Familie soek antwoorde ná moord op ma

Wilna Smit (53) se liggaam is op 16 Mei in haar huis ontdek. (Foto: Verskaf)

Die lewelose liggaam van Wilna Smit (53) is op 16 Mei in haar huis op Deneysville in die Vrystaat met merke aan haar gesig, bene en arms ontdek.

Volgens Denise Christie, Smit se dogter, het hulle aanvanklik gedink dat Smit dalk aan ’n hartaanval dood is, maar dit is later bevestig dat sy verwurg is.

“Ek en my ma gesels basies elke dag. Ek die Vrydagoggend (14 Mei) laas met haar gepraat en toe ek teen Sondag niks van haar hoor nie, het ek ’n familievriend wat daar naby woon gevra om te gaan kyk of alles oukei is.”

Volgens Christie het die familievriend niks vreemd opgemerk nie – Smit se bakkie was daar en dit het nie gelyk of daar ’n inbraak was nie. Hy kon haar egter nie in die hande kry nie.

Dis toe dat Christie en haar man, Gideon, van Springs in Gauteng af gery het om ondersoek in te stel.

“Wat op ons gewag het, was soos ’n nagmerrie. My ma het leweloos op die kombuisvloer gelê, haar arms en bene uitgestrek. Ons het eers gedink dat dit dalk ’n hartaanval of ander natuurlike oorsake kon wees.”

Denise Christie by haar ma, Wilna Smit en ouma, Hettie Oosthuizen. (Foto: Verskaf)

Sy het nooit gedink dat iemand haar ma, wat ten tyde van haar dood alleen gewoon het, leed sou aandoen nie.

Christie sê Gideon het die paniekknoppie van die alarmstelsel in die huis gedruk en hulle het ook die polisie en nooddienste ontbied.

“Ek het met ’n speurder van die Deneysville-polisiestasie op die toneel gepraat toe ons opgemerk het dat sy blou merke aan haar gewrigte en enkels het. Daar was ook ’n groot blou merk op haar regter sy en haar gesig.”

Christie sê haar ma se selfoon, wat altyd by haar was, sowel as die televisie en digitale video-opnemer van die kamerastelsel in Smit se kamer, was skoonveld.

“Behalwe vir dít kon ons niks anders opmerk wat gesteel is nie. Dit het ons hele prentjie verander en ons met soveel vrae gelos.

“Die nadoodse ondersoek wat op 18 Mei gedoen is, het bevestig dat my ma verwurg is.”

Volgens Christie word die saak tans ondersoek en is niemand nog in verband met Smit se moord in hegtenis geneem nie. Die polisie kon nie besonderhede oor die ondersoek bekend maak nie aangesien dit in ’n “sensitiewe stadium is”.

Die familie het sedertdien ’n Facebook-blad vir Smit gestig in die hoop om geregtigheid vir haar te kry. Hulle is tans ook in die proses om geld vir die huur van ’n private speurder in te samel.

“Ek kan nie toelaat dat hierdie moord ongesiens verbygaan en die skuldiges vryloop nie.

Wilna en Gert Smit. (Foto: Verskaf)

“Ons het ook gemoedsrus nodig en soek antwoorde op die vrae wat in ons koppe bly rondmaal”.

Smit word oorleef deur haar twee kinders, skoonseun en ‑dogter en kleinkinders. Haar man, Gert, is in 2019 in dieselfde huis aan ’n hartaanval oorlede.

“Dis nie regverdig nie. Sy was die liefdevolste mens en moes nie nou al gegaan het nie. Haar familie het haar so lief gehad en sy het ’n groot rol in ons almal se lewens gespeel.”

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Juls ·

Ek is NAAR vir die huidige stand van ons land. NAAAAAAARRRR!!!

Cherokee ·

En dit blyk dat die enigste medisyne daarvoor opgesluit lê in ‘n paspoort.

Perdeby ·

Dit is baie moeilik vir die familie om ‘n geliefde so vreed van hulle weg geneem is, maar hulle moet ook onthou hulle kan nie die SAPD verantwoordelik hou as hulle nie die skuldige vang nie. Hulle werk ook net op leidrade van die publiek en wat hulle op die toneel gevind het. Dit kan dalk iemand wees wat sy geken het. Nerens se hulle dat daar ingebreek is by die woning nie. Dit se vir my sy het dalk die persoon geken.

Wielspore ·

Dit is die polisie se verantwoordelikheid om wet en orde te handhaaf, by dit ingesluit is die ondersoek en vind van moordenaars.

Hendrik Marthinus ·

Stem saam, met jou Toetie
Bitter moeilike saak, die Arme Tannie het dalk die persoon geken
Hoop tog dat iemand iets gesien het wat dalk Saps Kan help met ondersoek

Ovelia ·

Eh ht nou nie veel vertroue in Dennysville se polisiestesie nie. Dis mos hulle wat di vrou ook sommer inhegtenis geneem ht
Sy ht niks verkeerd gedoen nie. Affrivorum help asb

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.