Familie vra gebede vir vlieënier ná heli neerstort

Joshua Cilliers. Foto: Verskaf

Die familie van Joshua Cilliers (28), die vlieënier wat in ʼn kritieke toestand is nadat die helikopter wat hy gevlieg het Woensdag naby Queenstown in die Oos-Kaap neergestort het, het mense gevra om vir hom te bid.

Cilliers was saam met George Frederik Snyman, ʼn veearts van Port Elizabeth, in die helikopter toe dit in die Sterkstroom-gebied neergestort het. Snyman het op die toneel gesterf, terwyl Cilliers met ernstige beserings na ʼn hospitaal in Queenstown gehaas is.

Cilliers is Woensdagaand eers na ʼn hospitaal in Oos-Londen en later na ʼn tweede hospitaal in die stad oorgeplaas.

Danie Cilliers, Joshua se broer, het aan Maroela Media gesê Joshua word tans onder verdowing in die waakeenheid gehou. Hy het gesê Joshua sal vandag ʼn breinoperasie ondergaan, aangesien hy bloeding op die brein opgedoen het. Joshua het ook sy arm gebreek en het vermoedelik ʼn longbesering opgedoen.

Danie het bevestig dat Cilliers en Snyman besig was om met wild te werk toe die ongeluk gebeur het, maar in dié stadium is die oorsaak van die ongeluk nie duidelik nie. “Joshua was ʼn baie versigtige vlieënier, so vir eers weet ons nie wat gebeur het nie. Ons wil nie daaroor bespiegel nie,” het hy gesê.

Hy het gesê dit is tans ʼn baie moeilike tyd vir Cilliers se vrou, Nicole, en die res van sy familie en dat die volgende 48 uur ʼn kritieke tydperk is. “Ons is oorweldig deur al die mense wat bel en boodskappe van ondersteuning stuur. Ek wil net namens ons hele familie baie dankie sê vir al die ondersteuning en bemoediging wat ons ontvang – dit beteken vir ons regtig baie.”

Hy het versoek dat mense Cilliers in hul gebede hou.

Kabelo Ledwaba, woordvoerder van die burgerlugvaartowerheid (BLO), het aan Maroela Media bevestig dat die owerheid ʼn volledige ondersoek na die ongeluk doen. Kol. Michelle Matroos, woordvoerder van die polisie, het gesê hulle is ook besig met ʼn geregtelike doodsondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Antoinette ·

Jy is in ons gebede Joshua. Ons aanbid n lewende God en ek spreek lewe en genesing in Jesus naam. Sterkte aan tannie Erika, oom Basie en Nicole. Asook die res van die Cilliers gesin.

Carlien ·

Baie sterkte vir julle familie in hierdie tyd, oms bid saam met julle vir beterskap..

Phalaborwa Vriend ·

Joshua, ons dra jou op in gebed. Glo dat ons Almagtige Vader jou in die holte van Sy hand sal hou.

Jeanne van den Bergh ·

Ons glo en vertrou dat Joshua sal herstel en bid vir hom en sy vrou en familie!

IK ·

Ook ek bid saam MAAR kom ons bid ook vir dr. Snyman se naasbestaandes en veeartsenykunde wat ‘n kundige verloor het op mediese gebied.

Lourens Jooste snr ·

Joshua, ek het jou drie weke terug ontmoet en het gedink jy is ń aangename jongman wat ek graag beter wil leer ken. bid gedurig vir jou……ek vra dat die Here jou vir Nicole en jou familie spaar….jys ń meningsvormer in jou area. Mag die Here jou spaar en jou gebruik as instrument onder jou vriende om Sy grootheid te openbaar. Ek bid ook vir Freek se familie. Mag die Here self julle vertroos en versterk. Ek is ń gelowige en nie ń verstanige nie. Ek glo God kan uit die hartseer iets moois laat gebeur. Baie sterkte.

Rachel Cordier ·

Ons vertroue is in die Here vir volkome genesing en ook vertroosting aan die Snyman familie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.