Familie het hoop op arrestasie ná plaasaanval

Bets en Andrew Olivier (Foto: Verskaf)

Hoewel dit ʼn groot frustrasie is dat niemand nog in verband met die moord op Bets Olivier (65) in hegtenis geneem is nie, glo haar familie dat die moordenaars binnekort aangekeer sal word.

Dit is nou al meer as twee weke nadat Bets en haar man, Andrew (67), op hul plaas naby Olifantshoek in die Noord-Kaap aangeval is. Andrew is die volgende oggend in die veld gekry terwyl Bets se liggaam in die plaashuis aangetref is.

“Wat jy saai, sal jy maai. Dit is net ʼn kwessie van tyd voordat die skuldiges gevang word. Die Here is in beheer,” vertel Bets se dogter, Elsabe Lategan (49), van Lutzville in die Wes-Kaap.

Twee van die egpaar se plaaswerkers en hul huishulp word vir die aanval gesoek.

Kapt. Sergio Kock, polisiewoordvoerder, het Vrydag aan Maroela Media bevestig dat die verdagtes nog nie vasgetrek is nie. Interpol is ook intussen by die saak betrek.

Die verdagtes se foto’s word sedert die aanval wyd op sosiale media versprei.

Lategan glo die familie sal troos vind wanneer die verdagtes in hegtenis geneem word, omdat die “waarheid dan sal uitkom”.

“Ons sal dan hoor wat werklik met Mamma gebeur het. Ons het baie vrae in ons harte.”

Volgens Lategan herstel Andrew liggaamlik, maar die emosionele letsels is nog diep.

“Hy is baie hartseer oor Mamma se dood.”

Bets is verlede Saterdag ter ruste gelê (Foto: Verskaf)

Bets is verlede Saterdag op die egpaar se plaas ter ruste gelê.

Maroela Media het vroeër berig die egpaar se buurman het op 16 Augustus op Bets se liggaam in die badkamer afgekom. Sy was erg beseer en haar hande was agter haar rug vasgemaak.

Die buurman het agtergekom Andrew en sy bakkie is weg en het die polisie, plaaslike veiligheidsdienste en boere in die omgewing ontbied. ʼn Soektog is van stapel gestuur, waaronder ʼn hommeltuig wat in die lug opgestuur is.

Andrew is beseer in die veld aangetref. Hy was ook vasgebind, maar het daarin geslaag om homself los te maak. Hy het sedert die vorige aand, sedert die aanval, in die veld gelê.

Die bakkie is kort daarna sowat 2 km van die plaas af gevind.

Lategan het ʼn beroep op mense regoor Suid-Afrika gedoen om op die uitkyk te wees vir die verdagtes.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Jack ·

In die land kan jy nie meer die adder in jou midde vertroetel nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.