Familie van Yolandi Botes hoop steeds op geregtigheid

Yolandi Botes en haar ma, Ria van Deventer (Foto: Ria van Deventer, Facebook)

Benewens die onbeskryflike hartseer waarmee die vermoorde Yolandi Botes (35) se familie dié Kerstyd moet ingaan, het hulle steeds talle vrae rakende haar gruwelmoord. Hulle bly egter steeds hoopvol dat haar moordenaar(s) aangekeer sal word.

Botes se opgekapte liggaam is die afgelope Saterdag presies sewe maande gelede digby die Vaal-vakansieoord by Villiers in die Vrystaat gevind. Dít volg ná sy die vorige Maandag (26 April) die laaste keer by die Internasionale Lughawe OR Tambo in Johannesburg gesien is toe ʼn Uber-bestuurder haar opgelaai het.

Volgens Mariska Oosthuizen, Botes se suster, glo sy haar suster se moordenaar sal gevang word.

“Vader, U het belowe Landi sal geregtigheid kry. Ons moet net geduldig wag. U tyd is nie ons s’n nie. Aan U al die Lof en Eer vir die geregtigheid wat kom vir Landi,” het Oosthuizen verlede week op die Facebookblad, Justice for Yolandi Botes, geskryf.

Die familie het ná Botes se moord ʼn beloning van R50 000 uitgeloof vir enigiemand met inligting wat tot die inhegtenisneming van die vermeende moordenaars kan lei.

Yolandi Botes.

Tersia Steenkamp het Maandag op die Facebookblad geskryf: “Landi, ons het jou nie vergeet nie. Daar is nie ʼn minuut in ʼn dag wat ons nie aan jou dink en aan geregtigheid dink nie. Ons sal tot in ewigheid jou stem wees en veg vir wat reg is. Ons sal baklei vir jou familie, vriende en kinders.”

Botes se ma, Ria van Deventer, het Saterdag geskryf hoe sy Botes nog elke dag mis.

“Sewe maande terug is jy wreed van ons af weggevat. Dié dag sal ek nooit vergeet nie, dit het ons almal se lewens verander,” skryf Van Deventer.

Maroela Media het vroeër berig die bloed wat net ná Botes se dood in ʼn gastehuis in Kempton Park, Gauteng, gekry is, was toe nie haar bloed nie. Die polisie het aanvanklik gewonder of die bloed moontlik met haar dood verbind kon word.

Volgens die polisie se DNS-uitslag was die bloed dié van ʼn onbekende manspersoon.

Kapt. Mavela Masondo, provinsiale polisiewoordvoerder, het Dinsdag aan Maroela Media bevestig dat dit steeds nie bekend is wie se bloed dit was nie. Die ondersoek duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

melaney ·

As ek dit nie mis het nie, is dit die tweede vrou wat aan die dood afgestaan is nadat sy die dienste van ‘n Uber gebruik het.

Asgat ·

Die Uber bestuurder was heeltemal onskuldig en kon baie help met die ondersoek, hy het die roete gevolg en haar afgelaai daar is CCTV footage wat dit bevestig. Ek gebruik dikwels Uber en het nog altyd net vriendelike en beskaafde drywers gehad. Jy kan sien hoeveel roetes die drywers al gedoen het en die terugvoering. Die arme drywer was met sy lewe gedreig omdat sosiale media hom dadelik as die moordenaar uitgemaak het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.