Familie rou ná jong bestuurder vrou doodry

Michelle de Clerck. (Foto: Verskaf)

Net twee treë staan vir altyd tussen die geliefde Michelle de Clerck (37) en die middelmannetjie tussen twee dubbelbane in die hoofstraat van Saldanha.

De Clerck, wat nog eendag wou kinders hê en ʼn huisie op Paternoster koop, is Dinsdag 9 November net ná 19:35 deur ʼn 25-jarige bestuurder in ʼn wit Polo doodgery. Sy het die straat na haar motor oorkant die OK MiniMark oorgesteek, nadat sy vleis vir ʼn beurtkragbraai gekoop het.

Kapt. Tania Hellfrich, polisiewoordvoerder, het gesê dat De Clerck op slag dood is.

Ooggetuies beweer dat ʼn motor wat langs die Polo gery het van die toneel weggejaag het. Volgens Hellfrich kan die polisie, wat ʼn saak van strafbare manslag ondersoek, nog nie dié gerugte beaam nie.

Die verdagte is intussen in hegtenis geneem en verskyn op 5 April 2022 in die Vredenburg-landdroshof op ʼn klag van strafbare manslag.

De Clerck se jongste suster, Annelle Traut (31), vertel dat sy op die toneel gestaan en gewonder het hoe hulle deur hierdie verskriklike ding gaan kom, want De Clerck was almal se steunpilaar. “Ek het haar duidelik hoor sê: ‘Woman. You’ve got this’ en ‘Pull yourself towards yourself’, gunsteling-sêgoed waarmee sy almal altyd moed ingepraat het.”

Michelle de Clerck se ouers, Elmarie en André de Clerck, is verpletter ná haar dood. (Foto: Verskaf)

De Clerck se ouers, Elmarie en André de Clerck, is bekendes in Weskus-perdrykringe. Volgens Elmarie het haar middelkind, haar sonneblomkind, nooit ʼn dag laat verbygaan sonder om iets te kry om oor opgewonde te raak nie. Sy was ʼn ywerige fotograaf wat pragtige foto’s en video’s geneem het van elke lewensoomblik wat haar aangeraak het. Sy het ook die res van die familie se liefde vir perde gedeel, veral vir die vulletjies.

Kuier op die familiekleinhoewe sal nooit weer dieselfde wees vir De Clerck se susterskinders wat soos haar eie was nie. Jeandré (12), Ziaan (10), Xander (9) en Zané (7) sal onthou dat tannie Chellie met verjaarsdae vroeg uit die vere was om eerste koek en geskenke uit te deel. Hoewel sy op Saldanha gewoon het, was sy soveel moontlik by haar ouers en vriende op Paternoster.

Haar papegaai roep glo heeldag sedert haar dood: “Michelle! I love you”. Dis iets wat sy haar glo al maande lank probeer leer het.

Vir Chantelle le Roux (40), De Clerck se oudste suster van Middelburg, Mpumalanga, laat sy ʼn ongelooflike leemte, ʼn nalatenskap wat niemand ooit sal kan vul nie.

Project Maritime in Saldanha, waar De Clerck as ontvangsdame gewerk het, het ʼn groot foto van De Clerck in hul ontvangsgebied laat aanbring. Sosiale media is vol boodskappe van mense wat vertel hoe sy hul lewe aangeraak het.

Ooggetuies van die ongeluk word aangemoedig om die ondersoekbeampte in die saak by 022 714 8333/8308 te bel.

  • Liana Maasdorp (31) is op 2 Oktober op dieselfde pad, maar naby Vredenburg, doodgery. Die bestuurder (39) het hom oorgegee en het op 4 Oktober in die Vredenburg-landdroshof verskyn. Die saak is uitgestel vir verdere ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

27 Kommentare

SwartBees ·

Sê vir my ons bly in n land sonder wet en orde sonder om vir my te sê ons bly in n land sonder wet en orde.

Jammer dame, die lands regeerders het jou gevaal. Innige meegevoel aan die familie en vriende. Rus in vrede.

Wandie ·

Stem saam SwartBees
Die wat so maklik lisensies koop, ken natuurlik nie die padreëls nie.

thejudge ·

Padreëls geld tog vir bestuurders èn voetgangers? Jay walking…

SwartBees ·

Toe daar wet on orde was het jy polisie en verkeers beamptes orals gesien…..niemand sou waag om te jaag nie. Wanneer laas het jy actually 60kmp in n 60 zone gery? (ek self is skuldig op die ene)

Francois ·

Piet so 10 jaar gelede was hier feitlik permanent by die eerste 60km/u bordjie aan alle kante van Potch waar jy die dorp inkom en sommer tussen-in, spoedlokvalle en 99% van die motoriste wat die dorp binnegekom het en binne die dorp ry , het geweet n kaartjie is jou voorland en het hulle spoed verminder wanneer hulle daardie bordjie gesien het. Nou sien mens feitlik nooit verkeerskonstabels nie, behalwe as hulle by dieselfde ingange op hulle selfone speletjies speel of boodskappe stuur, terwyl motors en yslike vragmotors voor hulle neuse die dorp binne en dwarsdeur jaag en hoe meer rooi verkeersligte hulle kan “skip” hoe vinniger is hulle deur die dorp. Die verkeersligte en lamppale ib Potch gaan lê al self plat wanneer studente terugkom van vakansie af. Hoekom? Want niemand respekteer die volgende persoon nie en het geen vrees vir gesag van regering en owerhede meer nie.

