Familie speel nóg ‘n keer klaar met rowers

Een van die verdagtes wat doodgeskiet is. Foto: Verskaf

Een van die verdagtes wat doodgeskiet is. Foto: Verskaf

Eers het ʼn 19-jarige seun vroeër vanjaar hom en sy weduwee-ma teen aanvallers op hul kleinhoewe in Limpopo beskerm en ʼn verdagte doodgeskiet. Dinsdagoggend het drie van vyf verdagtes hulself teen sy oom se haelgeweer vasgeloop toe hulle ná ʼn beweerde huisbraak op die oom losgebrand het.

Die jongste voorval het omstreeks 03:30 op Steelpoort naby die laerskool afgespeel. Wayne Farmer (41), die bestuurder van Burgersfort Electrical and Plumbing, het in die vroeë oggendure wakker geword toe sy honde erg begin blaf het.

Farmer, ook ʼn wildboer en professionele jagter, het aan Maroela Media gesê sy bure is al ʼn paar dae uitstedig en hulle het hom gevra om na hul troeteldiere om te sien terwyl hulle weg is.

“Ek het gaan kyk wat my honde ontstel. Buite het ek my buurman se huisalarm gehoor. Ek is dadelik terug in my huis in om my haelgeweer uit die kluis te gaan haal,” het Farmer gesê. Toe hy in sy buurman se erf inkom, het die honde stil eenkant in ʼn hoek gesit. Later is vasgestel die honde is vergiftig.

Die tweede verdagte wat doodgeskiet is. Foto: Verskaf

Die tweede verdagte wat doodgeskiet is. Foto: Verskaf

“Ek het die huis stadig genader om te kyk wat aangaan. Toe ek om die hoek loer, staan daar een verdagte by ʼn oop venster wat hulle gebreek het. Die diefwering was oopgebuig.” Farmer het op die verdagte geskreeu en gevra wat hy daar soek. Die verdagte het dadelik laat spaander na die hoek van die erf waar dit donker was.

“Twee van sy makkers het skielik by die venster uitgespring en op my begin skiet. Ek het in hul rigting teruggeskiet. Nog twee verdagtes het toe by die venster uitgespring en op my geskiet. Ek het net vier patrone by my gehad. Nadat ek al vier rondes in hul rigting gevuur het, het ek in my huis in  gehardloop, die deure gesluit en die polisie gebel.” Farmer het toe nog nie geweet twee verdagtes is noodlottig gewond nie.

Intussen het die buurman se veiligheidmaatskappy op die alarm gereageer en beamptes van die Burgersfort-polisie was kort daarna op die toneel. Die polisie is eerste die huis in om hul ondersoek in te stel. Toe dit begin lig word, is Farmer omstreeks 05:20 in kennis gestel twee verdagtes se liggame is op die buurman se erf by die grensdraad aangetref. Albei verdagtes het vuurwapens in hul hande gehad.

“Twee van die bure se honde het kort daarna begin stuiptrekkings kry, braak en hul monde het geskuim. Ons het besef hulle is vergiftig en kon hulle darem betyds behandel sodat hulle nie vrek nie.”

Farmer het gesê hy is getraumatiseer deur die voorval, maar is darem nie tydens die skietery beseer nie. “Die Here se hand is groot. Hy het my beskerm,” het Farmer gesê.

Kol. Ronel Otto, provinsiale polisiewoordvoerder, het die voorval aan Maroela Media bevestig. “Ons kan bevestig dat twee verdagtes dood is. Die mans het nie identiteitsdokumente by hulle gehad nie en hul ouderdomme is onbekend. Ondersoek sal ingestel word om hul identiteit te bepaal,” het Otto gesê.

Otto het bygevoeg die vermoede bestaan dat nog een verdagte gewond is. Die drie wat ontsnap het, is nog soek. Die polisie is nog besig om vas te stel of enigiets uit die huis vermis word.

Volgens Otto is dit standaardprosedure om ʼn saak van moord te registreer waar verdagtes tydens ʼn voorval doodgeskiet word. Die senior staatsaanklaer sal dan besluit of daar teen die skieter opgetree moet word.

