Familie wag weke vir oorlede pa se oorskot

Rudi Prinsloo (Foto: Verskaf

’n Gesin van Boksburg aan die Oos-Rand was genoodsaak om voort te gaan met hul pa se roudiens sonder dat hulle hom enigsins ná sy dood gesien of sy oorskot ontvang het. Dít weens ’n vertraging in die hantering van sy liggaam na sy dood.

Rudi Prinsloo (42) is Donderdag byna twee weke ná sy dood in ’n hospitaal in Boksburg eindelik deur ’n familievriendin by ’n lykshuis in Germiston uitgeken, waarna die nadoodse ondersoek gedoen kon word – dít sonder dat sy familie sy liggaam gesien het. Hy sal nou na verwagting Maandag veras word.

Marinda Prinsloo, Rudi se dogter, het aan Maroela Media gesê haar pa het twee en ’n half weke gelede probeer om sy eie lewe te neem waarna hy in die Tambo-gedenkhospitaal in Boksburg opgeneem is.

Prinsloo se familie is weens die Covid-19-pandemie nie toegelaat om hom in die hospitaal te besoek nie. Hulle is vier dae later in kennis gestel dat Prinsloo in die hospitaal weens die poging om sy eie lewe te neem, oorlede is. Hy het egter ná sy dood positief getoets vir Covid-19, sou die familie later hoor.

Volgens Sonja Smith, besturende direkteur van Sonja Smith Funeral Group, moet alle liggame, insluitend diegene wat aan Covid-19 sterf, binne tien dae begrawe of veras word. “Sou die regering ’n hoërisiko-fase aankondig, moet alle liggame van persone wat positief getoets het vir Covid-19, binne drie dae begrawe of veras word,” het Smith gesê.

Marinda vertel daar is aan die familie gesê dat hulle nie sy liggaam vir verassing kon ontvang voordat ’n nadoodse ondersoek gedoen is nie. Volgens die polisie kon die nadoodse ondersoek egter nie gedoen word voordat Marinda, wat ten tyde van die mislukte selfmoordpoging by haar pa was, ’n verklaring afgelê het nie.

Dié verklaring is egter meer as ’n week later eers afgelê nadat die polisie aanvanklik die verkeerde adres vir Marinda gehad het en eers na ’n gespook kon vasstel waar sy woon.

Prinsloo se liggaam is in hierdie tydperk by die hospitaal gestoor sonder dat enigiemand hom kon sien voordat dit ná die verklaring eindelik vandeesweek na die lykshuis in Germiston oorgeplaas is.

“Die afgelope twee weke was baie moeilik. Dit pla my baie dat ons hom nie kon groet nie. Hy is alleen dood en ons kan nie eers sy liggaam sien voordat hy veras word nie.”

Smith meen die feit dat Prinsloo in ’n hospitaal gesterf het ná ’n mislukte selfmoordpoging waarskynlik die vertraging in die proses veroorsaak het.

“Daar moet ’n dossier geopen word vir ’n geregtelike doodsondersoek. Die ondersoekbeampte moet al die mediese verslae aanvra by die dokters en hospitaal en dit voorlê aan die staatspatoloog alvorens die nadoodse ondersoek gedoen kan word.

“Ons ervaring is dat dokters tans onder druk is en dokumentasie langer neem as gewoonlik as gevolg van die Covid-19-pandemie.”

Volgens Smith word die verkeerde prosedures boonop van die begin af in gevalle van dié aard gevolg, wat kan beteken dat ’n vertraging in die verassing van ’n persoon ook kan plaasvind.

“’n Dokter sal moontlik aandui dat die persoon gesterf het weens natuurlike oorsake en nie in ag neem dat dit ʼn mislukte selfmoordpoging was nie. Dit veroorsaak dan erge probleme en vertragings om die liggaam te kan veras, want die mediese skeidsregter tel dit op en keur die verassing af.”

Marina vertel dat haar pa na verwagting Maandag veras sal word. Dit sal dan byna drie weke ná sy dood wees.

“Hy was ’n goeie mens. Hy het almal en alles in die wêreld gehelp,” onthou Marinda haar pa.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Persheks Adri ·

Tragies! Baie sterkte aan die familie in die moeilike tyd mag God julle dra.

ronel ·

“ek het die engele gevra
om jou sag neer te sit,
aan die anderkant van hier
maar ek wens ek kon
‘n laaste keer by jou staan
‘n laaste keer vir jou vra…
bly?”
*Stephan Visagie-Bly

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.