Familie ‘vreesbevange’ ná man (45) verdwyn

Elmar Knoetze (Foto: Verskaf)

Gemeenskapslede, plaaslike buurtwagte en die polisie van die Paarl in die Wes-Kaap het teen Dinsdagoggend steeds gesoek na ʼn 45-jarige man van dié stad wat op 29 Maart verdwyn het en ná byna ʼn week steeds vermis is.

Familielede van Elmar “Faffa” Knoetze, ʼn passer en draaier wat instandhoudingswerk vir KWV doen, sê hulle is “totaal raadop” en “platgeslaan” oor sy verdwyning.

Knoetze het volgens Ronel Bence, ʼn familievriend, op 29 Maart sy huis verlaat om te gaan stap. Bence sê hy was volgens kringtelevisiebeeldmateriaal om 06:00 vinnig by ʼn winkel van ʼn plaaslike vulstasie in om sigarette te koop en is om 07:00 weer op die Langenhovenpad, in die rigting van die Du Toitskloof-berg, opgemerk.

Volgens haar is daar egter geen verdere tekens oor waar Knoetze homself mag bevind nie. “Sy familie en vriende sit met derduisende vrae,” sê sy. “Ons het geen idee wat om te verwag of wat om te doen nie. Ons weet nie of hy dalk langs die pad opgetel is, of iets met hom gebeur het en of hy buite gevaar is nie. Dit is die onsekerheid wat ons absoluut mal maak. Ons is vreesbevange.”

Elmar Knoetze (Foto: Verskaf)

Bence sê gerugte op sosiale media dat Knoetze soms sou gaan stap wanneer hy “depressief gevoel het” is wel waar, maar hy is nié ʼn depressielyer nie. “Ons weet dat hy soms gaan stap het wanneer hy goor gevoel het, maar hy het nie aan erge depressie gely nie. Buiten dit, het hy en sy vrou, Tania, ook nie ʼn uitval gehad voor sy verdwyning nie en daar was geen tekens dat hy wou wegloop of planne beraam het vir enigiets van die aard nie. Hy was baie lief vir stap en het dit baie gereeld gedoen; daar was geen rede om te dink dat dié keer anders sou wees nie,” sê sy.

Sy sê Tania is “uiters geskok” en sukkel nog om sin te maak van die voorval. “Tania was gisteraand by my en sy weet nie wat om te sê, te doen of te dink van die hele voorval nie. Dit was baie onverwags en daar is baie onsekerhede rondom die voorval. Ons enigste hoop is om hom net veilig te vind.”

Knoetze was glo met siekverlof weens ʼn besering aan sy hand. Hy was glo veronderstel om weer vandag te begin werk.

Bence sê die egpaar het twee kinders, onderskeidelik ses en 15 jaar oud, wat ook albei bid vir hul pa se veilige terugkeer.

Die nieregeringsorganisasie Pink Ladies het intussen ook ʼn soektog na Knoetze van stapel gestuur. Die organisasie het enigeen met meer inligting oor Knoetze se verdwyning gevra om die polisie in die Paarl by 021 807 4139 te kontak of om alternatiewelik die Pink Ladies direk by 072 214 7439 of 083 378 4882 te skakel.

Maroela Media wag op kommentaar van die Wes-Kaapse polisie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Jan Publiek ·

O my genade – ek hoop van harte dat hy lewend gevind word en dat hy met sy gesin vereenig kan word – so gou as moontlik.

Regtig waar ·

Elmar Knoetze, as dit jou afdag tydperk is, ek weet jy gaan deur ‘n moeilike tyd, maar jou vrou & kinders verdien om te weet wat aangaan, dit is nie reg teenoor hulle nie, heel waarskynlik dink jy nie daaraan of bedoel jy dit nie so nie, maar dit is hoe die wat agterbly voel. Stu net ‘n boodskap, “moenie worry”.

Jandre ·

Suid-Afrika is lankal nie meer die plek waar blankes aleen moet gaan wandel of rondreis nie.

Nettie ·

Maroela Media, net ‘n korreksie – die Paarl, my geboorteplek, is nie ‘n stad nie; dit is ‘n Bolandse dorp. Verifieer asb. jul feite voor julle beriggewing van ander nuusbronne oorneem en dit “verbatim” net so plaas?

Nikki ·

Die Paarl is so tydjie terug wel as ‘n stad geklasifiseer.

ER123 ·

Hierdie is eintlik onnodig en niks met die berig te doen nie. Paarl is wel nou ‘n stad soos ons munisipale rekening wys… City of excellence.

Riana ·

Sterkte Tania, kinders en familie. Hou moed. Glo en vertrou dat hy gou gevind sal word.

Veer ·

Ai Nettie, skielik kom Frank Opperman se woorde in my gedagtes op..

Wonder ·

Onsekerheid is die ergste ding wat met ‘n mens kan gebeur. Sterkte aan familie en vriende. Ek glo en vertrou dat hy gou gevind sal word.

Denise ·

N man is weg en julle worry oor of dit n dorp of n stad is REGTIG ????

Janet ·

Presies wat ek gedink het. Mense moet altyd fout vind in alles….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.