Familie rou ná geliefde jong man se fratsdood

Dewald Prinsloo (18) (Foto: Verskaf)

Die geliefdes van ʼn skrander jong man is in rou gedompel nadat hy doodgeskok is toe hy die kragopwekker buite sy gesin se huis voor beurtkrag wou gereed kry.

Ondanks die reddingspogings van ʼn dokter en paramedici is Dewald Prinsloo (18), ʼn leerder van Komatipoort Akademie in Mpumalanga, verlede Sondag (2 April) omstreeks 23:00 dood verklaar, sowat twee ure nadat die voorval plaasgevind het.

Sy familie beskryf sy dood as ʼn tragiese fratsongeluk en sê dat hulle hom altyd as ʼn “sagmoedige reus met ʼn baie groot hart” sal onthou.

Dewald saam met sy ma, Monnique, sussie, Amber, en pa, Tinus. (Foto: Verskaf)

Dewald se geliefdes het Dinsdag by die United Church of Christ the King in Komatipoort van hom afskeid geneem.

Monique O’Reilly, Dewald se tannie, sê hy was ʼn baie spesiale kind wat altyd bereid was om te help.

“Hy het nooit teruggestaan vir goed nie, hy was altyd ʼn bok vir sports.”

O’Reilly sê Dewald was veral na aan sy sussie, Amber, wat aan Stargardt se siekte, ʼn genetiese oogtoestand wat siggestremdheid kan veroorsaak, ly.

“Hy was haar steunpilaar, maar so ook ons almal sʼn. Sy pa sê Dewald was nie net sy seun nie, maar sy beste pêl. Hy het diep spore in almal se harte getrap en mense se lewens aangeraak.”

‘Groter as die lewe’

Dewald was groot op KTM-veldfietsrenne. (Foto: Verskaf)

O’Reilly verduidelik dat Dewald, wat maar 1,2 kg by geboorte geweeg het, later in ʼn groot en sterk jong man ontwikkel het.

En net só was alles in sy lewe ook groot: sy persoonlikheid, talente, terggees. Sy drome en sy liefde vir alles en almal om hom, sê sy.

Dewald was ook uiters veelsydig.

“Hy wou baie graag ʼn boer geword het. Dit was sy droom om sy eie plaas te hê. Hy het bokke, hoenders en ganse gehad.

“Hy was ook mal oor visvang en was ʼn fenomenale rugbyspeler. Hy was groot op KTM-veldfietsrenne, ʼn lid van die Voortrekkers en baie ʼn bekwame jagter. Alles wat hy aangepak het, was altyd ʼn sukses.”

Dewald was lief vir visvang. (Foto: Verskaf)

Dié sukses, sê O’Reilly, kan ook aan sy mededingende gees toegeskryf word – ʼn eienskap wat hy beslis by sy ma, Monnique, en die O’Reilly-kant van die familie geërf het.

Hy was lief daarvoor om sy pa, Tinus, te terg wanneer hy hom in een of ander aktiwiteit klop.

O’Reilly sê Dewald was werklik geliefd onder sy familie – aan die Prinsloo‑ en O’Reilly‑kant – en was ʼn voorbeeld vir sy jonger niggies en nefies wat hom gedurig oral gevolg het.

“Hy was nooit te oud of te groot om saam met hulle te speel nie. Sy familie het vir hom die wêreld beteken.”

O’Reilly sê benewens sy familie laat Dewald ʼn leemte in die hele dorp agter; ʼn nalatenskap wat vir altyd sal voortleef. ʼn Seun wat nooit deur sy skool, gemeenskap, kennisse, vriende en familie vergeet sal word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Althes ·

My innige simpatie aan sy gesin in hierdie droewige tyd.
Hoeveel mense moet nog hul lewe verloor met ñ kragopwekker waarvan beurtkrag die oorsaak is?

Harley Davidson ·

Dit is die tweede keer dat ek lees van iemand wat dood is terwyl hulle naby ‘n krag opwekker was ,wat is die probleem is hulle maar net onveilig.

Lollapop ·

Sal ek ook graag wil weet aangesien my seun ook gedurende die tyd die kragopwekker gebruik om ons gesin uit te help

George ·

In my ervaring, is dit meestal agv swak koppeling. Mense koppel dit self.

Samuel ·

Dit is hartseer dat so ‘n mooi jong lewe op hierdie manier geneem moes word. Mag jy in vrede rus en sy familie berusting vind.

Alet ·

Baie sterkte. Mag julle Heilige Gees se vertroosting innig ervaar.

Skappie ·

Baie sterkte aan sy gesin. Mag onse Liewe Heer sy gesin, vriende en almal wat hom geken het styf in Sy arms vashou in hierdie moeilike tyd wat vir hulle voorle.

Nettie ·

Ek begin kragopwekkers vrees. Dis so ‘n verskriklike hartseer dinge wat met hierdie familie gebeur het. Mens het nie woorde nie. ‘n Dierbare jong man met sy lewe voor hom en soveel drome, en wat duidelik so geliefd en gewaardeer was deur sy familie. Hoe leeg gaan sy plek nie wees nie. Sterkte aan hulle almal. Mag God hulle dra deur hierdie tyd.

Boksombende ·

Sleep Eskom en die ANC hof toe hieroor. Hierdie sou nie gebeur het has hierdie patetiese parasiete nie in beheer was nie!

Sandra ·

My innige simpatie aan julle almal aan albei kante van die familie vir die groot verlies van die jong man.

Eugene ·

Ek blameer ramp-phosa en minister van elektriesiteit ramp-okpoga. Hulle fire de Ruyter maar beurtkrag is nou erger. Sterkte aan die famalie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.