Familie soek antwoorde ná man in tref-en-trap sterf

Louis Dingle (Foto: Verskaf)

“Jy hoor altyd van hierdie dinge en nou gebeur dit met jou. Iemand wat jy liefhet, is net weg.”

ʼn Familie is op soek na antwoorde nadat ʼn man van Pretoria die afgelope naweek in ʼn tref-en-trap-voorval op die N1-snelweg gesterf het.

Louis Dingle (38) het verlede Vrydagmiddag vermis geraak nadat hy van sy werkplek huis toe gestap het. Later sou dit aan die lig kom dat Dingle in spitsverkeer op die snelweg doodgery is waarna die skuldige spoorloos verdwyn het.

Youranda Pretorius, Dingle se suster, het Dinsdag aan Maroela Media gesê haar skoonsuster het Vrydagaand laat weet dat haar broer nooit huis toe gekom het nie waarna die familie na hom begin soek het.

Daar was egter geen teken van hom nie en die soektog is Saterdagoggend voortgesit en Dingle is as vermis aangemeld. Toe bel ʼn polisiebeampte van die Villieria-polisiestasie later die dag met die ondenkbare nuus dat daar wel die vorige dag ʼn voorval op die snelweg plaasgevind het en dat die liggaam van ʼn man gevind is.

Die liggaam is as dié van Dingle geïdentifiseer waarna forensiese toetse later bevestig het dat hy in ʼn tref-en-trap op die N1-suid tussen die Zambesi- en die Stormvoëlafrit gesterf het. Dit is egter al inligting wat in dié stadium omtrent die voorval bekend is.

“Niemand het nog met inligting na vore gekom nie. Dit is onmoontlik dat niemand iets gesien het nie. Hy is op die N1 in spitsverkeer getref,” sê Pretorius.

“Dit is ontsaglik moeilik. Dit voel nog so onwerklik.”

Pretorius doen ʼn beroep op enigeen met inligting omtrent die voorval om dit by kol. Visagie by die Villieria-polisiestasie by 012 403 8600 aan te meld.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

26 Kommentare

Ines ·

Asseblief as iemand iets weet of iets gesien het, hoe klein ook al. Enige inligting is beter as niks.

Veronica ·

Weet nie of dit enigsins iets gaan beteken nie.
Ekt Vrydag middag laat teruggekeer huistoe op N1 Suid tussen zambesi en stormvoël toe ek n man met donker hare sien lê het op kant van snelweg heel links amper teen barrier met sy rug na die karre …. daar het n man by hom gestaan en ekt gesien n wit voertuig effens aftrek van baan om links stil te hou maar n entjie weg vorentoe van waar die man gelê het half op sy linker sy.
Ek het self gewonder of dit n voetganger is wat raakgery is en kon nie sien of dit noodlottig was nie want bane het vinnig beweeg al het ek probeer stadiger ry.
Dit was rondom 5uur se kant …as ek moet kan ek seker tyd nagaan op my etoll want ek was kort voor dit deur tolhekke
Maar ja ….daars beslis ander mense wat dit ook moes gesien het en of dut nou dieselfde persoon is waarvan berig word ….weet ek nie!

Valerie ·

Watter tipe mens ry iemand om (dood) en jaag dan weg? Dit is onmenslik.

Magda ·

Ons bly in n onmenslike wereld – hoop regitg dat iemand na vore sal kom. Baie sterkte aan sy Familie

Lizelda ·

Ek is so baie jammer vir julle verlies. Van stap id donkerte vroeg oggend, laat nag, oor besige paaie ken ek en my seun baie goed. Die karre wag nie en ry voor n mens in en in Pta is d meeste motoriste net baie vieslik.

???? ·

Baie hartseer en jammer oor sy geliefdes se trauma waardeur hulle moet werk.
Ek wonder net waarom op die snelweg – is die snelweg nie verbode vir voetgangers nie? Ek weet sommige huidige bevoordeeldes verontagsaam deesdae hierdie reël, maar sou hy die snelweg probeer oorsteek het/daarlangs geloop het? Daar is ´n baie goeie rede waarom voetgangers nie op snelweë toegelaat word nie.

Hansie ·

Vroeer jare was jy opgetel en selle toe gevat as hulle jou op die snelweg vang. Moes menigmaal ander roetes soek van Pretoria na die Vrystaat. Daardie jare was die mense darm die weermagmanne goedgesind en het jy nooit lank geloop nie. Maar gevaarlik vir n motoris om op die snelweg te stop.. Ja. Bly ek hoef dit nie vandag met al die onopgevoede bestuurders te doen nie. Sterkte aan die familie

Traantjie ·

My verloofde is ook in 2010 hier in Limpopo dood gery op die snelweg. Ook n tref en trap, blykbaar n trok gewees volgens n ooggetuie en die skuldige is tot vandag toe nog nie aangekeer nie. Onverklaarbaar het hy in die pad beland want sy kar was ver van die pad af waar hy stil gehou het. Dis bitter bitter seer en die vrae hou nooit op nie.

Ek hoop julle kry meer antwoorde as wat ek gekry het. Dit is loutere hel.

Sterkte vir julle en so jammer vir julle verlies.