Matewis ·

Dit is baie jammer dat ‘n dame haar lewe verloor het, maar as voetganger moes sy dalk eerder by ‘n robot of kruisings oorgesteek het. Ons weet nie of die bestuurder nie die reëls gevolg het nie óf dalk was dit regtig net ‘n ongeluk gewees. Daardie jong bestuurder sal altyd met die wete leef dat hy iemand se dood veroorsaak het en die familie sal altyd sonder hul geliefde wees. Die punt is, ons kan nie oordeel of net aanneem wie skuldig is of dan nie. Baie sterkte aan die families.

Swerwer ·

Innige simpatie en meegevoel aan Michelle se ouers,familie en vriende.

Blikke ·

Hoekom eers op 5 April….en hoekom word al die sake uitgestel? Skokkend hartseer!!!!

Blikke ·

Is vyf en n half maande genoeg vir n ondersoek? Dis pateties om die minste te se….

Maggies ·

Innige meegevoel met familie en naasbestaandes.
Wonder net hoe vinnig die padvarke in die woongebied moes jaag om die pragtige mensie bykans ‘n straatblok vêr te slinger.
Buiten sy tronkstrafoet hy eintlik nooit weer toegelaat word om te bestuur nie.

tweeling ·

Klink vir my na ‘n straat waar ruimte vir spoedwalle is.

Skappie ·

So jammer om te hoor van Michelle. Mag onse Liewe Jesus die gesin, familie en vriende styf in Sy arms vashou in hierdie moeilike tyd wat vir hulle voorle.

Annelize ·

Alhoewel ek jare laas in daardie omgewing was ken ek daardie pad. Mense is lief daarvoor om voet in die hoek daar te ry. Geen agting vir enige padreels of regulasies nie, soos dit maar in die res van SA gaan.

Toy ·

Mense moet op hou jaag, as hulle wil jaag, gaan doen dit op ‘n renbaan, nou is iemand se geliefde weg deur ‘n roekelose mens wat net aan homself gedink het op daai oomblik.

Mariaan ·

Wat n spoed moes hy nie gery het nie! Skokkend…en hoekom? TREURIGE wette vir swak bestuurders….nee wat…ons verlore in hierdie land…in n geval soos die is dit moord…nie n ongeluk nie!

Excalibur ·

Waar is die Metro Polisie en/of Verkeerspolisie?? Daar is ‘n Supermark met parkering aan beide kante van ‘n publieke straat wat risiko’s behels vir motorbestuurders en voetgangers. Beide wetstoepassing organisasies behoort as onderwerp spesialis kenners die dorpsraad aan te beveel het om ‘n veilige voetoorgang wat deur verkeersligte beheer word daar te stel…Nou moes ‘n voetganger en medelandsburger eers met haar lewe boet (maak nie saak of sy ‘n kans gevat en of die bestuurder te vinnig gery het nie) voor daar iets daaraan gedoen kan word. Dorpsraad doen jul plig om jul gemeenskap te beskerm!

Pieter ·

Daar is mense wat dink Saldanha se hoofstraat is ‘n renbaan. Selfs gedurende vlak 5 van die inperking kon ‘n mens van tyd tot tyd in die nag hoor hoe voertuie teen hoë spoed verby diè area jaag.

Antonk ·

Hulle het resies gejaag.Nou kla hulle hom aan vir strafbare manslag.Nee dis moord.

Christine ·

Daar moet dringend spoedblokke aangebring word in daai straat om hierdie spoedvrate te stuit. Inteendeel, moes dit al gedoen word lank voordat ‘n onskuldige vir haar lewe moes boet. Munisipale bestuurders moet voorkomend optree, hulle verdien nie verniet daai vet pakkette om net rond te sit nie.

Shakespeare ·

Jy verwag hopeloos te veel vd kader Mun. bestuurders. Hulle het net een doel waarna hulle moet streef, en dit is, maak jou sakke vol en vergeet vd res.

Saartjie ·

Sedert Frederick Prins in Desember 1967 vir Denise & Myrtle Darvall op die middelmannetjie in Main Road, Soutrivier raakgery het, het ek ietwat van ‘n vrees om naby die padoppervlak te staan en wag terwyl motors by my verbyry. Vir diegene van julle wat nie die storie ken of onthou nie: Frederick Prins was dronk agter die stuurwiel van sy motor op pad huis toe. Denise en haar ma het gestop om te gaan koek koop by ‘n spesialisbakkery. Myrtle is op slag dood. Denise is later in Groote Schuur Hospitaal breindood verklaar. Edward Darvall en sy seun het in die motor gesit en die ongeluk aanskou. Alhoewel hulle doodgewone voorstedelike mense was, het hulle wêreldwyd voorbladnuus gehaal, want Mnr Darvall het toestemming gegee dat Denise se hart en niere oorgeplant mag word. Nieroorplantings was destyds algemeen, maar dit was die eerste hartoorplanting ter wêreld. Die ontvanger, Louis Washkansky, het vir 18 dae na die operasie gelewe.

RIV Michelle de Clerck.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.