Familie rou oor fietsman met groot hart

Gert Vermeulen se lewe het om fietsry gedraai [Foto: Gert Vermeulen, Facebook]

Gert Vermeulen (57) se twee groot passies in die lewe was om fiets te ry en die gemeenskap te dien. Hy het dié twee passies kombineer deur die afgelope ses jaar meer as 400 fietse aan minderbevoorregte kinders op die platteland uit te deel.

Toe word Vermeulen Saterdagoggend deur rowers doodgeskiet, voordat hulle sy fiets afgevat het.

Vermeulen het die oggend saam met sy buurman, Jannie Goosen en dié se seun, Ebert (12), in die Mnandi-kleinhoewe-omgewing in Centurion gaan fietsry. Volgens Vermeulen se vrou, Ineke (56), het dié drie gereeld saam fiets gery.

“Hulle ry gewoonlik in ’n groter groep, maar daardie oggend wou Gert en Jannie vroeër klaarmaak omdat hulle die res van die dag ander take gehad het wat hul aandag verg,” vertel Ineke.

Maroela Media het vroeër berig die drie is omstreeks 08:00 in die Copperleaf-omgewing buite Pretoria deur vyf onbekende mans oorval. Die verdagtes het skote op Vermeulen afgevuur en hom toe van sy fiets beroof. Vermeulen is op die toneel dood verklaar. Jannie en Ebert het ongedeerd van die voorval afgekom.

Volgens Ineke is nog niemand in hegtenis geneem nie.

“Dit was so onnodig. Gert was gesond en sou nes sy ouers – wat in hul 80’s en 90’s is – oud geword het. Een persoon het dié voorreg van hom weggevat.

Sy sê die realiteit dat Gert vermoor is, het eers Saterdagaand behoorlik ingesink. “Ek dra nie haat nie, maar ek wil nie die persoon sien wat dit gedoen het nie. Dit is wel vreesaanjaend om te dink ek staan dalk môre in die winkel en dié persoon staan langs my en koop en ’n brood.”

Gert Vermeulen en sy vrou, Ineke. (Foto: Facebook)

Vermeulen en Ineke was skoolliefdes. Hulle het in gr. 10 ontmoet en is as vriende saam matriekafskeid toe. Ses jaar later is hulle getroud en 33 jaar later is Gert vermoor.

Volgens Ineke was hy die beste man vir haar en pa vir hul twee seuns, Jean en Guillaume.

“Hy was ’n geduldige mens en het ’n rustigheid oor my gebring.”

Ineke sê Vermeulen se lewe het om fietsry gedraai. Dié liefde is verder aangevuur toe hy en sy jarelange kollega, Nicolai van der Merwe, sowat tien jaar gelede boesemvriende geraak het.

Vermeulen en Van der Merwe het saam vir die maatskappy EPI-Use gewerk. Vermeulen het as rekenaarkonsultant vir die maatskappy gewerk.

“Hulle het saam die liefde vir fietsry gedeel en sommer vinnig goeie vriende geraak.”

Fietse vir die armes

In 2015 het Vermeulen en Van der Merwe ’n nie-winsgewende projek genaamd #BIKES4ERP begin, waar hulle fietse gee aan kinders op die platteland wat meer as 10 km skool toe moet loop.

ERP staan vir Elephants, Rhinos and People en die projek fokus op die bewaring van olifante en renosters, asook die verligting van armoede onder mense op die platteland.

Vermeulen en Van der Merwe was aktief by dié projek betrokke.

“Hulle het afgeleë dele in die land geïdentifiseer waar matrikulante se uitslae sleg is omdat hulle nie skool toe gaan nie, omdat hulle daagliks 10 km of meer skool toe moet stap en nie ander vervoer het nie. Met #BIKES4ERP het Gert-hulle aan hierdie leerders fietse uitgedeel om mee skool toe te ry. Dit het ’n ongelooflike positiewe uitkoms gehad en die matriekslaagsyfer in dié gebiede het soms met tot 40% gestyg. Van die matrikulante het ná matriek hul fietse weer aan gr. 8-leerders oorhandig.”

