Familie van Mooinooi-vroue soek steun

Joey van Niekerk en Anisha van Niekerk. Foto: Via Facebook

Joey en Anisha van Niekerk se geliefdes het ʼn beroep op die publiek gedoen om hulle Vrydag by die Brits-landdroshof te ondersteun waar drie verdagtes in verband met die vroue se raaiselagtige verdwyning sal verskyn.

Joey (32) en Anisha (30) is op 10 Desember omstreeks 07:30 vir die laaste keer in die Mooinooi-omgewing gesien waar hulle saam op ʼn kleinhoewe woon. Joey se pa is onlangs oorlede. Hulle was op pad na Pretoria om sy roudiens by te woon, maar het nooit die Sondag hul eindbestemming bereik nie. Hulle het ook nie verlede Dinsdag die roudiens bygewoon nie.

Hul uitgebrande Nissan X-Trail-sportnutsvoertuig is Saterdagoggend in die Magaliesburg-omgewing gevind. Daar was egter geen teken van hulle nie.

Aaron Sithole (23), Koos Strydom (53) en ‘n derde verdagte het op 15 Desember vir die eerste keer in die Brits-landdroshof verskyn op aanklagte van moord, ontvoering, roof, die onwettige besit van ʼn vuurwapen en dwarsboming van die gereg. Die saak is tot Vrydag uitgestel wanneer die drie verdagtes na verwagting om borgtog gaan aansoek doen.

Die verdagtes is Donderdag in verband met die vroue se verdwyning in hegtenis geneem. Persoonlike besittings, waaronder die vroue se bankkaarte, is in die verdagtes se besit gevind.

Wynand van Niekerk (34), Anisha se broer, het Dinsdag aan Maroela Media gesê die gemeenskap word versoek om die familie by te staan en Vrydagoggend by die hof te betoog.

“Kan ons namens Anisha en Joey kyk of ons Brits se strate kan volmaak? Ons doen ʼn beroep op elke gemeenskapsforum, leiers van organisasies en individue om saam te span en te help. Ons wil hul borgtogaansoek teenstaan op enige moontlike manier,” het hy gesê.

“Anisha en Joey se storie raak ons samelewing. Daar is baie mense wat jaarliks deur hierdie soort misdade geraak word. Kom ons staan saam vir Joey en Anisha en elke ander slagoffer van misdaad in Suid-Afrika.”

Van Niekerk het namens die families almal vir hul ondersteuning bedank en diegene wat steeds help om na Anisha en Joey te soek.

Ao. Mpeile Talane, woordvoerder van die polisie in Noordwes, het Dinsdag aan Maroela Media gesê die soektog na die vroue duur onverpoosd voort en dat die gemeenskap die polisie in die soektog bystaan. Hy het vroeër beklemtoon hoewel die verdagtes van moord in verband met dié voorval aangekla word, is die vroue se liggame nog nie opgespoor nie.

Van Niekerk het Maandag aan Maroela Media gesê die verdagtes is nie aan hulle bekend nie en die familie klou vas aan elke greintjie hoop te midde van die spanning, onsekerheid en hartseer.

Hy het gesê die familie is vol lof vir die polisie oor hul hantering van die saak tot dusver.

Enigiemand met meer inligting oor die twee vroue se verdwyning word versoek om ao. Christiaan Robinson by 082 643 6137 of 014 574 5000 te bel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Pop ·

Asb mense wat naby is, gaan ondersteun die arme familie. Ek is te ver. Sterkte!!!

Jo-Anne ·

Hiers n voorstel. Begin n Facebook blad waar op mense enige inligtig wat kan ly tot die opsporing kan post.
Ek volg hierdie storie al van die begin maar hoor net wat die media te sê het. Ek wens daar was iets wat ek vir julle kon doen. Ek hoop en bid dat hulle ongeduurt op gespoor sal word. Baie sterkte aan die familie, viral oor hierdie Kers tyd

Chazz ·

Ja ek stem saam..miskien moet jy die boetie of Tanya van niekerk sms en vra vir n groep stiging

VM ·

Ek het ongelukkig nie die berigte van die begin af gevolg nie, miskien kan iemand net laat weet – het die verdagtes erken dat hulle die dames vermoor het of waarom word hulle dan van moord ook aangekla?

Ruby ·

Ek hoop van harte hierdie paartjie word gevind!

Word daar vir die verdagtes ‘n kersgeskenkie gesoek of word hulle gedwing om te praat?!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.