Sean Henry Bates (19) kort ná die aanval. Foto: Verskaf

Sean Henry Bates (19) kort ná die aanval. Foto: Verskaf

Intussen wag Farmer se niggie se seun, Sean Bates (19), nog om sy lot te hoor nadat hy in April vanjaar ʼn 30-jarige verdagte op hul kleinhoewe buite Polokwane (Pietersburg) geskiet het. Maroela Media het destyds berig Bates, ʼn tegnikus, en sy ma, Sandra, was op 9 April die oggend alleen op hul kleinhoewe in die Tweefontein-omgewing waar hulle al 11 jaar woon, toe twee mans hulle omstreeks 03:00 oorval het terwyl hulle geslaap het. Bates se pa is vier jaar gelede oorlede weens ʼn hartaneurisme.

Die mans het toegang tot die huis verkry deur die diefwering by die sitkamer oop te sny. Van daar is hulle na die kombuis waar een van hulle ʼn mes gevat het. Die ander man het ʼn hamer gehad. Bates het destyds aan Maroela Media gesê die verdagtes is eerste na sy kamer waar hulle sy kamerdeur met die hamer oopgeslaan het. Bates en sy ma het van die lawaai wakker geword en besef daar is moeilikheid.

“Dit het alles so vinnig gebeur. Ek het begin wakker word toe die mans my op my bed oorval het. Ek het op my rug gelê en hulle probeer afweer deur hulle te skop. Hulle het my oorweldig en ek het ophou terugbaklei.”

Een van die mans het Bates aangehou terwyl die ander sy kamer geplunder het. Sandra het haar intussen in haar slaapkamer toegesluit en begin skreeu, waarna die mans op haar afgestorm het. Dit het Bates genoeg tyd gegun om sy vuurwapen uit sy kluis te kry.

“Ek was in die gang op pad na my ma se kamer, toe een van die mans op my afstorm. Ek het ʼn waarskuwingskoot afgevuur, maar hy het steeds na my toe gekom. Ek het hom toe een keer in die bors geskiet. Dit het hom ook nie gestuit nie, waarna ek nog ʼn skoot afgevuur het,” het Bates verduidelik.

Albei mans het hom oorweldig en op sy bed vasgepen. Die verdagte met die mes het Bates op sy bed aangeval en begin steek. Bates het snywonde aan die agterkant van sy kop en op sy linkerelmboog opgedoen. “My ma het in daardie stadium op die een of ander wyse die mes uit die man se hande gekry. Hulle et toe my DVD-speler onder my televisie uit gegryp en my oor die kop begin slaan daarmee. Ek het nog ʼn skoot afgevuur waarna hulle weggehardloop het.”

Die verdagtes is by dieselfde venster uit as waardeur hulle toegang tot die huis verkry het. “Een van hulle het buite die huis inmekaargesak. Sy medepligtige het hom nog probeer help en so ’n paar meter ver gesleep, maar daarna agtergelaat en weggehardloop toe hy besef die man is dood.”

Dié verdagte het met Bates se skootrekenaar, beursie en tabletrekenaar weggekom. Bates is na ʼn nabygeleë hospitaal geneem waar hy sowat 22 steke aan sy kopwond en sewe steke aan sy elmboog moes kry. ʼn Saak van moord is teen Bates aanhangig gemaak.

Sandra het Dinsdag aan Maroela Media gesê haar seun is nog nie aangekla nie, maar alles is nog hangende by die senior staatsaanklaer om te besluit of hy uit selfverdediging opgetree het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

29 Kommentare

piet ·

Mooi. Bly altyd een stap voor met n wapen. Dis of sy lewe of joune……..

Riaan ·

Mooi so julle is altwee baie dapper veral die die 19 jarige nog so jonk maar duidelik laat jy nie met jou mors, jou pa sou baie trots op jou gewees het.

