Familie weier om ontbinde liggaam te begrawe

(Argieffoto)

Die familie van Rose Mosikare (60) weier om haar ontbinde liggaam te begrawe voordat die Mahikeng- provinsiale hospitaal hulle om verskoning vra en vergoed.

Maroela Media het vroeër berig Mosikare se liggaam het ontbind nadat dit verlede maand in ’n yskaslaai geplaas is wat onklaar geraak het.

Daar is glo aan Mosikare se familie gesê om haar so gou moontlik ná die ontbinding te begrawe waarna die saak aangeraak sal word.

Joseph Mbaba, Mosikare se oom, sê egter nou sy kleinseun is in Februarie in dieselfde hospitaal oorlede nadat hy ’n operasie ondergaan het.

“Die hospitaal het gesê ons moet hom begrawe terwyl hulle ondersoek sal instel na wat tot sy dood gelei het. Ons wag nou nog op die verslag,” sê Mbaba.

Mosikare is op 6 September in die hospitaal opgeneem vir hoë bloeddruk en vermoedelik ’n kardiovaskulêre voorval. ’n Skandering is gedoen en sy is na die Tshepong-hospitaal in Klerksdorp oorgeplaas waar sy ’n operasie ondergaan het. Sy is daarna weer na die Mahikeng-hospitaal oorgeplaas, maar het op 25 Oktober vanjaar gesterf. Haar liggaam is in dié hospitaal se lykshuis gehou.

Toe haar familie die volgende dag opgedaag het om haar na ’n begrafnisondernemer te neem, is hulle versoek om terug te keer ná ’n nadoodse ondersoek wat vir 27 Oktober geskeduleer is. Toe hulle die dag daarna terugkeer, het hulle vasgestel haar liggaam het reeds ontbind. Hulle het geweier om die liggaam in ontvangs te neem.

Madoda Sambatha, LUR vir gesondheid in Noordwes, het vroeër gesê ’n voorlopige ondersoek het aan die lig gebring dat die liggaam ontbind het omdat dit die aand van 25 Oktober in ’n yskaslaai geplaas is wat onklaar geraak het.

“Die familie het ’n formele klag ingedien. Die hospitaal het aanspreeklikheid aanvaar vir die voorval en het onderneem om berading aan die familie te verskaf.”

Die betrokke beampte is ook voorlopig geskors.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Daleen ·

Siek – ek verstaan julle is geakok en hartseer maar om geld te soek is belaglik. Tipies nuwe Suid-Afrika staan bakhand vir geld vir enige rede. Dit gaan niks beter maak of julle ma terugbring nie. Eish.

Antjiepat ·

Daleen dit gaan nie hier oor geld nie. Ek sou presies dieselfde opgetree het as hierdie familie. Kan jy jou voorstel deur watter trauma hierdie familie is. Wees asb bietjie menslik en stel jouself in hul skoenne.

SomeOne ·

neem dit minder as 2 dae om te ontbind ?, dis vreemd…….

henndrik ·

Wanneer ‘n yskas onklaar raak word dit warm daarbinne. Toe ek in die weermag was moes ons een oggend ‘n hele yskas se inhoud weggooi omdat hy deur die nag gebreek het. Wanneer jy dan daar inkom is dit regtig warm en bedompig so ek kan insien dat dit ontbinding sal versnel.

Riaan ·

Blykbaar begin ontbinding binne 24 uur nadat die liggaam uit die koelkamer verwyder is. Ek het dit ook eers nou die dag uitgevind toe ek ñ kollega se liggaam van Kaapstad na Durban moes vervoer. Ek was meegedeel dat ek glad nie kon oorlaap op die roete nie agv natuur wat sy gang sal gaan.

Riaana ·

Nee Daleen, as dit jou familielid was sou jy dit ook nie net gelos het nie, hulle moet betaal, as hulle nie eens ons geliefdes wat afsterf met respek kan behandel, wat bly oor?????

Mariana ·

Dit is nie reg wat gebeur het nie maar lê eers die afgestorwene ter ruste.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.