Familie, skool rou ná jong direkteur se dood

Talle huldeblyke het ingestroom na HJ du Plessis se dood. (Foto: Facebook)

Tientalle boodskappe van medelye het ingestroom ná die dood van HJ du Plessis (25), ʼn direkteur verbonde aan die New Horizon College op Bethlehem in die Vrystaat.

Du Plessis is Maandagmiddag dood. Sy dood hou nie met Covid-19 verband nie.

Johnny Eyberg, Du Plessis se skoonpa en eienaar van die New Horizon College, sê die familie en skool is in rou gedompel.

Eyberg sê as direkteur was Du Plessis nou by die skool betrokke en het hy gehelp met onder andere sport en kultuurfunksies, asook terreinbestuur. Du Plessis was self ʼn kranige sportman wat deelgeneem het aan alles van rugby, tot boks en fietsry.

“Ons vat dit dag vir dag met die genade van Bo.

“My dogter het baie seer,” sê Eyberg oor sy dogter, Inili, Du Plessis se vrou.

Inili is ook aan die skool verbonde.

Du Plessis is oorspronklik van Namibië en die egpaar het mekaar in hul studentedae op Potchefstroom ontmoet.

ʼn Private gedenkdiens sal Saterdag op ʼn plaas buite die dorp gehou word op die dag wat Du Plessis sy 26ste verjaardag sou vier. Eyberg sê die diens sal ʼn viering van Du Plessis se lewe wees.

ʼn Seremonie is ook vroeër vandag by die skool vir Du Plessis gehou. Ballonne en duiwe is ter nagedagtenis aan hom losgelaat.

In ʼn gedenkboodskap op Facebook bestempel die skool Du Plessis as ʼn “sagmoedige reus”.

“Hy het ʼn sagte hart gehad en omgegee vir elke personeellid en leerder. Hy wou net die beste vir almal hê,” lui die boodskap.

“Jou tyd saam met ons was te kort. Jou aansteeklike lag sal by die skool gemis word. Jou nalatenskap leef voort.”

Talle van Du Plessis se vriende en geliefdes, asook lede van die skoolgemeenskap, het op sosiale media herinneringe aan hom gedeel en medelye met die jong man se familie betuig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Paul

Dis so hartseer.. maar die berig se dis nie covid verwant.. ons vergeet dat mense ook ander siektes en pyn het..

JM

Só hartseer, veral omdat hy nog so jonk was.

Skappie

Sterkte vir sy vrou en die res van sy gesin, en vriendekring vir dit wat nog vorentoe wag.