Familie soek steeds antwoorde jaar ná vrou se dood

Jessica Yates sou hierdie jaar 25 jaar oud geword het (Foto: Verskaf)

Die suster van die 23-jarige Jessica Yates wat April verlede jaar dood in haar vriend se kamer in Klerksdorp, Noordwes, gevind is, sê sy is moedeloos om ná meer as ’n jaar nog nie te weet wat presies haar suster se dood veroorsaak het nie.

Die polisie het glo eers vier dae ná Yates se dood op haar liggaam afgekom. Haar liggaam het toe reeds begin ontbind.

Yates se suster, wat anoniem wil bly, vertel Yates het Donderdag 25 April 2019 op die bus in Kaapstad na Pretoria geklim om haar oupa se troue by te woon. Yates het glo die dag daarna (26 April) in Klerksdorp afgeklim.

“In Klerksdorp het sy met ’n ou vriend van haar kontak gemaak. Hy het haar by die busstop gekry,” vertel die suster.

Die suster vertel die polisie het eers vier dae ná Yates dood haar liggaam in dié vriend se kamer ontdek. Die vriend het nooit die dood aan die polisie gerapporteer nie.

“Die vriend het aan my gesê hy het nie dadelik haar dood aan die polisie gerapporteer nie omdat hy nie geweet het hoe om die situasie te hanteer nie en hy was glo bang dat al die vingers na hom sal wys. Hy sê hy het aanvanklik ook nie geweet sy is dood nie,” vertel die suster.

Die suster vertel ’n huismaat van die vriend het glo onraad begin vermoed toe hy Yates dae lank nie gesien het nie. “Die huismaat het haar die een dag op die bed sien lê en toe hy haar vier dae later in dieselfde posisie op die vriend se bed sien lê, het hy besef daar is fout. Hy het die huiseienaar daarvan verwittig en hulle het die polisie in kennis gestel,” vertel die suster.

Volgens sers. Amogelang Mabihi, woordvoerder van die Klerksdorp-polisie, het Yates en haar vriend die aand wat sy in Klerksdorp aangekom het, na ʼn kroeg uitgegaan. Hulle is daarna saam na dié vriend se huis toe. Volgens wat die vriend aan die polisie vertel het, het Yates op sy bed aan die slaap geraak.

“Toe die vriend die volgende oggend wakker word, het Yates nog steeds op die bed gelê presies waar hy haar die vorige aand gelos het. Toe hy die middag van die werk af kom, het sy nog steeds in dieselfde posisie gelê. Hy het begin bekommerd raak,” vertel Mabihi. Yates was toe reeds dood.

Mabihi sê hulle vermoed Yates het in haar slaap gesterf.

“Die saak word steeds ondersoek. Die ondersoekbeampte wag nog op die foto-album en die toksikologie-verslag van die laboratorium in Pretoria, sodat die dossier vir beslissing voor die hof gebring kan word,” bevestig Mabihi.

Yates se ouers is reeds oorlede en sy het voor haar dood by haar ouma in die Kaap gewoon.

Yates se suster sê sy kan nie berusting vind as sy nie weet wat presies met haar suster gebeur het nie. “Sonder enige antwoorde, kan ons nie hierdie hoofstuk afsluit nie,” sê die suster.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Antoinette ·

Baie jammer oor jou verlies. En antwoorde bly nogsteeds uitstaande. Vra vir advokaat Gerrie van Solidariteit / Agriforum om jou te help. Sien hulle help baie mense.

Thelsa ·

Liwe hemel. Na ‘n jaar en die Polisie kon nog hondhaaraf maak nie ?? Ek dink enige Studente-konstabel met ‘n sertfikaat vir skoolbywoning sal die saak lankal kon oplos.

Foefie ·

Dis hartseer. Sy het so pragtige glimlag op die foto. Moes ‘n baie aantreklike meisie gewees het. :-)

Pandora ·

My vriendin se ma is al amper 10 jaar terug in haar huis met ‘n byl doodgekap. Tot vandag toe weet hulle nie wie het haar vermoor nie. Dis so jammer dat mense nie kan berusting vind nie – baie jammer vir Yates se suster wat met hierdie las moet saamleef.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.