Familie verpletter ná noedel-voorval kinders eis

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Fernando Andrade/Unsplash)

Die familie van die drie kinders wat Sondag dood is nadat hulle gekookte noedels geëet het, is platgeslaan ná die tragedie.

Die plaaslike maatskappy wat dié noedels vervaardig, het intussen aangebied om ʼn gedeelte van die kinders se begrafnisonkoste te dek. Dit is nie ʼn groot of bekende handelsmerk nie en dit is boonop nog nie bekend of dié produk wel die kinders se dood veroorsaak het nie.

“Dit is ʼn baie hartseer saak. Die ma’s, oumas en oupas was ontroosbaar en ek kon skaars my trane terughou,” sê Phindile Zweni, private ondersoeker wat saam met die polisie die kinders se dood ondersoek.

“Geen mens wil jou kind begrawe nie en jy kom nie sommer oor dit nie.”

Zweni is reeds ʼn ruk gelede deur ʼn aantal winkeleienaars in onder meer New Brighton en Motherwell in die Oos-Kaap genader oor ʼn afsonderlike saak, toe nuus van dié tragedie hom bereik het.

Maroela Media het vroeër berig dat Sinothando Ngwendu (11), Olwam Ngwendu (7) en die vier maande oue Athenkosi Ngwendu kort nadat hulle gekookte noedels geëet het van maagpyn en naarheid gekla het.

Die drie is etlike ure daarna in aparte motors op pad na die Motherwell-kliniek dood.

Die kinders het glo die noedels by ʼn plaaslike kleinhandelaar gekoop. Dit is nie bekend wat presies die oorsaak van die kinders se dood was en of die winkeleienaar of vervaardiger van die noedels aanspreeklik gehou kan word nie.

“Die hele gemeenskap staan die familie by en doen soveel moontlik om hulle te help, maar hulle harte is gebroke,” sê Zweni.

“Boonop is die familie ook bekommerd oor die onkoste verbonde daaraan om vir drie begrafnisse te betaal.”

Volgens Zweni het ʼn woordvoerder van die plaaslike maatskappy wat die noedels vervaardig Woensdag saam met hom die familie gaan besoek.

“Die maatskappy het aangebied om ʼn gedeelte van die kinders se begrafnisonkoste te dek om op só wyse die familie by te staan,” sê hy.

“ʼn Aantal winkels in die gebied, insluitend die een waar die noedels vermoedelik aangekoop is, beplan ook om kruideniersware vir die begrafniskos te skenk.”

Sinothando, Olwam en Athenkosi se begrafnisse sal na verwagting binnekort plaasvind.

Ondersoek duur voort

Intussen duur die ondersoek na die kinders se dood nog voort, met die polisie en Zweni aan die voorpunt daarvan.

Volgens Zweni is dit nog nie duidelik of die noedels wel ʼn aandeel in die kinders se dood gehad het nie en moet hulle eers wag dat forensiese ontleders die noedelpakkies toets vir enige ongerymdhede.

“Ongelukkig gaan dit nog ʼn rukkie wees voordat die ontleders kan bevestig of die betrokke noedelpakkies wel die kinders se dood veroorsaak het,” sê hy.

“Ons wag ook nog op die uitslae van die kinders se nadoodse ondersoeke.”

Zweni het intussen beeldmateriaal van die plaaslike winkel gekry waar die kinders glo die noedels gekoop het. Dit lyk nou asof die noedels moontlik nie by daardie winkel aangekoop is nie, hoewel die volledige beeldmateriaal eers ten volle bestudeer moet word voordat daar vasgestel kan word waarvandaan die noedels afkomstig is.

“Ons vermoed nog nie vuilspel nie, maar dit kan nie uitgeskakel word nie. Daar is ʼn aantal goed wat met die noedels kon gebeur het voordat die kinders dit geëet het, maar nog niks kan bevestig word nie,” sê hy.

“Indien die hele besending noedels wat van die vervaardiger gestuur is, wel op een of ander manier besmet is, sou ons teen dié tyd baie meer sterftes in die gebied gesien het.”

