Familie ‘vrees’ ná 72-jarige se raaiselagtige verdwyning

Willie Rossouw (Foto: Facebook)

ʼn Familie van Virginia in die Vrystaat sê hulle voel “doodbekommerd en totaal magteloos” oor die “vreemde wyse” waarop ʼn 72-jarige man van dié provinsie Woensdag spoorloos verdwyn het.

Honderde sosialemediagebruikers het sedert Willie Rossouw, ʼn pensioentrekker, se verdwyning vir sy veilige terugkeer gepleit.

Nina Kruger, ʼn familielid, sê Rossouw se familie is in ʼn “toestand” en hoop dat hy nié leed aangedoen is nie.

Volgens Kruger het Rossouw se drywer hom Woensdag na ʼn sentrum in Welkom geneem sodat hy ʼn dokument kon laat beëdig. Sy sê Rossouw se sig is aangetas. Hy loop moeilik en maak al ʼn geruime tyd gebruik van die drywer. Kruger verduidelik die drywer sou Rossouw weer oplaai nadat hy die dokument laat beëdig het, maar hy het glo nooit na die motor teruggekeer nie.

“Kort nadat die drywer hom afgelaai het, het hy my stiefma laat weet dat hy verdwaal het. Mense het na hom gaan soek, maar niemand kon hom weer opspoor nie. Hy word sedertdien vermis,” sê sy.

Volgens haar het dit later aan die lig gekom dat Rossouw al voorheen episodes beleef het waar hy nie geweet het waar hy is nie. Volgens haar is dit onduidelik hoeveel mense hiervan geweet het, maar sy fisieke gesondheid was glo nooit rede tot kommer nie.

Kruger sê die familie is nou bekommerd oor boodskappe wat hulle van een van die selfone ontvang wat hy ten tyde van sy verdwyning by hom gehad het. Rossouw het glo altyd twee selfone by hom gehad. “Ons het al verskeie boodskappe gekry soos onder meer dat hy nie kan tik nie omdat sy regterhand verlam is, maar hy is linkshandig. Ons probeer die nommer bel, en dan druk hy die foon bloot net dood. Gister [Donderdag] het ons ʼn boodskap gekry wat gevra het dat ons hom nie bel nie omdat sy stem glo weg is. Ons vermoed onraad en dit maak ons bang én rasend bekommerd, want ons weet glad nie wat om te doen nie.”

Sy sê al die boodskappe vorm deel van die polisieondersoek. Volgens haar het die polisie minstens een van sy nommers na ʼn buurt in Pretoria nagespoor, maar dit het geen vrugte afgewerp nie.

“Ons werk nou saam met die polisie om agter die kap van die byl te probeer kom. Dit is nie in my pa se aard om sulke boodskappe te stuur of net te verdwyn nie en ons vrees werklik vir sy veiligheid. In dié stadium hoop en bid ons net dat ons hom weer veilig by die huis kan kry.”

Kapt. Malebo Khosana, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media bevestig dat ʼn vermistepersoonsaak aanhangig gemaak is.

Khosana sê daar is egter onduidelikheid oor presies hoe Rossouw vermis geraak het. “Die polisie kon nog nie bevestig of hy wel op pad was na ʼn Sassa-kantoor toe voordat hy verdwyn het nie,” sê hy. “Daar is nog geen leidrade nie, en die soektog na die man duur steeds voort.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

Gerrit ·

Kry eerder n privaat speurder ,julle mors tyd meeste van hulle sal nie eers weet wat n byl is nie wat nog van agter die kap kom.

Duitser ·

Moet net nie die polisie vertrou nie dit sal n groot fout wees

vonnie ·

weereens vra ek, hoekom “vrees”
WEET JULLE OOIT HOE WERK AANHALINGS TEKENS????

Donnie ·

Vonnie ek dink as iemand se eie en direkte woorde aangehaal word, hoort dit wel in aanhalingstekens.

Nettie ·

Ag jinne, vonnie, moenie oor twak soos die korrekte gebruik van aanhalingstekens wonder, terwyl ‘n verwarde, kwesbare ouer person hier ‘verdwyn’ het nie. Ek is self ‘n taalpuritein, maar maggies – sekere dinge is darem belangriker as ander!

