NOOIT geregtigheid sien nie.

Danie ·

Hulle gaan gat oor kop te werk.
Voordat jy vra who, kry jy eers n antwoord op why.

Sarel ·

Net weer bewys dat misdasd us Ras & Geslagloos.
Hoeverl sg. ” sluipmoorde” is opgelos.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.