Die besending noedels wat by die betrokke winkel verkoop word, is intussen van die rakke verwyder totdat die ondersoek afgehandel is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Aai ·

Altyd moontlik dat die pakkie wat hulle oor die noedels gegooi het dalk nie die regte pakkie was wat erens in ‘n laai gele het appart van noedels.

007 ·

Ek dink nie dit was die noodles nie, dink ook die poeier was dalk rotgif wat daar rondgestaan het. Of so iets. Nietemin baie hartseer.

SjN ·

Iets klink nie reg nie, tragies, 4 maande oue kind ook daarvan geeet, was daar nie dalk iets bygegooi met die kook proses en gedink dit is speserye, vra net?

Meisie ·

Wat is die maak van die noodles? Dalk net mense keer voor iemand anders iets oorkom..

Belinda ·

mens weet nooit of die noodles dalk naby giftige stowwe op die rak gepak of vervoer was nie. hierdie spaza’s worry mos nie hoe hul winkels lyk of verpak word nie, nog minder gaan hul worry waar hul die produkte pak wanneer dit vervoer word.
Die fout moet seker daar iewers le, want soos per die berig, as dit die mpy was wat die noodles vervaardig het, sou daar baie meer sterftes aangemeld gewees het.
Sterkte aan die betrokke gesinne met die verlies van die kleintjies.

Annelien ·

‘n Verantwoordelike maatskappy sou teen die tyd in elk geval die produk van die mark onttrek het. Noedels is ‘n baie gewilde kossoort vir kinders en daar is dalk ‘n “allergen” in wat die kinders so siek gemaak het? Maak die naam bekend sodat nog “ongelukke” verhoed kan word asb?

Swerwer ·

Skreiende skande om aan te bied om ‘n gedeelte van die begrafnisse te betaal. Laat die ondersoek /nadoodse ondersoeke liewers eers afgehandel word en dan word daar ‘n belsuit geneem. Geld kan nie ‘n mens se geliefdes vervang of terugbring nie.

modiglianigirl ·

Waar is die skande Swerwe? Om hulp aan te bied het niks met skuld erkenning te make nie. Jy trou losstaande feite met mekaar en in die proses maak jy net jouself (meer) ‘deurmekaar ‘

Nico ·

Die kombinasie va Spazza winkels en China kan moontlik bygedra het tot die tragedie.

Miskruier ·

Ek koop ons land se eie kos, daar word soveel “made in china” in ons nedersettings verkoop. N groot supermark verkoop Chinese grondbone, dis geen aanmoediging vir ons plaaslike boere nie.

Desere ·

Die berig meld duidelik dat dit ‘n plaaslike noedel vervaardiger is – dus nie China noedels nie, maar wel “eg Suid-Afrikaans”.

Nêh ·

Bo en behalwe dat daar dalk ‘n giftige stof in aanraking was met die noedels is die gewilde peuslehappie in elk geval ongesond. Dit bevat butielhidrokinoon (TBHQ) – ‘n chemiese preserveermiddel afkomstig van die petroleumbedryf. Jy kan net sowel plastiek eet. Baie ongesond vir jou spysverteringstelsel.

anniekiewiet ·

Dis my gedagte ook. Ons eet al baie lang jare geen kitsnoedels nie juis daaroor.

TRP ·

Geen ouer moet ‘n kind begrawe, laat staan nog drie, hierdie is so bitter hartseer.

Anoniem ·

Dit is in die publiek se belang dat die vervaardiger of produk se naam bekendgemaak word.

Sandra ·

Ek kan my nou nog nie indink dat ‘n 4 maande oue babatjie ook van die noedels gekry het nie. So sad oor die kinders.

Janine ·

‘n VIER MAANDE OUE BABA kan onmoontlik noedels eet, wat nog te sê kla oor maagpyn! Asseblief! Hierdie hele storie STINK!

Irene ·

Eks oortuig daarvan dat die noodles vergiftig was…..kom ons wag maar eerder en kyk wat die ondersoek oplewer…..nietemin 2 min noodles is 1 van die ongesondste kosse om te eet. Ek sal dit vir niemand gee om te eet nie EN dan kom dit van China af.

Beatrix ·

Ek het gewonder of die pakkie noedels nie dalk iewers in die winkeltjie kon in aanraking gekom het met n gifstof nie? Dis baie baie hartseer.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.