Peet Schabort ·

AGT MAANDE om ‘n besluit te neem in Bates se saak? Nee, nog geen besluit na agt maande. Volgens die berig is Bates ONSKULDIG. Selfs ek wat nie ‘n regsgeleerde se agterent is kan dit agterkom. Indien ek reg onthou is sy vuurwapen ook van hom weggeneem. Hy is dus nou ook ongewapen.
Wat ‘n gemors!! Hier sit meer hier agter om die saak te laat sloer. Hoop ek is verkeerd . . .

Realiteit ·

As dit by elke geleentheid gebeur is ONS land binnekort roof vry! Ek pleit wees almal so paraat…… Bewapen jou en beveilig JOU eiendom! Jou familie en eiendom is jou verantwoordelikheid en immers jou trots.

Karien ·

Ja nee wat! Ons is in n oorlog of mense dit nou wil erken of nie. En terugveg moet ons terugveg.

Daantjie Donderbos ·

Jesus het jul in altwee gevalle waarlik beskerm

Sandra ·

Kan nie glo na al die plaas moorde in ons land dat daar nog as iemand sy en di lewe van sy familie beskerm n lot het wat op hom wag nie. Wat soek hulle in die eerste plek gewapen op privaat eiendom. Hulle bepaal dan hulle eie lot deur te roof moor en te steel. Hoekom altyd die witman wil hang omdat hy vir voort bestaan baklei. Dis pleinweg belaglik. Hulle kry net waarvoor hulle soek.

Dee ·

Nie almal het so ‘n onbeholpe poging aangewend – party was slimmer.

rohan ·

Eerstens. wel gedaan, jy is n held wat jou ma ook beskerm het in die voorgeval.
Tweedens. die wet moet sy oë begin oopmaak op wat redelik en billike optreding is teenoor geweld op mense en huis inbrake, as jy slaap en n rower breek in jou huis in dan se EK dit is jou volle reg om tot die DOOD jou LEWE en die van jou GESIN te BESKERM. Punt en klaar.
Daar is deesdae te veel stories om die kriminele te beskerm, ek wens die regters in die howe wil ervaar wat nie op n klein hoewe of onder dorp of buite n sekuriteits kompleks woon , ervaar wat dit is as n rower met n geweer of mes op jou af storm of teen jou keel druk en dan gebruik jy geweld om jouself te beskerm , dan word jy aangekla vir moord? Nee ,
dinge moet reg gestel word in die land.
Die wet se dit is jou reg om te lewe.
Met ander woorde: as jou lewe ingedrang gestel word MAG jy optree om jou lewe te bespaar tot daar polisie of militere hulp opdaag om jou lewe te bespaar, nie opdaag nadat een van jou gesins lede dood geskiet of gesny is nie, die wet bepaal dat jy eerstens beskerm moet word nie die krimineel nie, dus sit dit die Reg in jou hande om jouself te beskerm todat jou lewe beskeremd is van enige aanval. Ons moet almal hierop aandring en op klemtoon lê, dat ons siek en sat is vir die huidige geweld , misdaad , moord, rooftog. op al ons mense in die land.
Ons wil in vrede en vriendelikheid lewe met vooruitsigte vir n beter lewe vir almal in die land ongeag wie jy is, en waar jy woon, respek vir almal, en almal repek vir mekaar.

ROHAN

regtig! ·

Rohan jy is absoluut reg, tyd datons almal begin saamstaan en baklei vir ons reg, hoe kan
kriminel meer reg as gewone burgers van die land hê!

regtig! ·

Wayne & Shaun, baie sterkte met al die emosionele stres van nou, ons bid saam dat die sake (wat net formaliteit is ) nie die hof bereik nie. Dankie dat jul die land van 3 kriminele gered het!!!!!!!! Julle het baie lewens gespaar en moet beslis ge-eer word daarvoor! Die wet makers moet bietjie in jul omgewing kom bly, dat hul voel hoe voel dit om in die nag so onseker en bang vir jou lewe te veg en dit op jou eie perseel en deur jou slaap! Kyk nou maar vir Zuma, die hele polisiemag en dit is deur die dag vir ‘n optog bang, hy moet voel hoe dit voel om as jy slaap oorval te word, hierdie optog is vrede en jy is soooo bang.

