Familie rou na soveelste kind weens bendegeweld sterf

Emaan Solomans (Foto: Facebook)

“Weet jy hoe dit voel om jouself aan die slaap te huil, en weer die volgende dag op te staan en verder te huil?”

So vra ʼn gebroke Azmir Oosthuizen, pa van die sewejarige Emaan Solomons wat in Ocean View in die Wes-Kaap dood is nadat sy in haar familie se voortuin in bendes se kruisvuur beland het. Hy het Vrydag met Maroela Media gesels.

“Voor skool het ek haar hare geborsel en haar gesig gewas. Om dan jou kind daar te sien lê … Ek kan nie die pyn beskryf nie. Dit is asof my siel uitgeruk is,” sê Oosthuizen.

Maroela Media het ook vroeër berig dat twee verdagtes in verband met die skietdood van Emaan Vrydag in Simonstad in die hof verskyn het. Die saak kom weer op 6 Maart voor vir ʼn formele borgtogaansoek. Die mans bly tot dan in aanhouding.

“Sy sal altyd ons prinsessie bly,” sê Ronnie Solomons (57), Emaan se oupa.

Solomons het met Maroela Media gesels kort voor Emaan se begrafnis in Simonstad Donderdagmiddag.

Die plek waar Emaan Solomons doodgskiet is. (Foto: Eunice Stoltz)

“Sy was ʼn liefdevolle kind en het presies geweet wat sy eendag wil word: ʼn beautician [skoonheidsdeskundige] en hairdresser [haarkapper]”.

Volgens Solomons wou sy kleindogter, ʼn gr. 2-leerling aan Kleinberg Primêre Skool, altyd almal soos prinsesse laat lyk.

Emaan laat twee boeties agter, Tahir (10) en Redar (4).

“Ek hoop die skool gee vir hom [Tahir] berading, hy hanteer dit baie moeilik. Die jongste enetjie verstaan nog nie en wil elke nou en dan weet wanneer kom Emaan terug.”

Hy sê as oupa is hy stukkend na haar dood, maar probeer sterk bly vir sy kinders.

“Dit is nie net Emaan se lewe wat geneem is nie. Hoeveel kinders is al dood van hierdie verkeerdhede reg oor die Wes-Kaap?” vra Solomons.

“As die polisie net meer sigbaar in die gemeenskap sal wees. Dis net wreed wat hier gebeur. Maar dit is hulle [bendes] terrein. Niemand kan iets doen nie. Hulle kom net weer weg daarmee.”

Die gedenkmuur vir Emaan Solomons buite haar huis in Ocean View. (Foto: Eunice Stoltz)

Hy erken egter dat nie net die polisie die oplossing tot die probleem is nie en doen ʼn beroep op ouers: “wees net lief vir julle kinders en hou hulle bymekaar”.

Emaan se skietdood is nie die enigste bendeverwante sterfte die afgelope week nie. Op dieselfde dag is ʼn 31-jarige man se liggaam met skietwonde ʼn klipgooi weg van die Solomons se huis gevind. ʼn Dag later is ʼn swanger vrou in Bonteheuwel op die Kaapse Vlakte doodgeskiet.

Intussen sê inwoners van Ocean View struwelinge om grondgebied tussen die bende Junky Funky Kids (JFK’s) en die Taylor-bende duur al langer as vier jaar voort.

Volgens Solomons ontvang sy familie ook nou dreigemente van die bendes nadat vier huise Woensdagaand met petrolbomme beskadig is. Solomons meen bendes in Ocean View verkwalik hulle vir die skielike sigbaarheid van polisiëring en wetstoepassers in die woonbuurt.

‘n Huis wat afgebrand is in Ocean View ná die dood van Emaan Solomons. (Foto: Eunice Stoltz)

Maroela Media het vroeër berig die polisie ondersoek ʼn saak van brandstigting nadat ʼn groep onbekende mans na bewering vier huise aan die brand gesteek het.

Die geweld het Woensdagaand uitgebreek nadat gemeenskapslede voor die Solomons se huis vir ʼn gebedsbyeenkoms bymekaar gekom het.

Een van die huiseienaars wie se huis totaal vernietig is, Tracey Matthews, sê hulle het die aanval net-net oorleef omdat hulle ʼn wenk ontvang het. Hy is egter ontsteld: “Ons huis is gebrand terwyl die Funkies [JFK] en die Taylors [bendes] se huise nog staan”.

Intussen is lede van die teenbende-eenheid, openbare-orde-polisie, nasionale ingrypingseenheid, asook wettoepassingseenhede (LEAP) van die Stad Kaapstad na Ocean View ontplooi om orde in die gebied te herstel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Johan Venter ·

Almal, elkeen van ons, léés hierdie berigte oor hier twee dogtertjies se dood, ook organisasies, menseregte aktiviste die ANC regering, élke politieke party, mens moet julle by die naam noem, by die strot gryp, ANC, DA, VF+, EFF (ja ook die EFF) én al die ander, alle gemeenskappe, laat die nagmerries blou op jul voorkoppe uitslaan omdat julle die kinders versaak, hulle die reg ontneem om die grootmenswêreld te betree en hul ideale te leef.

Rig ‘n standbeeld op vir hierdie twee, laat dit die land tot orde roep, jaarliks herdenk. Laat ons, met die president aan die voorpunt, elkeen hiervoor genoem, trou aan ons kinders en hul welstand sweer, elke dag.

Sit dan die woorde in dade om en doén iets daaraan!

Joe Olivier ·

Gaan die polisie regtig orde herstel? Miskien gaan hulle net monitor want in vier jaar en meer kon hulle niks regkry nie. Nie eers ( of veral nie) met die hulp van die sogenaamde weermag nie. Ek woon nie daar nie maar kan my indink wat die arme mense wat net n vreedsame bestaan wil voer elke dag moet deurgaan en tot dusver het die staat hulle gefaal.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.