Familie pleit vir gebede ná jong man spoorloos verdwyn

Stephen Nieuwoudt (19) het Sondag oënskynlik vermis geraak.

Opvolg: Soektog na skrander jong man eindig tragies

Die familie van ʼn jong man van Harrismith in die Vrystaat het mense Dinsdag gevra om saam te bid dat Stephen Nieuwoudt (19) veilig gevind word nadat hy Sondag spoorloos verdwyn het.

Die polisie het reeds met ʼn grootskaalse soektog na Nieuwoudt begin, wat onder meer die honde-eenheid insluit.

Brig. Motantsi Makhele, polisiewoordvoerder in die Vrystaat, het gesê Nieuwoudt het sy ouerhuis Sondag omstreeks 16:00 in ʼn wit Volkswagen Polo met die registrasienommer FBP 977 FS verlaat. Hy sou by ʼn vriend, Carlos da Silva, op ʼn plaas naby Verkykerskop gaan kuier het, het Makhele gesê.

Nieuwoudt se pa, ook Stephen, het Da Silva se ma die volgende dag op Harrismith gevra waar sy seun is. “Sy het gesê dat Stephen nooit op die plaas aangekom het nie,” het Makhele gesê.

(Skermgreep: Facebook)

Volgens die polisie is Nieuwoudt jr. se motor Dinsdag verlate naby Platberg opgespoor. “Stephen was nêrens in sig nie.”

Makhele het gesê die Platberg-omgewing word in hierdie stadium steeds gefynkam vir enige leidrade van die jong man.

Sy familie het Maandag op Facebook gevra dat mense saam bid dat hy gevind sal word.

Stephen het verlede jaar met ses onderskeidings aan die Hoërskool Witteberg in Harrismith gematrikuleer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Johnna ·

Dit is baie hartseer!dat so n skrander jongman sy lewe moet eindigMeegevoel aan sy ouers,familie en vriende.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.