Familie ken Hennopsrivier-lyke uit: ‘Hulle was saggeaarde mense’

Piet en Evah Beetge. Foto: Verskaf

Piet en Evah Beetge. Foto: Verskaf

Die liggame van die man en vrou wat op 27 Desember in die Hennopsrivier in Centurion gevind is, is geïdentifiseer.

Piet Beetge (59) en Evah (49) se liggame is Dinsdag deur hul familie in die staatslykshuis uitgeken. Die polisie het sedert die liggame in die water gevind is, gespook om die identiteit van die persone te bepaal en het tot Dinsdag nog gewag op die uitslae van vingerafdrukke om die identiteit van die persone te probeer vasstel.

Christie Beetge, Piet se skoonsuster, het Vrydag aan Maroela Media gesê daar is soveel vrae rondom hul geliefdes se dood. “Ek en my man, Jan, het die berig op Maroela Media gesien van die twee liggame wat gevind is. Ons het natuurlik nie geweet dit is Piet en Evah nie, maar êrens diep binne het ons geweet iets is nie lekker nie. Ons het so snaakse gevoel gehad, amper ʼn sesde sintuig. Ek kan dit nie eintlik verduidelik nie.”

Christie het vertel dat Evah se dogter hulle op 27 Desember gekontak het om te sê Piet en Evah word vermis. “Sy het by die huis aangekom en haar ouers was nie daar nie. Hulle voertuie het nog daar gestaan, maar sy kon hulle nêrens kry nie. Hulle selfone het ook heeltyd oorgegaan na ʼn stemboodskap,” het sy gesê.

Jan het die Netcare Jakaranda Hospitaal gebel waar Piet as ʼn instandhoudingselektrisiën gewerk het en hulle het hom ingelig dat hy reeds met verlof was. “Ons het onsself probeer gerusstel dat hulle seker vir ʼn paar dae weg is, dalk na die Dinokeng-wildreservaat toe waar hulle gereeld gaan uitspan het en moontlik hul selfone se batterylaaiers agtergelaat het. Maar ons was die heeltyd onrustig en bekommerd oor waar hulle mag wees.”

Die hospitaal het Jan Dinsdag gebel om te vra of hy weet waar Piet is, aangesien hy terug moes wees by die werk. Jan is dadelik polisiestasie toe en het hospitale in die omgewing gebel op soek na sy broer. Die polisie het hom na die lykshuis verwys, waar hulle ʼn man se liggaam aan hom gewys het.

“Dit was Piet, maar Jan kon hom nie herken nie,” het Christie bygevoeg. “Ek dink sy verstand wóú hom nie herken nie. Dit was net te traumaties om sy broer só te sien. Hy was erg vermink.” Die egpaar is die volgende dag saam met Jan se suster terug na die lykshuis om weer na die liggaam te kyk en hulle het Piet toe herken. Hulle het ook Evah se liggaam uitgeken.

“Dit het amper nie soos hulle gelyk nie, want hulle het albei erge kopbeserings opgedoen. Piet se mond is ingeduik asof hy met iets geslaan is, dit was verskriklik ontstellend. Ek sal nooit daardie prentjie uit my kop kry nie,” het Christie gesê.

Volgens haar het die familie nog geen verduideliking wat met Piet en Evah gebeur het nie. “Hulle was al die afgelope vier jaar getroud en het in Capital Park gebly. Ek weet nie of hulle in hul huis oorval was of op ʼn ander plek nie. Hulle selfone, ‘n skootrekenaar en Evah se kamera word vermis, so dit wil voorkom asof hulle beroof is. Maar Evah het snaaks genoeg nog haar trouring aan haar vinger gehad. Ons weet nie wat gebeur het nie. Ons het so baie vrae.”

Sy het gesê ʼn forensiese span van die polisie was reeds by die huis om dit vir leidrade te fynkam en alle moontlikhede word ondersoek.

Christie het gesê Piet en Evah was albei baie saggeaarde mense wat baie lief was vir mekaar. “Hulle was nog net vier jaar getroud, maar al nege jaar saam. Evah was werklik ʼn deel van ons familie,” het sy gesê.

“Dit is veral vir my man baie swaar. Hy en sy broer was baie geheg aan mekaar en om hom te verloor en op só manier… ek weet nie of ons ooit weer sal kan slaap nie.”

ʼn Gedenkdiens vir Piet en Evah word Maandag om 10:00 in die Pneuma Life-kerk in Centurion gehou. Hulle sal privaat veras word.

Kapt. Augustinah Selepe, woordvoerder van die polisie, kon teen Vrydagoggend nog nie die identiteit van die oorledenes bevestig nie. Maroela Media wag op die polisie se kommentaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Annie ·

Sterkte aan die familie. Dit is deksels wreed om iemand se lewe te neen om hulle goed te wil steel! Mag ons Hemelse Vader hulle vergewe. Sterkte aan die dogter en familie!

DPJ ·

Dit is ‘n groot jamerte dat mens so aan die einde van jou lewe moet kom en al daardie onbeantwoorde vrae. Sal my gek maak.
Sterkte vir die familie en vriende mag julle ryke vertrosring vind in Christus Jesus.

Corrie ·

Hier is iets meer as die “ooglopende” selfoon roof aan die gang. Ek dink nie iemand wat roof gaan jou liggaam in die Hennops gooi nadat jy vermoor is nie. Okay, behalwe as hul dalk naby die rivier gestap het? Nogtans, sterkte vir die mense wat hul agterlaat. Hoop daar kan uitsluitsel kom vir julle.

Strandloper ·

Ek dink nie dit was net roof nie…….. Ek kry die gevoel dat hier iets anders aan die gang is. Dalk wou iemand hulle juis leed aandoen en doodmaak, omdat dit ‘n huwelik “oor die kleurgrens” was. Dit is vir my wonderlik dat hulle so lank saam was en gelukkig was. Maar iewers was daar dalk iemand wat dit nie kon of wou verwerk nie en het hulle wraak gesweer?

Waarom het hulle al die pad na die Hennopsrivier gery om van hulle liggame ontslae te raak? As dit roof was sou hulle mos die liggame in die huis gelos het?

Baie sterkte aan die familie wat hierdeur geraak word! Dit is bitter tragies en so onnodig!

chalene goosen ·

Dit was vir ons n groot skok om te verneem van hierdie twee geliefdes dat was kliente van ons dierbare mense R.I.P julle is op beter plek ons sal julle mis maar veraltyd in ons harte koester

johan ·

Ek was geweldig geskok toe ek vandsg die nuus ontvang van Piet en Eva. Hulle was in ons gemeente en 2 liewe mense. Het die Here geken en Hom met oorgawe gedien. Rus in vrede..Piet en Eva

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.