Familie soek na vermiste Kaapse sielkundige

Diane Nelson (Foto: Facebook)

Groot kommer heers oor die welstand van ʼn kliniese sielkundige van Kaapstad wie se verlate motor dié naweek in die Cecilia-woud in Constantia, aan die voet van Tafelberg, aangetref is.

Lt.kol. Andrè Traut, woordvoerder van die polisie, sê geliefdes van die 49-jarige Diane Nelson het haar by die Claremont-polisiestasie as vermis aangemeld.

Volgens Traut is Nelson glo laas op 23 Junie om 20:00 lewend gesien. “Die omstandighede rondom haar verdwyning word nog tans deur die polisie ondersoek,” sê hy.

Andy Wood van die Wilderness Search & Rescue-groep in dié stad sê ondersoekspanne het Cecilia-woud en die omliggende omgewing oor die naweek gefynkam, maar geen leidrade opgespoor nie.

Volgens Wood word die soektog Maandag verskerp met meer ondersoekspanne wat betrokke raak om na enige leidrade oor Nelson se verdwyning te soek.

Volgens die Pink Ladies-organisasie het Nelson ʼn donker top en ʼn grys broek gedra voordat sy verdwyn het. Sy is sowat 1.8 m lank, het ʼn medium liggaamsbou en ʼn tatoeëermerk aan haar gewrig.

Enigeen met meer inligting oor haar verdwyning word versoek om die Pink Ladies by 072 214 7439 te kontak. Die publiek word ook gevra om konst. Nkonki by 021 657 2243 of 079 894 1563 te kontak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.