Santjie ·

????? of hy nou ‘n voetganger was wat nie op die snelweg hoort of nie, gee dit nog steeds nie enige bestuurder die reg om hom raak te ry en weg te jaag nie. Dit was heel moontlik ook ‘n bestuurder wat op die geel streep gejaag het om VOOR te kom, want dis mos net sommige bestuurders wat huise het en haastig is om daar te kom.

Raad ·

Ek sien die saak is toegewsy aan n konstabel. Hier is raad – die SAPD moet baie vinnig soos in onmiddellik alle video materiaal in die hande kry van alle kameras weerskante v daardie stuk pad op die tolhekke op snelweg en afritte (Stormvoel, Zambesi afrit) asook tolhek voor die oobrug noord v Pta en die eerste tolhek op die N4 wes, asook tolhekke suid v N4 kruising met N1. Alle opnames tussen 15:00 en 18:00. Kyk deur alles en julle sal die beskadigde voertuig sien. Identifiseer sy reg no. 10 teen 1 het hy by n afrit afgegaan. Wag te lank en jul kans is verlore om hom te identifiseer. Voorkant, veral windskerm sal duidelike skade he. Spoor dan voertuig so gou doenlik op mbv Natis rekords.

LH ·

Baie dankie Raad! ek hoop regtig iemand kan jou antwoord voorlê aan die ondersoek beampte. Hopelik volg hy dit. As dit my seun of geliefde was, sou ek graag wou hê dat die skuldige verantwoordelik gehou word.
Baie sterkte aan die familie, mag hy in vrede rus.

Monica ·

Ek wou ook nou dieselfde voorstel,kar moet tog beskadig wees

wielie ·

Waarom loop op n snelweg, dis reeds gevaarlik met die vinnige verkeer en jaagende karre.
Baie sterkte en ek bid die skuldige se gewete maak hom/ haar dood.

Hendrik van George ·

Om te stap op die N1 gaan nie ‘n goeie uitkoms hê nie….

Leon ·

Die wet sê jy mag nie op ‘n snelweg loop nie. As hy op die snelweg geloop het, het hy sy eie dood gesoek. Dan wou hy selfmoord pleeg. Dit klink hard en lelik, maar dit is die feite. Daar is maniake op ons snelweë. Jy is nie eers veilig in ‘n motorkar nie, wat nog van as jy loop.
My simapatie aan die familie. Dit is hartseer.

Noel ·

@ Leon. Die man loop werk toe en terug, geen motor, die snelweg is die naaste reguit roete. Hy verdien n medalje, loop werk toe, miskien ver, maar hy werk, verdien nie om so tot n einde te kom nie, veroorsaak deur n padvark.

fish ·

Ek stem saam. My innige simpatie oor die saak maar ons almal weet jy mag nie op ‘n snelweg rond loop nie. ek sien ook gereeld mense wat wag vir ‘n lift op die snelweg. Ons almal weet dit is teen die wet en klaar.

monica ·

My innig simpatie met die gesin.. ek weet hoe dit voel. My man ook doodgery op N7- 14 jaar terug en niks het daarvan geword nie, net my lewe is verwoes, asook een van my kinders hy kan tot vandag toe nie sy pa se dood verwerk nie… . 28 jaar se lewe saam as gesin is verwoes, die vrae bly altyd daar en jy wat agterbly moet maar net aangaan… Maar ek glo die een wat dit gedoen het sal eendag vrae moet beantwoord.. die wiel draai….

schaun ·

Dit is regtig hartseer en sterkte aan die families, jy mag egter nie op n snelweg loop nie dit is teen die wet.

Anina ·

Daar behoort kameras te wees, kan gerus opvolg.. dis hartseer . Hoop iemand het iets gesien .

leser ·

@raad
al die raad help veel, kameras het waarskynlik niks gewerk nie of dit het gebeur waar geen kamera “sien” nie

Pensioenaris ·

Al my simpatie aan sy familie.Hy het teminste gewerk. vandag se lewe is moeilik, kon dalk nie n kar bekostig nie. Ek verstaan, mens is nie veronderstel om op die snelweg te loop nie, maar glo hy het geen ander uit weg gehad nie. Julle wat kritiseer , wees bly dat julle omstandighede beter is.

Sproete ·

Ek stem saam met pensioenaris….ken self van sukkel met niks geld….hy het dalk geen ander keuse gehad nie…aan al die mense wat so slim is….ken julle van sukkel sonder enige uitkoms..????bly liewer stil en sê dankie as jy nie nodig het om te wonder wat gaan van jou en gesin word nie..????

Annamien ·

Die saak word behartig deue die Villieria SAPS speurtak se bevelvoerder.
Villieria Speurtak is ñ 5* tak en hulle sal beslis hul beste gee vir die saak

Adri ·

Die gevaarlikste plek in Pretoria is 17h00 op die N1 te voet. Die karre is so opmekaar en die sig is daai tyd van die dag in die winter, maar bra swak. Ek dink jy kan iemand raakry en dit nie eens besef nie. Ek kry sy mense jammer maar dit was die verkeerde plek op die verkeerdste tyd om jouself te bevind.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.