Wenner ·

Mense raak weg, gesinne leef in vrees omdat hul mense weg is, en jy baklei oor aanhalingstekens??? Regtig????

Mimi ·

Moet asb nie bejaardes alleen laat besigheid doen nie. Nadat my ma van 77 begin verdwaal het as sy na my huis toe ry, het ons gedink dis net n eenmalige insident. Maar nee dit het kort kort gebeur en toe begin ander simptome volg, soos bv dat sy paranoies begin raak het en heeltyd wou weet waar is haar handsak en bankkaart en sy sou in n vertrek inkom en net stil staan en jou aanstaar. Dan sal sy die volgende dag weer normaal wees. MIN het ons geweet dat die Altzheimers met mening besig was om toe te slaan. So asb as n bejaarde een keer verdwaal….moet daardie persoon nie weer alleen uitgaan nie…want jy weet nooit op watter dag hul n totale insinking kan kry agv sluipende Altzeimers nie. Dele van die brein raak buite werking….en boodskappe kan nie meer behoorlik deurkom nie. Sit asb fotos van die oom op, in die omgewing waar hy weg geraak het. Ek hoop van harte julle vind hom spoedig. Alle sterkte!

AP ·

Verstaan nie mooi nie, die drywer het hom afgelaai, nou wat het dan van die drywer en die kar geword, vra maar net.

snoefie ·

ek wil eerder weet hoekom die drywer hom nie vergesel het nie.

Coen ·

Kry vir Mike Bolhuis om agter die kap van die byl te kom.Ek dink vandat Piet Byleveld oorlede is is die sap ook gesink.

Blommie ·

Nee julle almal het nie die posies as gevolg van kleur gekry nie. Daar is wel mense wat Polisie is deur passie en liefde en harde werk wat hulle volg. So moenie se om nie die polisie te vertrou nie. Se eerder julle hoop die regte persoon werk met die saak.

Amanda ·

Ware woorde! Ek bly in n klein dorpie aan die kus van KZN – ons het n SAP lid genaamd Stanley. Hy is ‘n yster! Geen boef oorleef hier nie.

Anoniem ·

Dit is verskriklik om nie te weet waar jou geliefde is nie!!!!! Ek weet dit is absoluut niksseggend en onbelangrik (ek noem dit net) maar linkshandige mense tik gewoonlik met regterhand……ek en my man is linkshandig en tik regs, maar ek erken die boodskappe klink baie, baie verdag, bid dat julle spoedig antwoorde kry!

Pligte? ·

Is daar ander pligte wat die bestuurder (drywer) moes nakom tussen die aflaai en oplaai? Moes hy nie as deel van sy plig toegesien het dat Rossouw veilig by die eindbestemming kom en weer daar opgelaai word? Begin by die drywer . . .
Hoop julle kry hom veilig!

Oom Kalahari ·

Sterkte aan die familie en hoop deur al die professionele hulp is jul vinnig weer verenig en dan moet jul asb goed bystand lewer in die toekoms om so gebeurtenis te voorkom.

Gesiggie ·

Ek kan net dink deur wat jul moet gaan met die wete of is jul Pa ok? mag die Engele van God hom bewaar, en mag hy gou veilig terug wees by die huis… sterkte aan jul as Familie… ouer persone moet eerder maar vergesel word deur iemand… dit is nie veilig veral nie in Mnr Rossouw se geval….

Sue ·

Aarde, ek hoop ook die oom word veilig gevind. My Pa het ook sulke oomblikke oor gekom 2 keer, kort voor sy beroerte. Mens wil mal raak om te dink aan “wat as”… Nee asb mag die Engele van die Hemele asb hierdie oom bewaar, as dit nie al te laat is nie. ?

BB ·

Hoekom spoor hulle nie die selfoon op met die naaste toring waar hy geping het nie, as sy fone aan is dan behoort hulle dit tog te kan opspoor,maar net n gedagte?

Denise ·

Waar is die drywer? Vind hom.ken sy familielede nie die drywer?

Anna ·

By Sassa se kantore hier in Welkom moet jy by die hek inteken, hulle vra jou ID, was die oom daar? Net nog n vraag. Het al sy fotos vir my kennisse ook gewys en gese hys verlore. Sterkte julle.

Riaan ·

Ek verstaan die omie is op gespoor……Weet nie waar nie…..Maar hy is veilig….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.