Familie, vriende ‘platgeslaan’ ná stapper se dood

Devereaux Pienaar en sy vrou, Veronica. (Foto: Facebook)

Geen begrafnisreëlings is nog bekend vir Devereaux Pienaar (53), ʼn ingenieur van Pretoria, wat op ʼn staptog in die Wolkberg-wildernisreservaat dood is nie.

Pienaar en sy broer, Nico (47), het op 15 Oktober in die reservaat in Limpopo gaan stap. Die tog sou net twee dae duur, maar die broers het op pad na Devil’s Knuckles van mekaar geskei geraak. ʼn Soekgeselskap is ontplooi nadat familielede hulle nie op hul selfone in die hande kon kry nie.

ʼn Inwoner van die gebied het verlede Maandag by ʼn dam in die omgewing op Nico afgekom. Hy was baie verswak, maar het hom ná mediese behandeling by die soekgeselskap aangesluit.

Sy broer se liggaam is Saterdagoggend in ʼn onherbergsame gebied in die reservaat gevind.

Devereaux se dogter, Clarissa, het op Facebook geskryf haar pa was ʼn ongelooflik goedgesinde en liefdevolle man en dat sy “die voorreg gehad het om hom Pappa te noem”.

Tamatha Jane Urquhart het ook geskryf Devereaux het ʼn aansteeklike lewens- en avontuurlus gehad. “Hy was geliefd onder almal wat hom leer ken het. Hy was altyd opgeruimd en verwelkomend en het werklik gelééf.

Devereaux Pienaar se liggaam is in ‘n onherbergsame gebied gevind. (Foto: Mopani-distriksmunisipaliteit/Facebook)

“Sy dood het ons platgeslaan, maar ons koester elke oomblik wat ons saam met hom deurgebring het en die pragtige herinneringe wat hy nalaat.”

Pule Shayi, burgemeester van die Mopani-distriksmunisipaliteit, het die tientalle mense wat by die soektog na die broers betrokke was, bedank. “Ons wil veral die gemeenskap van Haenertsburg vir hul steun bedank, en omdat hulle hul harte en huise oopgemaak en kos, logistieke steun en ander hulp aan die familie en die reddingspanne gedurende die operasie verskaf het,” het Shayi gesê.

“Daar was verskeie mense betrokke by die soek-en-reddingsoperasie, te veel om op te noem. Ons wil ons uiterste dank betuig aan elke liewe persoon wat betrokke was.”

Shayi het ook die munisipaliteit se medelye met die gesin betuig. “Dit is werklik hartseer dat ʼn uitstappie om ons pragtige omgewing te verken in dié tragiese verlies geëindig het.”

Devereaux word oorleef deur sy vrou, Veronica, dogter, Clarissa, en seuns, Stian en Armand.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

JA ·

Baie Jammer vir die Familie RIV. Iets klink wel nie reg vir my nie, hoe gaan stap jy (en dit was beplan) dan kom jy agter die roete is te rof en dan besluit jy om eerder terug te draai, dan vat jy “kortpad” terug nie die roete wat jy klaar geklim het nie want jy het agtergekom jy het nie genoeg kos en water nie? hoe sou jy dan uitgekom het by jou bestemming met die kos en water wat jy gepak het iets maak nie sin nie? Maar nou ja RIV.

Jan ·

Ek stem met jou saam , iets is nie lekker aan die storie nie .

Bekommerd ·

Hoekom het die twee broers geskei van mekaar? Het hulle stry gekry oor watter pad om te vat? Mens moet juis bymekaar bly. Baie tragies.

Liza ·

Rus in vrede Devereaux… Ek het hom nie persoonlik geken nie, maar hy is ‘n vriend van vriende. Ons vriende se harte is stukkend, en hoop hulle kry berusting in die moeilike tyd. Baie sterkte ook aan sy familie.

Lee ·

Baie sterkte aan Veronica en die kinders. Ons het so gehoop vir goeie nuus maar God het anders besluit. Dink aan julle in die verskriklike hartseer tyd. Hy sal altyd in julle harte bly. Baie baie sterkte xx

Jc visser ·

JA en JAN. JULLE HET GEEN IDEE WAT DIE HELE VERHAAL IS NIE.
Ek neem aan julle is ervare stappers van die wolkberg……

Bekommerd ·

Hoekom het die twee broers geskei van mekaar? Het hulle stry gekry oor watter pad om te vat? Mens moet juis bymekaar bly. Baie tragies.

Janne ·

Tragies, jammer vir familie.
Goue stapreëls…. Dra ALTYD ekstra kos en water saam, ALTYD warm klere en moet NOOIT wegbreek van jou medestappers af nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.