Familie het nie gedink hulle sou ‘sterk rugbyseun’ begrawe

Die gedenkmuur by die skool. (Foto: Facebook / Hoërskool Birchleigh: Muur van herinnering)

Die familie van Malatswa Kgasago het nooit gedink dat hulle dié sterk jong rugbyspeler van Kempton Park sou begrawe nie.

Malatswa, ʼn gr. 12-leerder aan die Hoërskool Birchleigh in die Oos-Rand, is een van twee leerders  wat Sondag tydens ʼn rugbytoer in Durban, KwaZulu-Natal, verdrink het toe hulle in die see geswem het. Die voorval het ook die lewe van Kamsi Ezeugo, ʼn gr. 10-leerder, geëis.

Malatswa se oom, Calvin Thobejane, het Donderdag aan Maroela Media gesê hoewel hulle hartseer is, aanvaar hulle dat dit deel van God se plan is.

Kamsi Ezeugo en Malatswa Kgasago. (Foto: Facebook / Hoërskool Birchleigh: Muur van herinnering)

Hy is nie seker wat presies gebeur het nie, maar glo dat lewensredders alles in hul vermoë gedoen het om die groep seuns uit die water te red.

“Al wat ons weet, is dat daar ʼn groot brander was. ʼn Hele paar seuns het in die moeilikheid beland en lewensredders moes hulle uit die water haal. Toe hulle almal agterna getel het, het hulle agtergekom twee seuns is nog weg.”

Onderwysers, reddingswerkers en plaaslike owerhede het onverpoos na die seuns gesoek voordat hul liggame die volgende dag sowat twee kilometer van die Durban-Noord-strand waar hulle vermis geraak het, ontdek is.

Thobejane het Malatswa se ouers Dinsdag na Durban vergesel waar hulle die seun se liggaam formeel uitgeken het. Daar sal na verwagting Woensdag ʼn gedenkdiens vir die seuns by die skool gehou word waarna Malatswa volgende Saterdag begrawe sal word.

Malatswa Kgasago. (Foto: Facebook / Hoërskool Birchleigh: Muur van herinnering)

“Dis maar deel van die lewe. As ons bymekaar is, huil ons, maar ons staan sterk wanneer ons met die plaaslike owerhede en ander mense praat.”

Hy lag wanneer hy aan sy broerskind terugdink.

“Daai kind kon darem maar vinnig hardloop. Hy het ons almal weggehol. En hy was verskriklik sterk. Ons het nooit gedink ons sou só ʼn sterk kind begrawe nie.”

ʼn Gedenkmuur met foto’s en blomme is intussen vir die leerders by die skool opgerig.

Rita Davidson het foto’s van die seuns en die muur gedeel en gesê dat hulle altyd onthou sal word.

“Rus in vrede, seuns. Die hemel het twee engele veels te vroeg bygekry,” het sy geskryf.

Die skool het Woensdagaand ook ʼn nagwaak gehou. Video’s hiervan is op sosiale media gedeel.

Posted by Rita Davidson on Wednesday, March 30, 2022

Kamsi se gesin kon nie vir kommentaar bereik word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

bfree ·

Dis my alma mater… watter ongelooflike hartseer… Ons dink aan die families, mnr Gloy (die Hoof) en elkeen wat se lewens geraak word.

Sjoe mens se hart pyn vir hulle!

Swerwer ·

Innige simpatie en meegevoel met die familie en naasbestaandes.

Annelize ·

Dis bitter, bitter hartseer, my hart gaan uit na die ouers toe.

Maar ek voel tog net, in die lig van hierdie gebeure dat ek die volgende moet se. Ek dink dit het hoog tyd geword dat die Onderwysdepartement swem as aktiwiteit op enige uitstappie, ongeag die kinders se ouderdomme, summier moet verbied.

Dis onmoontlik vir enige onderwyser of toesighouer om volle beheer en verantwoordelikheid in ‘n situasie te kan he waar daar ‘n redelike groep kinders in die water is.
Wie help jy eerste, wie red jy eerste as daar moeilikheid plaasvind? Kyk net wat het verlede jaar, of was dit reeds voorverlede jaar?, gebeur tydens ‘n ontgroeningskamp, waar daar ook kinders omgekom het in die water.

Ek self het nog ‘n kind op skool, en weier dat my kind op enige uitstappie gaan waar swem betrokke is, en my kind is ‘n sterk swemmer. Ek as ouer sal nie skroom om die departement te steun in ‘n verbod op swem aktiwiteite tydens uitstappies nie.

KatjieDeKat ·

Ai dis bitter hartseer. My innige simpatie aan die seuns se geliefdes.

Chantel ·

Dis bitter hartseer, my hart gaan uit aan hierdie familie. Sjoe, sterkte aan die ouers

Genis ·

Dis baie hartseer.. Een ding is gewis, die see is baie onvoorspelbaar, tot vir mense wat elke dag daar swem…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.