Familie ‘gebroke’ ná Kaapstad-kunstenaar se moord

Rosemary Theron

Rosemary Theron

Die oom van die Kaapstadse kunstenaar Rosemary Theron, wat in Maart 2013 deur haar dogter se vriend vermoor is, het Woensdag aan die Wes-Kaapse hooggeregshof vertel hoe groot impak haar dood op die familie gehad het en het die hof versoek om die moordenaar die maksimum vonnis op te lê.

Anthony Redelinghuys het getuig ter verswaring van omstandighede in die saak teen die 20-jarige Kyle Maspero. Maspero was 17 jaar oud toe hy saam met sy voormalige vriendin Phoenix Racing Cloud Theron, ʼn plan beraam het om Theron in die Clovelly-huis wat hulle almal gedeel het, te vermoor.

Die paartjie het met Rosemary gestry oor Phoenix se jonger sussie wat nie skool bygewoon het nie. Maspero en Phoenix het daarop aangedring dat die sussie by ʼn plaaslike skool ingeskryf word.

Volgens Maspero se pleitverduideliking het Phoenix later vir Rosemary ʼn drukkie gegee, toe Maspero vinnig ʼn tou om Rosemary se nek geglip en haar verwurg het. Hulle het Rosemary saam die huis ingesleep en vier minute afgetel totdat sy dood was.

Maspero het Rosemary in ʼn vlak graf begrawe en familie en vriende het vir die volgende agt maande na haar gesoek voordat Maspero die hulp van Godfrey Scheepers gevra het om die liggaam te skuif. Scheepers het gehelp om die liggaam te skuif, maar is later na die polisie wat tot die twee se inhegtenisneming gelei het.

Redelinghuys het aan die hof gesê toe Rosemary aanvanklik vermis geraak het, het hy vir sy suster (Rosemary se ma) in ʼn tehuis gesorg. Hy het gesê sy was opgewek en gelukkig, maar nadat haar dogter verdwyn het, het sy in ʼn erge depressie verval en moes in Stikland, ʼn psigiatriese inrigting, opgeneem word.

Hy het gesê haar gesondheid is tot so ʼn mate geaffekteer “dat sy ʼn been verloor het weens swak bloedsirkulasie, aangesien haar liggaam se vegmeganismes nie meer gewerk het nie”. Redelinghuys het gesê net twee weke nadat Rosemary gevind en begrawe is, het haar suster, Angelique, selfmoord gepleeg.

Angelique was platgeslaan deur die dood van haar suster en het selfmoord as die enigste uitweg gesien, het Redelinghuys gesê. Hy het gesê Maspero moet verantwoordelikheid neem vir die dood van Angelique “en al die ander harte wat ook dood is”.

Hy het aan die hof gesê Phoenix het verantwoordelikheid vir haar dade geneem terwyl Maspero nie dieselfde berou toon nie. Phoenix dien tans 15 jaar tronkstraf uit. Hy het gesê dat Phoenix se ouma nog nie by haar kleindogter in die tronk gaan kuier het nie, maar dat sy dit dalk eendag sal doen “wanneer die pyn minder is”.

Redelinghuys het ook vertel dat Rosemary ʼn paar dae voor haar dood haar tannie op ʼn strand raakgeloop het en dat sy aan haar vertel het dat sy baie bekommerd is oor Phoenix en Maspero en dat hulle met dwelms deurmekaar was.

William da Grass, Maspero se regsverteenwoordiger, het tydens Redelinghuys se kruisverhoor uitgewys dat hy en Rosemary vir drie jaar voor haar dood geen kontak met mekaar gehad het nie en dat hy haar jongste dogter eers by haar begrafnis ontmoet het.

Da Grass het gesê Rosemary se optrede teenoor haar familie kan net as “nalatig” beskryf word en dat volwassenes wat die disfunksionaliteit gesien het ook van die blaam moet kry. Hy het die hof aangemoedig om Maspero die ligste moontlike vonnis op te lê en het gesê aangesien Maspero ten tyde van die moord net 17 jaar oud was, moet die Kinderwet toegepas word wat beteken dat hy nie ʼn lewenslange vonnis opgelê kan word nie.

Germaine Fredericks, Maspero se borgtog-beampte, het aan die hof gesê dat Maspero en Phoenix saam dwelms gebruik het en mekaar nadelig beïnvloed het. Hy het ook gesê dat Maspero geen berou in enige van sy onderhoude met hom getoon het nie en dat hy ʼn swaar vonnis moet ontvang.

Regterpresident John Hlophe sal Woensdag die vonnisuitspraak lewer.

Lees alle vorige berigte oor Rosemary Theron se moord op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Ronnie ·

Absoluut tragies!
Maar heeltemal ter syde, hoekom is ‘n moreel bankrot mens soos John Hlope nog op die regsbank???

Francois le Cochon ·

Die familie is gebroke, maar hulle het vir jare lank niks gedoen oor die vermoorde Rosemary wat haar kinders verwaarloos het nie.

pop ·

Hierdie hele familie lyk vir my erg disfunksioneel. Maspero het tien teen een met die cloud kind deurmekaargeraak en dit was sy ondergang. Dis verby hartseer om te dink dat twee tieners toegelaat word om saam te woon. Skokkend.

Martin ·

Francois en Pop in watter era het ons groot geword? Die ding maak vir my ook nie sin nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.