Vermeulen was ook die projek se amptelike fotograaf en het ook foto’s geneem van die onthoring van renosters. Hy het ook saamgegaan wanneer olifante in Suid-Afrika en in buurlande hervestig is.

ʼn Taai man met ʼn sagte hart

Gert saam met sy twee seuns,: Jean [links] en Guillaume [regs] [Foto: Gert Vermeulen, Facebook]

Volgens Van der Merwe was Vermeulen ’n goeie mens met ʼn sagte hart.

“Hy het die taaiste liggaam gehad, maar die sagste hart. Hy het fietse uitgedeel aan kinders wat hy nie eers ken nie – en dit sê baie van sy hart,” sê Van der Merwe.

Behalwe dat Vermeulen lief was vir fotografie, het hy ook geskilder, tuin gemaak en was selfs tuis agter die kospotte. Hy was ook bekend vir sy kulkunstoertjies.

Volgens Vermeulen se skoonsuster, Jackie Bedeker, het Vermeulen sy lewe voluit geleef en het sy hande vir niks verkeerd gestaan nie.

“Hy was ’n energieke siel met baie talente. Daar was nie iets wat Gert nie kon doen nie,” vertel Bedeker.

Volgens Transvaal Voortrekkers se Facebook-blad was Vermeulen ook tussen 2005 en 2010 ’n kommandoleier van Sytze Wierda Voortrekkers.

Jean en Guillaume, die Vermeulens se twee seuns, woon tans albei oorsee. Jean is ’n rekenaarkonsultant in die VSA en werk ook by EPI-Use. Guillaume is ʼn forensiese rekenmeester in Malta.

“My pa was iemand wat altyd waardering en liefde vir die lewe gewys het. Hy het die lewe voluit geleef. Hy was ʼn held, ʼn rolmodel, ʼn mentor en pa vir baie,” vertel Jean.

Reëlings rondom Vermeulen se roudiens word nog gefinaliseer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Trotse Boervrou ·

Soveel simpatie met sy naasbestaandes. Hierdie breek ‘n mens se hart. Op die end het sy passie, sy liefde vir mense, sy opregte hart, sy dood gekos. Moet mens dan aangaan om om te gee of los mens dit net…

Kompas ·

So jammer! Nog ń sinnelose moord. My hart gaan uit aan die familie.

Johann ·

Gewetenlose vervloekte boosheid. Sal bakhand staan en vat wat uitgedeel word EN STEEDS moor en verwoes want hey hulle is deel van Ramaposa se “people” wat al vir meer as 25 jaar eerder sao vat en gryp en moor en verwoes as soos beskaafde mense funksioneer. NOG n statistiej vir Cele se hoed…..SHAME ON YOU!!!!!!!

Frederik C ·

Goeie man gewees. Maar daai gemeenskap dien, werk nie. Hulle waardeer niks en sien jou as dom omdat jy hom iets verniet gee. Sy moordenaar was defnitief bekend aan hom en booonop ontevrede met iets, wat hy hoogs waarskynlik present gekry het.

Maggies ·

Bittersoet berig hierdie.
So goeie mens verdien nie om so te sterf nie. Ek bid vir sy familielede en ek vra ons Hemelse Vader om hulle by te staan.
Maar in my ander asem bid ek dat hierdie moordenaars gevang en gestraf sal word.

Blomme ·

Dis so hartsverskeurend en so sinneloos! So jammer vir hierdie familie. ANC regering het regtig ons land in ń moeras verander. Geen wet en orde.

Kokerboom ·

Boosheid loop diep in ons mooi land. Baie sterkte aan familie
Hierdie is ‘n seer klap na alle goedbedoelde pogings van uitreiking

Waarnemer ·

Simpatie aan die familie.Dit is so hartseer om te aanskou dat diegene wat God se opdrag uitvoer…en na die armes omsien,juis deur die armes vermoor word.

Yvonne ·

Dit is so tragies…bitter om te verteer…daai fiets is nou seker gesmous vir n skamele paar rand

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.