Familie van oudsoldaat soek antwoorde ná raaiselmoord

Thomas Kleinschmidt. Foto: Verskaf

Die familie van Thomas Kleinschmidt (43), ʼn oudsoldaat van die Oos-Rand, is desperaat op soek na antwoorde nadat hy voor Kersfees onder raaiselagtige omstandighede vermoor is.

Marie Zeelie (49), Thomas se suster, het Vrydag aan Maroela Media gesê haar broer, wat nadat hy die weermag verlaat het as ʼn veiligheidsbeampte begin werk het wat vragmotors vergesel, is op 21 Desember by ʼn oënskynlike padblokkade doodgeskiet.

“Thomas was aan diens en het ʼn vragmotor met ʼn vrag ter waarde van nagenoeg R2 miljoen van Gauteng na Lesotho vergesel. Die voorval het tussen 23:00 en 24:00 by die Swartkoppies-wisselaar na Vereeniging op die R59-snelweg in Alberton plaasgevind,” het Zeelie gesê.

Volgens Zeelie het ʼn kollega, wat ʼn sekretaresse is, saam met hom gery aangesien sy ʼn rygeleentheid na Lesotho nodig gehad het.

“Verskeie getuies het vir ons gesê daar was daai aand ʼn padblokkade op die draai van die wisselaar. Die getuie het gesê dit was amptelike polisievoertuie en polisiebeamptes in volle uniforms. Daar was nagenoeg tien ‘beamptes’.”

Die “beamptes” het eers die vragmotor voorgekeer en Kleinschmidt, wat agter dit gery het, het ook stilgehou.

“Een van die ‘beamptes’ wou by my broer hoor hoekom hy stilgehou het. My broer het sy rol verduidelik, waarna die man vir al sy bewyse gevra het. Die man het alles bekyk en vir my broer opdrag gegee om uit die voertuig te klim. Sy kollega het gesê Thomas en die ‘beampte’ het agter om die voertuig geloop toe sy skielik ʼn skoot gehoor het.”

Die “beampte” het Kleinschmidt in sy rug geskiet en hy het op sy gesig geval. Sy liggaam is daarna in die veld in getrek sodat niemand hom kon sien nie. Die kamera in sy voertuig, sy selfoon en sy pistool is gesteel. Sy beursie en ʼn geweer wat op die agtersitplek in die voertuig was, is nie gevat nie.

“Een van die beamptes het daarna saam met die vragmotorbestuurder in die vragmotor geklim en hom gedwing om te ry. Ons weet nie presies wat verder gebeur het nie, maar die vragmotor het kort daarna by die volgende afrit, die Kliprivier-afrit, stilgehou en al die verdagtes is weg sonder om enigiets uit die vragmotor te steel.”

Zeelie het gesê die blitspatrollie-eenheid het op die vragmotor en haar broer se liggaam afgekom. Die vragmotorbestuurder en Kleinschmidt se kollega is ongedeerd gevind.

Die Brackendowns-polisie het onder meer ʼn saak van moord aanhangig gemaak.

Zeelie het gesê dit is nou ses maande nadat haar broer van hulle af weggeneem is en daar is nog geen inhegtenisnemings gemaak nie.

“Die polisie het vir ons gesê die verdagtes is vermoedelik mense wat hulle as polisiebeamptes voorgedoen het. Hulle het die voertuie en beamptes wat daai aand aan diens was vergelyk en gesê die beskrywing van die voertuie en hul voertuie stem nie ooreen nie,” het Zeelie bygevoeg.

“Ek mis my broer verskriklik en ons is desperaat om uit te vind wat gebeur het voor ons berusting sal kan vind.”

Kleinschmidt is op 2 Januarie ter ruste gelê. Buiten vir Zeelie, laat hy sy ouers, Alida (69) en Willem (75) Kleinschmidt, agter. Hy laat ook sy eksvrou, Lindie, en drie dogters, ʼn negejarige tweeling en 12-jarige dogter, agter.

Lindie en ʼn jare lange vriend van Kleinschmidt, Kobus Meyer, werk onverpoosd om inligting in te win wat die polisie met hul ondersoek kan bystaan. Meyer is ʼn oudpolisieman en is tans ʼn private speurder.

“Ons werk nou saam met die polisie en staan hulle in die ondersoek by. Daar is goeie leidrade wat hulle opvolg, maar hoe meer inligting ons het, hoe beter is dit. Ons vermoed dit is ʼn sindikaat wat ʼn misdaad beplan het wat skeefgeloop het. Ons doen dus ʼn beroep op die publiek wat op 21 Desember verdagte optrede op die R59 gesien of wat deur soortgelyke ‘padblokkades’ geraak is, om na vore te kom,” het Meyer aan Maroela Media gesê. Meyer kan by 083 789 9990 gebel word.

Sers. Lindy Moloi, woordvoerder van die Brackendowns-polisie, kon nie dadelik vir kommentaar bereik word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

D V ·

Sterkte Marie ek dink aan en die famielie.
Hoop julle kry gou antwoorde op al julle vrae.

GM ·

Hierdie beamptes maak my sommer ongemaklik. Ons is noudie dag deur twee afgetrek. Die een hang behoorlik in ons motor in om te kyk wat alles daarbinne is. Ek dink hulle het net daar gestaan om te kyk of hul ‘bribes’ kan kry.

Sterkte aan die man se naasbestaandes. Hoe wreed kan die ‘mens’dom nie wees nie!

Johan ·

As daar vermoed word dat daar moontlik polisie beamptes betrokke was in die voorval, laat daar dan aansoek gedoen word dat daar avl getrek word op al die voertuie van al die polisiestasies in die omgewing. AVL is op al die amptelike polisievoertuie geinstalleer en dan sal daar gesien kan word of daar polisiebeamptes betrokke was of nie. AVL is soos tracker om voertuie op te spoor. As daar dan bewys word dat daar polisievoertuie ten tyde van die voorval op die toneel was dan doen jy aansoek dat die betrokke voertuie se lede aan diens wat die voertuie uitgeboek het ondervra word.

Elsie Esterhuizen ·

Marie…. I have heard that they found a fingerprint on the vehicle. Please insist that they have a look on the police fingerprint register if it agree…. If it does agree…. Then its that policemen…..

anton ·

Johan, dit lyk of jy weet en waardevolle kennis het wat die familie kan help om die skuldige vas te trek.
Ek hoop hulle volg jou raad.
Dankie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.