Familie geruk ná bejaarde se raaiseldood

Dollie Scriven. Foto: Verskaf

Die familie van die 82-jarige Dollie Scriven is in rou gedompel nadat haar seun Maandag op haar liggaam op ʼn plaas buite Pretoria afgekom het.

Scriven het buite die huis met haar gesig na onder gelê met talle hondebytmerke en stukke weefsel wat uit haar arms en bene geskeur is.

Anél Venter, een van Scriven se 12 kleinkinders, vertel Ouma Dollie, soos sy liefdevol na haar verwys, was ondanks haar hoë ouderdom altyd aan die gang, dikwels agter die kospotte of in die tuin aan die werskaf. Dit was ook die geval kort voordat sy deur haar seun, Willie Schoeman (55), dood aangetref is.

“Dit is asof my kop haar dood nog glad nie wil verwerk nie. Dit is te skielik, té gou. Wat gebeur het, is so verskriklik,” het Venter Maandag aan Maroela Media gesê.

Dollie Scriven by haar dogter, Nellie Greyvenstein. Foto: Verskaf

Volgens Venter het Scriven die afgelope jaar saam met Schoeman op die plaas gewoon waar hy werk. Schoeman is enkellopend en Scriven se man is jare gelede oorlede. Schoeman het twee honde wat saam met hom op die plaas woon, Daantjie en Sussie. Die twee honde word egter deur ʼn heining uit mekaar gehou aangesien hulle aggressief teenoor mekaar is.

“So paar weke gelede het Sussie vir Daantjie deur die heining gegryp en hom verskriklik gebyt. My oom [Schoeman] het ʼn tuinslang gebruik om die honde mee nat te spuit en moes hulle sommer met tuinslang slaan om hulle uit mekaar te kry,” sê Venter.

Sy vertel dat Schoeman daarna versigtig was om vir Sussie naby kinders toe te laat, maar dat die hond steeds, soos altyd, ʼn baie noue band met Scriven gehad het. “Ek het juis toe ek my ouma die naweek gesien het gevra of sy oukei is met die honde en sy het gesê sy en Sussie is beste maats en sy voel glad nie bang vir haar nie. Ons het altyd geskerts dat Sussie soos nog ʼn kind vir haar is.”

Venter sê die familie vermoed dat Scriven Maandag oudergewoonte die hoenders gaan water gee het kort voordat sy dood is. “Wat presies gebeur het, weet ons nie in dié stadium nie. My oom het omstreeks 12:45 by die huis gekom en vir Sussie onder die afdak sien sit. Sy was sopnat. Hy het om die huis gestap en na my ouma geroep met die hond wat vooruit gehardloop het. Dis toe dat hy vir ouma buite die huis sien lê het. Sussie het voor hom uit gehardloop en nog ʼn slag aan haar geruk.”

Schoeman het later gesê dat hy onmiddellik kon sien dat Scriven dood is.

“Die polisie se forensiese span het net na 14:00 daar aangekom en gesê hulle meen dat my ouma omtrent so twee ure van tevore gesterf het. Dit beteken dit moes gebeur het kort voordat my oom by die huis gekom het,” het Venter gesê.

Dollie Scriven by haar kleindogter, Anél Venter, en Venter se ma, Nellie Greyvenstein. Foto: Verskaf

“Die forensiese kenners het gesê vergeleke met die erge bytwonde aan haar liggaam was daar min bloed op die toneel. Dit laat die vermoede ontstaan dat sy reeds dood was toe die hond aan haar gebyt het en dat sy daarom min gebloei het. Dalk het sy ʼn hartaanval gekry en geval en het die hond haar daarna gebyt. Dalk het die feit dat sy die tuinslang in haar hand gehad het as ʼn sneller vir Sussie gedien en het sy haar aangeval en ouma het toe ʼn hartaanval gehad toe sy probeer wegkom. Dit is nou vir ons baie moeilik om te sê. Die nadoodse ondersoek sal hopelik vir ons meer antwoorde kan gee.”

Die hond is ná die voorval van kant gemaak.

“My oom is in ʼn toestand. Wat hy gesien het, was ʼn nare gesig. Die lykshuis het ons gister gebel om haar liggaam te gaan uitken, maar hy het nie kans gesien om haar weer so te sien nie. Een van sy sussies het dit gaan doen,” sê Venter.

Sy vertel hoewel die familie geruk is deur die omstandighede van Scriven se dood, is hulle dankbaar dat sy ʼn vol en vervulde lewe gehad het. “Sy het soveel lewenslus in haar gehad en het kans gesien om enigiets aan te pak. Sy het reuse-maaltye vir ons voorberei, ʼn groentetuin aangelê en heerlik gebak. Sy sou op haar knieë staan en die vloer skrop omdat dit deegliker is as ʼn mop. Sy was ongelooflik hardwerkend – ʼn eienskap wat sy aan haar kinders en ook haar kleinkinders oorgedra het.”

Dollie Scriven by haar twee dogters, Marthie Truter en Nellie Greyvenstein. Foto: Verskaf

Scriven het volgens Venter altyd heerlik met haar agterkleinkinders gespeel en sou sommer lawwe goed doen om die kleingoed te vermaak. Sy vertel haar ouma was ʼn omgee-mens wat selfs ná haar dood vir ander iets wou beteken. Daarom het Scriven ook ʼn ruk gelede vir haar familie gesê dat sy met haar afsterwe nie ʼn gedenkdiens of begrafnis wil hê nie, omdat dié geld eerder aangewend moet word om behoeftiges te help.