arie plaasboer ·

@ Rohan,
Hier is `n paar sake van belang:
1) Die grondwet stel dit onomwonde duidelik dat enige persoon geregtig is om homself, sy geliefdes en sy eiendom te beskerm met middele tot sy beskikking.
2) Self fverdediging vereis dat jy nie groter geweld mag gebruik as waarmee jy gedreig word nie (m.a.w. Jy mag nie iemand wat met `nmmes in sy hand sowat tien tree of so van jou af is met `n vuurwpen skiet nie – behalwe as jy genoegsame redes het om te vermoed dat jou lewe in gevaar is nie.
3) As enigiemand om 03h00 ongevraagd / ongenooid met `n gevaarlike wapen in sy hand in jou woning is, is dit te alle tye redelik dat jy kan aanvaar dat hy kwade bedoelinge het met die inwoners en hul eiendom. So `n persoon mag met groot geweld gekeer word solank dit binne die huis is. Hy het beslis nie in jou woning gekom omdat hy honger of dors is nie.
4) `n Dossier moet strafregtelik geopen word in elke geval waar `n onnatuurlike dood plaasgevind het. Dit beteken dat die saak strafregtelik ondersoek moet word , maar dit sal nie noodwendig beteken dat die eienaar van die woning aan moord skuldig gevind sal word nie.
Ek dra van ten minste twee gevalle kennis waar die sake spoedig afgehandel is en die eienaar onskuldig bevind is of dat die getuienis daarop gedui het dat hier `n saak van klaarblyklike selfverdediging ter sprake was.

Hendrik ·

En presies wat die nee-stemmers voorspel het, het gebeur.

rietrot ·

@Hendrik > Verstaan my baie mooi ek dra baie hartseer vir die mense wat hul familie en vriende verloor as gevolg van moord en roof en ander goed. My eie familie is immers ook geraak. Maar as jy glo jy is beter as ander oor ʼn besluit wat baie maar gemaak het uit vrees, dan is dit jou hart wat koud is en jou haat en gif wat jy wil versprei en dit net sodat jy die laaste sê kan hê? Ek voel jammer vir jou en ander wat so voel.

Schalk ·

Dit sal glad nie sleg wees om daagliks so n berig te lees nie.

Icy Jenkison ·

Ek is al oud en as ek aangeval word gaan ek beslis vir die keel met ernige weapen tot my beskikking

Winston ·

Dis nou n vroegtydige Kersgeskenk. Mooi gedaan julle manne.

Siek ·

Stem saam, ek word naar dat die kind nou moet ” hoor van sy lot” nadat hy hul net beskerm het teen terroriste barbare! En nou is die kind OOK ONTWAPEN!!?? Boos man BOOS!!! Siek plek die!!!

Eugene ·

As jou leier so is wat vermag mens. Daar is berskeie keer foto’s gepubliseer hoe die gereg sit en slaap op diens en die skelmersdale op sy besigste.

Johan ·

Ek voel die oomblik as daai vente n onwettige en verkeerde daad doen verbeur hy sy sogenaamde “menseregte”dan is hy n krimineel en moet as sodanig behandel word soos in Mexiko.dit kan nogal n verskil maak hier by ons.

Donovan ·

ek sal net laaik om te weet hoeveel van hierdie sogenaamde aanvallers dra rooi barette, want deesdae se huisrowe is meer moord as iets anders… sekerlik is daar meer waardevolle goed in jou huis as jou selfoon of jou lee beursie of jou labtop… word ons wol oor die oë getrek om te dink dit is huisrowe…

rietrot ·

Ek dink nie ʼn moorenaar vra of mens ja of nee gestem het nie maar die mense wil dit nou ʼn ding maak lyk dit my. Miskien is die een se lewe nou meer werd as ʼn ander een sin? Onthou mooi van waar die druk gekom het en wie daar agter gesit het. Die buiteland wou nie met ons speel daardie tye nie. Nie dat dit my traak nie dit was voor my tyd gewees, maar oppas vir verdeling dit waarborg mislukking. Die mense daardie tyd was tussen die duiwel en die diep blou see.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.