Familie vra vir afsluiting ná Vosman-kinders se moord

Annah Shabane (tweede van regs), die ma van die vermoorde Gabisile Shabane, en die ma van die vermoorde Nkosikhona Ngwenya (derde van regs) luister na die hofverrigtinge in die Witbank-landdroshof (5 April 2018). Foto: ANA

Die familie van twee kinders van Mpumalanga, wat uit hul huis ontvoer en wreed vermoor is, het Donderdag gesê hulle wag steeds dat die SAPD hul kinders se liggame aan hulle terugbesorg sodat die kinders begrawe kan word.

“Ek kan snags nie slaap nie. Al waaraan ek kan dink, is die saak. Die siele van daardie kinders kan nie in vrede rus nie, want hul liggame lê nog in ʼn regeringslykhuis. Ons soek daardie liggame,” het Annah Shabane, die ma van die vermoorde Gabisile Shabane (13), gesê.

Annah het buite die Witbank-landdroshof gepraat waar Thokozani Msibi, Themba Thubane en Knowledge Mhlanga om borgtog aansoek gedoen het. Die saak is tot 16 April uitgestel wanneer die uitspraak van die borgtogaansoek gelewer sal word.

Gabisile Shabane. Foto: Verskaf

ʼn Ander beskuldigde in die saak, Mthobisi Brilliant Mkhize, het gesê hy gaan om “veiligheidsredes” nie om borgtog aansoek doen nie.

Maroela Media het vroeër berig die kinders is op 28 Januarie uit hul huis in Vosman buite Witbank ontvoer toe drie mans na bewering die huis deur ʼn gebreekte venster binnegekom het. Gabisile, ʼn albino-meisie, se liggaam is in die derde week van Februarie in ʼn vlak graf in Cullinan, oos van Pretoria, aangetref. Haar kop en ander liggaamsdele is verwyder.

Die liggaam van die 15 maande oue Nkosikhona Ngwenya is in dieselfde week langs die N4 in Mpumalanga gevind.

Brig. Leonard Hlathi, woordvoerder van die polisie, het Donderdag gesê die liggame sal begrawe word sodra DNS-toetse afgehandel is. “Ons verstaan die trauma waardeur die familie gaan en ons versoek dat hulle asseblief geduldig sal wees,” het Hlathi gesê.

Nkosikhona Ngwenya. Foto: Verskaf

Adv. Fanie Mavundla, die staatsaanklaer, het Donderdag in die hof gesê die beskuldigdes het verkeerdelik vir Ngwenya ontvoer omdat hulle hom verwar het met ʼn ander albino-baba in die Shabane-familie.

Sherman Nkuna, vir Mkhize, het gesê sy kliënt het nie aan die ontvoering en moorde deelgeneem nie, maar bloot een van die ander beskuldigdes, Msibi wat ʼn tradisionele geneser is, na Cullinan geneem.

Mavundla het vroeër gesê Gabisile is vermoor sodat Msibi haar liggaamsdele kon gebruik om moetie vir Thubane en Mhlanga te maak om hul sakeonderneming, ʼn private kollege, te laat floreer. Die staat voer aan Mkhize wou glo deur dieselfde moetie verryk word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.