Familie krap kop oor bejaarde se raaiselmoord

Pats Truter. Foto: Verskaf/Lizelle Lotter Photography

Pats Truter. Foto: Verskaf/Lizelle Lotter Photography

Terwyl die polisie steeds op soek is na Pats Truter (79), wat Vrydag in haar huis in Mookgophong (Naboomspruit) vermoor is, se moordenaar, probeer haar familie die motief vir haar vreemde moord uitpluis.

Dr. Jan Truter, Pats se seun en dominee van die Nederduits Hervormde Kerk Letsitele, naby Tzaneen, het Maandag aan Maroela Media gesê roof was beslis nie die rede vir sy ma se moord nie. “Niks is uit haar huis gesteel nie, nie een enkele ding nie,” het Truter gesê. “Haar handsak het nog net so oor haar bed se kopstuk gehang, met al haar bankkaarte en ʼn bietjie kontant. Haar huis was netjies en silwerskoon, net soos dit altyd was.”

ʼn Buurman het Pats se liggaam Vrydag in haar motorhuis gevind. Haar hande was oor haar bors gevou en twee handdoeke en ʼn mat uit die huis is gebruik om haar liggaam te bedek. ʼn Dun nylontou, waarmee sy vermoedelik verwurg is, was nog om haar nek. Daar was geen tekens dat sy aangerand of andersins beseer is nie.

Pats het in Gholfpark, ʼn veiligheidswoonbuurt in die dorp, gewoon. Die polisie het vroeër gesê Gholfpark is ʼn aftree-oord, maar volgens Truter woon mense van alle ouderdomme in die buurt. “Sy en my pa het omtrent 15 jaar daar gewoon. My pa is in 2015 aan kanker oorlede en my ma het sedertdien alleen gewoon.” Hy sê sy ma was gelukkig met die buurt en enige misdaad was ongewoon.

“Haar buurvrou het Vrydag onraad vermoed toe my ma nie op haar WhatsApp-boodskap gereageer het nie en sy gesien het haar bottels water, wat altyd by haar huis afgelewer is, staan nog net so op die stoep. Sy het ʼn sleutel vir my ma se huis gehad en by die voordeur ingegaan en die water net binne neergesit, maar daar was geen teken van my ma nie,” het Truter gesê.

Die buurvrou het hom gebel om te sê sy is bekommerd en hy het haar gevra om te gaan kyk of sy ma se motor nog in die motorhuis staan. Die buurvrou se man, Fasie Greyling, het na gaan kyk en het op Pats se liggaam afgekom. “Fasie sê toe hy haar tone met die rooi naellak op sien, het hy besef dit is sy,” het hy gesê.

Pats Truter. Foto: Verskaf/Lizelle Lotter Photography

Pats Truter. Foto: Verskaf/Lizelle Lotter Photography

Volgens Truter het die polisie baie vinnig gereageer en dadelik die toneel afgesper om dit vir leidrade te fynkam. “Ek wil graag brig. James Espach en die res van die polisie se span loof vir die uitstaande manier waarop hulle die situasie hanteer het. ʼn Brigadier het ons dadelik gekontak om hul medelye oor te dra en daar was vinnig ʼn hele span speurders op die toneel. ʼn Span van die polisie se forensiese dienste het ook dadelik die toneel ondersoek en Saterdag teruggekeer om verder ondersoek in te stel. Hulle het hulle werklik uitstekend van hul taak gekwyt,” het Truter gesê.

Hy sê sy ma se skerp verstand en netjiese, georganiseerde geaardheid is selfs nou, ná haar dood sigbaar. “Die lêer wat sy vir my agtergelaat het om al haar sake te hanteer, is so georganiseerd en volledig. Elke ding is op sy plek. Dit maak die administratiewe dinge na haar dood net soveel makliker,” sê hy.

“Dit is hoe ek haar altyd sal onthou. Sy was fenomenaal slim, ʼn briljante vrou. Tot op die einde was haar verstand so skerp en haar geheue onverbeterlik. Jy kon nooit met haar stry nie, want sy kon altyd onthou presies wat jy gesê het, wanneer jy dit gesê het en sommer ook wat jy aangehad het toe jy dit gesê het. Werklik ʼn noemenswaardige vrou.”

Truter het gesê ʼn gedenkdiens vir Pats word Vrydag om 11:00 in die Nederduits Hervormde Kerk op Mookgophong gehou.

Pats word oorleef deur haar twee seuns, Jan en Ben Truter, asook ses kleinkinders en ses agterkleinkinders.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Kandas ·

So tragies en so onnodig. wat ‘n pragtige, statige ou dame.

Joe ·

Dit is uiters skokkend , tragies & hartseer …. so onnodig om ‘n geliefde te verloor …. hoe hanteer mens al die emosies, trane & hartseer ….
Baie sterkte aan die familie met die hartseer …

Gus.Dry ·

Elke dag lees en of hoor ons van moorde.dit kan mos nie so aangaan nie .

jaco ·

dis nie so vreemd dat niks gesteel is nie. soms word wit mense vermoor NET omdat hulle wit is. niks word gesteel nie en die toneel word andersins ongestoord gelaat. dis alles om die voorvadergeeste tevrede te stel dat die “wit gif” verwyder is vanaf die “indigenous Africans” se grond.

Eugene Kok ·

Wat ‘n tragiese verhaal wat afspeel in ‘n veiligheidsoord waar bejaardes hulle oudag vrede vind tot die die onheil insuipel en die duiwel sy saad saai oor ‘n wonderlike mens. Rus in vrede tannie Pats jou lewe saam met Jesus is volmaak sonder pyn en hartseer. Salute!!!!

Boet ·

So onnodig. Woorde kan nie alles beskryf wat julle vir my beteken het nie. Sterkte Ben, Jan en Familie met julle GROOT verlies

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.