Familie, polisie soek onverpoos na ontvoerde man (80)

Bill Dreyer (Foto: Verskaf)

ʼn Gautengse familie is rasend van bekommernis nadat die 80-jarige Bill Dreyer van Randvaal buite Alberton in dié provinsie Vrydagaand ontvoer en steeds vermis is.

Marius Whitehead, familie van Dreyer, sê hy is glo Vrydag net ná 15:00 van sy huis ontvoer.

Volgens Whitehead woon Dreyer op ʼn kleinhoewe saam met ander mense om nader aan sy kleinkinders te wees. Hy sê Dreyer was op pad om te ry toe hy by die hek oorrompel en ontvoer is.

“Die polisie meen hulle moes daar vir hom gewag het as ʼn mens kyk na bewyse soos die spore,” sê hy.

Volgens Whitehead het die verdagtes etlike ure met Dreyer rondgery voordat hulle geld uit sy rekening onttrek het vir brandstof en alkohol. Altesaam R5 000 was teen gisteraand uit sy rekening onttrek, maar die rekening is intussen bevries.

“Die buurtwag, die polisie en die mense by wie hy gebly het, is wonderlik – hy is steeds vermis en hulle soek nog onverpoos sedert sy verdwyning Vrydagmiddag. Die familie is rasend van bekommernis en ons het geen benul waar hy kan wees nie. Ons wil hom net weer veilig en by die huis hê.”

Dreyer ry met ʼn ligblou Mazda 323 2000-model. Die registrasienommer van die voertuig is NMC 050 GP.

Kapt. André de Jager, woordvoerder van die polisie, het bevestig dat ʼn vermistepersoon-saak aanhangig gemaak is. Enigeen met meer inligting word gevra om die Alberton-polisie te bel by 011 903 8205/6.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Leahim ·

Hoor net hoe absurd die oom is ontvoer, in die VSA sou die FBI die saak oorvat wat doen ons geniale polisie open n vermiste persoon saak ….net nog n bewys hoekom die misdaad so hoog is en n duidelike voorbeeld van die onbevoegdheid van die polisie en hierdie kom van n Kaptein wat n offisier is so wat kan ek meer sê.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.