Familie stoei om SA’ner se oorskot van VSA te bring

Hennie Willemse is Saterdag in n ongeluk oorlede [Foto: Verskaf]

“Ons wil vir Hennie terugbring huis toe en hom hier vir oulaas groet.”

Só pleit die familie van Hennie Willemse (38), ’n Bloemfonteiner wat die afgelope naweek in Amerika in ’n motorongeluk oorlede is. Sy familie wil nou sy oorskot terugbring na Suid-Afrika, maar moet derduisende rande hiervoor opdok. Hulle probeer boonop om sin te maak van die omstandighede rakende sy ongeluk.

Hennie het die afgelope drie jaar op ’n plaas in Amerika gewerk.

Julie Willemse, Hennie se ma, vertel Hennie het Saterdag van Alapaha in Georgia na ’n plaas in Springfield, Illinois, gery. Hy het die afgelope drie jaar op die Dixon-gesin se plaas in Alapaha gewerk en sou nou op ’n nuwe plaas in Springfield begin werk het.

Alapaha en Springfield is sowat 1 323 km van mekaar geleë.

“Hy het Saterdag omstreeks 16:00 laat weet dat hy op die nuwe plaas aangekom het. ’n Suid-Afrikaanse man wat ook saam met Hennie op die plaas sou begin werk het, vertel Hennie het kort ná sy aankoms op die plaas winkel toe gery. Hy het nooit weer teruggekom nie,” vertel Julie.

Later sou sy geliefdes hoor Hennie se voertuig was in ’n ongeluk in Watts-straat in Springfield betrokke.

The State Journal-Register, ’n plaaslike koerant in Springfield, berig die ongeluk het sowat 1 km vanaf die plaas plaasgevind.

Volgens die koerant het Hennie se voertuig tydens die ongeluk ’n kragkabel getref. Met owerhede se aankoms op die toneel het die kabel bo-op die voertuig gelê.

“Die oorsaak van die ongeluk is nog onduidelik,” lui die berig.

Julie sê die familie het nog nie veel inligting oor die ongeluk nie en wag vir die nadoodse ondersoek.

Volgens Julie moet die familie eers $12 000 (ongeveer R180 000) betaal om Hennie se oorskot na Suid-Afrika terug te bring – geld wat hulle nie het nie.

Hennie werk al vir die afgelope 3 jaar op n plaas in Amerika [Foto: Verskaf]

Die proses om sy liggaam terug te stuur kan tot agt weke duur.

“Ons het drie jaar gelede R25 000 betaal om Hennie Amerika toe te stuur. Nou moet ons R180 000 opdok om hom in ’n kis terug te bring huis toe.

“Ons wil hom graag hier by die huis groet en vir oulaas by hom wees. Ons sal nooit kan afskeid neem as ons hom nie ordentlik kan groet nie.”

Een van Hennie se vriende, Willie Steenkamp, het ’n fondsinsameling van stapel gestuur om geld in te samel sodat Hennie se liggaam vir die volgende paar weke by die begrafnisondernemer in Amerika kan bly en dan eindelik na Suid-Afrika kan terugkeer.

Sowat $2 165 (R31 838) is tot dusver ingesamel.

Julie sê Steenkamp en Hennie het die afgelope drie jaar saam met nóg twee Suid-Afrikaners op die Dixons se plaas gewerk. Sy sê hulle was boesemvriende en ondersteun die familie ongelooflik sedert Hennie se dood.

Hennie word oorleef deur sy driejarige seun, Keegan, verloofde, Jacqueline Smith, ouers, Julie en Martin (Ossie) Willemse, broer, Andries (Seun) Willemse, en suster, Bianca Willemse.

Julie beskryf Hennie as ʼn wonderlike, liefdevolle mens. “Hy het uit sy pad gegaan om ander mense te help. Hy het ’n hart van goud gehad.”

“Hy was my stukkie perfeksie as ’n pappa, man en lewensmaat. Liefde onbeskryflik,” vertel Jacqueline.

Hennie se ouboet, Andries, vertel hy het “baie opgekyk” na sy broer.

“Hennie het ’n lus vir die lewe gehad en niks was ooit te veel vir hom nie. Hy was nie bang om ’n kans te waag nie. Hy het voluit geleef vir sy seun,” vertel Andries.

“Die lewe sonder jou, my boetie, gaan moeilik wees,” sê Bianca.

“Jy was my vriend, my seun, en ek was jou dad. Ek gaan jou baie, baie mis,” sê Martin.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Ria ·

Jy was ‘n wonderlike persoon Hennie. Rus sag. Jy gaan baie gemis word.

Tipper ·

Die lewe het duur geraak,wonder nou nadat ek die berig lees as iemand nou daaikant veras word en die as word die kant toe gestuur,wat dit sal kos,ek praat nie nou van die persoon nie,shipping van Amerika is geweldig duur.

LIEZL ·

of hulle kan dalk self Amerika toe gaan en gaan afskeid neem. Jammer vir jul verlies in hierdie moeilike tye.

Moedeloos ·

Ek het ook hieraan gedink miskien goedkoper en roudiens kan nogsteeds gedoen word om afskeid te neem

Hennie ·

Innige simpatie! As dit my kind was, sou ek hom laat veras, oorvlieg en die oorskot gaan haal. Dit behoort baie meer bekostigbaar te wees. Julle sal ook dan geleentheid kry om die boere daar te ontmoet vir wie jou seun so hard gewerk het. Sterkte, dis beslis nie maklik nie!

Alexander ·

Is ‘n mens se liggaam werklik oorskot? Hoe vreemd het ons nie begin dink nie.

VaalDonkie ·

Natuurlik. As jy glo mens het ‘n siel, en die siel is nie meer in die liggaam nie, dan is dit net oorskot. En as jy nie glo mens het ‘n siel nie, dan is daar nog steeds geen rede om aan die lyk te dink as enigiets meer as oorskot nie want die biologiese lewe is nie meer daar nie.

Toy ·

Dit is vreeslik hartseer, innige simpatie aan die familie en gesin.

Agge nee ·

Ai, dis so hartseer. ‘n Mens moet liewers maar die versekering uitneem dat as jy oorsee sou sterf, dan is die terugbring van jou liggaam verseker. Dit is nie so duur nie en kan die ouers / naasbestaandes ontsettend baie stress in hierdie reeds hartseer tyd spaar.

Meerkat7 ·

Begin ‘n fonds as daar ‘n finansiële behoefte bestaan. As 2000 persone R100 elk gee het hulle voldoende geld om Hennie se oorskot terug te bring.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.