Familie gebroke ná moord op ma, baba in Limpopo

Chantelle Ash en haar babadogtertjie, Tasneem. (Foto: Facebook)

Die familie van Chantelle Ash (20) en haar babadogtertjie, Tasneem, is geruk ná die moord op die twee verlede week.

“Hulle is gebroke,” het Martinette Lensley, Chantelle se niggie, Woensdag gesê.

Klein Tasneem sou die afgelope Sondag nege maande oud geword het. Pleks van ʼn verjaardag vier, word die twee nou Dinsdag saam in Pretoria begrawe. Weens die Covid-19-regulasies sal net die naaste familielede die begrafnis mag bywoon.

Lensley sê dit gaan in hierdie stadium glad nie goed met Chantelle se ma, Annie, en broer, Wayne, nie en dat hulle die gebeure moeilik verwerk. Hulle kry egter baie ondersteuning van familie en vriende.

Maroela Media het vroeër berig Chantelle en Tasneem se lyke is Donderdag in ʼn kamer van ʼn lodge in Limpopo aangetref. Volgens die polisie was hul hande agter hul rûe vasgebind en aanduidings is dat hulle verwurg is.

Die polisie is op soek na hierdie man om hulle met die ondersoek te help.

Ma en dogter en ʼn man wat oënskynlik aan hulle bekend was, is Dinsdag omstreeks 19:00 deur iemand in ʼn grys voertuig by die hek van die lodge op die R518 tussen Mokopane en die Marken-pad afgelaai. Hulle het volgens die polisie ʼn kamer vir oornagverblyf gehuur sonder om hul persoonlike besonderhede te verskaf en het die ontvangsklerk verseker dat hulle die volgende oggend sou vertrek.

ʼn Skoonmaker het Donderdagoggend op Chantelle en klein Tasneem se liggame afgekom. Van die man saam met hulle was daar geen spoor nie.

Die polisie is intussen steeds op soek na die man. Hulle het ʼn foto van hom beskikbaar gestel en mense gevra om met inligting na vore te kom oor waar hy hom moontlik bevind.

Kol. Moatshe Ngoepe, polisiewoordvoerder, het Woensdag ook bevestig geen inhegtenisnemings is nog gedoen nie.

Vriende en familie van Chantelle en Tasneem het intussen met ʼn geldinsameling begin om vir die begrafnisdiens te help betaal.

Annie Ash het in ʼn boodskap op Facebook geskryf haar dogter en kleindogter was albei ʼn ligpunt in die wêreld wat talle mense se lewe geraak het. “Hulle gaan geweldig gemis word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

JohanR ·

En Suid Afrika het nie meer die doodstraf nie…….net 1001 jaar in die tronk vir die ou en sy maats dankie belasting betalers!

Miskruier ·

Bly en vry by jou eie trop. Dis hartverskeurend om dié te lees.

Deon ·

‘n Oog vir ‘n Oog – en dan ‘n LEWE vir ‘n LEWE – bring terug die doodstraf. Wat het mense regte met die te doen as hy hul reg op lewe geneem het? Soos meeste goed in die wereld en Suid-Afrika pas mense wette en ooreenkomste toe na keuse en nie soos die intensie was nie.

Elize ·

Hierdie oor die grense gaan sal ek in hierdie lewe nooit verstaan nie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.