“Sy het vir my oom gesê die dag as sy dood is, moet hy al haar klere net so oppak en vir Huis Davidtsz vat nadat sy in die nuus gelees het van die mensies daar. Daarom gaan ons haar wense respekteer – sy sal veras word en die geld wat oorbly sal gaan vir iemand wat dit nodig het,” sê sy.

“Dit is ons laaste eer aan ouma Dollie, ʼn geliefde vrou van God wat ons soveel liefde gebied het.”

Scriven laat haar vier kinders Nellie Greyvenstein (65), Frikkie Schoeman (64), Marthie Truter (58) en Willie Schoeman (55), 12 kleinkinders en 17 agterkleinkinders agter.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Bronwn ·

Hoekom moes die hond van kant gemaak geword het???? Daar is nie eens bewys dat die honde haar doodgebyt het nie. Voel baie jmr vir die verlies van haar lewe maar genugtig, as die hond haar doodgebyt het was dit n ander saak

Michelle ·

Ek stem saam met jou Bronwn, dis verskriklik hartseer. Die hond het dalk aan haar gebyt om ‘n reaksie uit haar te kry toe hy agter kom iets is nie pluis nie. Mens sal nooit weet wat daar gebeur het nie.

IK ·

Nou waar kom die hondebytmerke en verskeurde weefsel vandaan? Moontlik was daar frustrasie met die ander hond en het die een saam met haar haar toe aangeval?

Regtig Bronwn! ·

Ag asseblief Bronwn!!!! Het jy nie die berig gelees nie??? Die hond was reeds ‘n gevaar vir alles om haar. Lees ook dan verder dat die tannie bytmerke op haar lyf gehad het. Moet nie kommentaar lewer indien jy nie die berig gelees het nie!!

Lientjie ·

Lees die 2de paragraaf daar staan duidelik dat sy talle hondbytmerke het en dat weefsel uit haar geruk is.

mari ·

Kan wees dat sy reeds dood was en die hond , of albei aan haar getrek het om haar te kry om op te staan. Dit het al gebeur.
Ste, saa, moes eers gewag het vir die uitslag. Op ander hand klink dit of die hond baie aggresief is. Miskien beter dus voor sy dalk wel iemand anders of selfs n kind aanval.

Tokkolos ·

Bronwn Regtig ek glo als dui daarop dat dit wel die hond was Ek is baie lief vir my honde Maar glo my as daar net n neiging is dat hul n mens gaan aanval dan is dit nou maar so

SNEL ·

Is dit nie so dat as n dier mensbloed geproe het hy van kant gemaak moet word nie? Hierdie was nie net n hap met merke nie, dis stukke uitgeruk. Seker is dit daaroor wat die hond moes uitgesit word.
So hartseer, hoop julle kry antwoorde en vind uit hoe dit gebeur het.

Oujongvrou ·

SNEL, jy praat nonsens as jy se n dier moet van kant gemaak word as hy mensbloed geproe het nie. My hond het al n paar oortreders gebyt en hys baie liefdevol teenoor my en my mense.

Yankee ·

Oujongvrou, mog dit nooit met jou geliefdes gebeur!! Jy gee geen insig, n vrou, n geliefde, n ouma, n MENS is verskeur!! En jy speel al dit af, net vir n wrede, waansinnige Pitboel!!

Yankee ·

En ook net. N byt is iewat anders as verskeur, geagte dame!!

Theresa B ·

Ek stem volkome saam met jou Bronwn. Dit is erg dat die tannie oorlede is en ek kan dink dit was iets vreesliks om op af te kom, maar die feit dat die hond haar gebyt het kan meer as een rede voor wees. Regtig, dit was onnodig. Arme diere moet ook altyd boet.

Hazeldean ·

Genade Bronw, Michelle en Theresa !! Julle het dringend hulp nodig….verdomp man, om gal te braak oor die brak wat uitgesit moes word… ‘n familie het hul geliefde moeder en ouma verloor. Plaas jouself in daardie situasie en dink dan of die dood van ‘n hond enige gewig dra?

antjie ·

Yankee waar kom jy nou aan Pitbull. Die berig het net melding gemaak van honde. Dit kon enige tipe hond gewees het, nie net pitbulle is aggresiewe honde nie,

Poppie ·

Tuinslang in die hand? Sopnat hond? Ek voel jammer vir die tannie en familie dat sy so moes sterf. Maar dit spel vir my net een ding uit: Die hond is om een of ander rede papnat gespuit, en dit duidelik nie gelike nie.

Elsa ·

Rus in vrede liewe tannie. ‘n Bejaarde vriendin van my is ook deur haar eie Jack Russel gebyt nadat sy flou geval het. Die hond het haar probeer wakker kry en die bytery het gemaak dat sy gouer bygekom het. Sy het wel agterna ‘n paar lelike bytplekke gehad, maar sy het ook geweet haar hond het probeer om haar wakker te kry. As mevrou Scriven gelewe het toe sy deur die hond aangeval is, sou daar baie bloed gewees het op die toneel en daar was nie. Ek is ook van mening dat sy dood was voordat sy gebyt is. Ek is jammer dat die hond vankant gemaak moes word, maar ek dink die risiko was net te groot om Sussie te behou. Sy was reeds agressief en ‘n risiko by kinders.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.