Familie getraumatiseerd ná kapers met gestremde kleuter wegjaag

Die kapers het die motor op die hoek van Main- en Bryanstonweg gelos. Foto: Google Maps

Die kapers het die motor op die hoek van Main- en Bryanstonweg gelos. Foto: Google Maps

Die familie van die tweejarige kleuter wat Dinsdag in ʼn motor agtergebly het toe kapers daarmee weggejaag het, is nog te getraumatiseerd om oor die voorval te praat.

André Snyman, stigter van die misdaadbekampingsorganisasie eBlockwatch, het aan Maroela Media gesê die gesin het versoek om nie met die media te praat nie omdat hulle nog erg getraumatiseerd is deur die voorval.

Volgens Snyman het Estelle Engelbrecht (56) omstreeks 14:00 met haar motor gery met haar kleinseun, Maxin Harvie, agter in sy motorstoeltjie vasgegespe. Hulle was op pad na ʼn gastehuis in Bryanston, Johannesburg, waar Maxin, wat serebraal gestremd is, terapie sou kry. Maxin se ma is tans in Nevada in die VSA waar sy opleiding ondergaan oor hoe om met serebraal gestremde kinders te werk.

Snyman het gesê Engelbrecht het voor die gastehuis stilgehou toe drie mans uit die bosse gekom en haar beveel het om uit die motor te klim. Hulle was met ʼn skêr gewapen. “Sy het uitgeklim en hulle gesmeek om die seuntjie vir haar te gee, maar hulle het net weggery,” het Snyman gesê. “Sy het voor die motor ingespring en probeer om hulle te keer, maar hulle het weggejaag en haar in die proses byna raakgery.”

Volgens Snyman het ʼn verbygaande motoris Engelbrecht opgelaai en hulle het die polisie en ʼn motoropsporingsmaatskappy gekry om die motor op te spoor.

“Intussen moes die kapers agtergekom het daar is ʼn kleuter in die motor, want hulle het ʼn paar kilometer verder op die hoek van Main- en Bryanstonweg die motor langs die straat parkeer, doodluiters uitgeklim en weggestap. ʼn Veiligheidswag het gesien hoe die mans wegstap van die motor, skynbaar sonder om dit te sluit, en hy het onraad vermoed,” het Snyman gesê.

Toe hy nader stap het hy gesien die kleuter is nog in die motor en dat die voertuig nie gesluit was nie. Hy kon die seuntjie uit die motor haal en verhoed dat hy ure lank in die hitte vasgekeer was.

“Dit is ʼn verskriklike ding wat gebeur het, maar so baie goed kon só verkeerd gegaan het. Dit is ʼn wonderwerk dat die kind ongedeerd is,” het Snyman gesê. Hy het gesê die gesin is baie dankbaar dat Maxin nie seergekry het nie.

Ao. Moses Makhaphela, woordvoerder van die polisie, het die voorval aan Maroela Media bevestig en gesê die drie verdagtes is steeds soek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Chantell ·

Ai ek Voel vir die familie gelukkig was kleuter okay dank ons Liewe Here en dis ook presies die rede hoekom my kind nooit agter sit nie

Hannie ·

Ek wonder baie keer, of die wereld daar buite besef in watter onmenslike, angs en spanningsvolle omgewing, die kinders van SA groot word! Stel jou voor, dat jy jou kinders heeltyd moet voorberei om versigtig en op hulle hoede te wees vir die skelms rondom hulle.

Landie ·

Ag genade tog, wanneer gaan ons nou ooit veilig wees in ons eie pragtige land!!!! Maar ons is so dankbaar dat die kleinding veilig gevind is!!! Dankie aan die veiligheidswag wat gedink het dat so ‘n klein mensie nie in ‘n warm kar kan bly nie!!!!

Sarel Strydom ·

Ek lewer nie graag kommentaar in hierdie gevalle nie want mense gaan hulle self soms te buite, maar dink. Hierdie mense het normaalweg geen gewete nie. die waarde van die motor is meer werd as die warde van ‘n mense lewe. Wat het hulle laat stil hou en wegstap? dink bietjie,was dit “Act of God”

Takkie Takuuza ·

Waar is daai een nou wat gister gesê het mens moet eers die pakkies in die motor sit en dan die kind. Lekker met jou eie afleidings loop “judge”.
Die engelse sê nie verniet dat “assuptions the mother of all f-ups” is nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.