Familie ‘vrees’ ná 72-jarige se raaiselagtige verdwyning

Willie Rossouw (Foto: Facebook)

ʼn Familie van Virginia in die Vrystaat sê hulle voel “doodbekommerd en totaal magteloos” oor die “vreemde wyse” waarop ʼn 72-jarige man van dié provinsie Woensdag spoorloos verdwyn het.

Honderde sosialemediagebruikers het sedert Willie Rossouw, ʼn pensioentrekker, se verdwyning vir sy veilige terugkeer gepleit.

Nina Kruger, ʼn familielid, sê Rossouw se familie is in ʼn “toestand” en hoop dat hy nié leed aangedoen is nie.

Volgens Kruger het Rossouw se drywer hom Woensdag na ʼn sentrum in Welkom geneem sodat hy ʼn dokument kon laat beëdig. Sy sê Rossouw se sig is aangetas. Hy loop moeilik en maak al ʼn geruime tyd gebruik van die drywer. Kruger verduidelik die drywer sou Rossouw weer oplaai nadat hy die dokument laat beëdig het, maar hy het glo nooit na die motor teruggekeer nie.

“Kort nadat die drywer hom afgelaai het, het hy my stiefma laat weet dat hy verdwaal het. Mense het na hom gaan soek, maar niemand kon hom weer opspoor nie. Hy word sedertdien vermis,” sê sy.

Volgens haar het dit later aan die lig gekom dat Rossouw al voorheen episodes beleef het waar hy nie geweet het waar hy is nie. Volgens haar is dit onduidelik hoeveel mense hiervan geweet het, maar sy fisieke gesondheid was glo nooit rede tot kommer nie.

Kruger sê die familie is nou bekommerd oor boodskappe wat hulle van een van die selfone ontvang wat hy ten tyde van sy verdwyning by hom gehad het. Rossouw het glo altyd twee selfone by hom gehad. “Ons het al verskeie boodskappe gekry soos onder meer dat hy nie kan tik nie omdat sy regterhand verlam is, maar hy is linkshandig. Ons probeer die nommer bel, en dan druk hy die foon bloot net dood. Gister [Donderdag] het ons ʼn boodskap gekry wat gevra het dat ons hom nie bel nie omdat sy stem glo weg is. Ons vermoed onraad en dit maak ons bang én rasend bekommerd, want ons weet glad nie wat om te doen nie.”

Sy sê al die boodskappe vorm deel van die polisieondersoek. Volgens haar het die polisie minstens een van sy nommers na ʼn buurt in Pretoria nagespoor, maar dit het geen vrugte afgewerp nie.

“Ons werk nou saam met die polisie om agter die kap van die byl te probeer kom. Dit is nie in my pa se aard om sulke boodskappe te stuur of net te verdwyn nie en ons vrees werklik vir sy veiligheid. In dié stadium hoop en bid ons net dat ons hom weer veilig by die huis kan kry.”

Kapt. Malebo Khosana, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media bevestig dat ʼn vermistepersoonsaak aanhangig gemaak is.

Khosana sê daar is egter onduidelikheid oor presies hoe Rossouw vermis geraak het. “Die polisie kon nog nie bevestig of hy wel op pad was na ʼn Sassa-kantoor toe voordat hy verdwyn het nie,” sê hy. “Daar is nog geen leidrade nie, en die soektog na die man duur steeds voort.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

23 Kommentare

jongste oudste gewildste
Gerrit

Kry eerder n privaat speurder ,julle mors tyd meeste van hulle sal nie eers weet wat n byl is nie wat nog van agter die kap kom.

Duitser

Moet net nie die polisie vertrou nie dit sal n groot fout wees

Tanzie

Mag die oom veilig gevind word.

vonnie

weereens vra ek, hoekom “vrees”
WEET JULLE OOIT HOE WERK AANHALINGS TEKENS????

Mimi

Moet asb nie bejaardes alleen laat besigheid doen nie. Nadat my ma van 77 begin verdwaal het as sy na my huis toe ry, het ons gedink dis net n eenmalige insident. Maar nee dit het kort kort gebeur en toe begin ander simptome volg, soos bv dat sy paranoies begin raak het en heeltyd wou weet waar is haar handsak en bankkaart en sy sou in n vertrek inkom en net stil staan en jou aanstaar. Dan sal sy die volgende dag weer normaal wees. MIN het ons geweet dat die Altzheimers met mening besig was om toe te… Lees meer »