Familielid vas ná mesaanval in Centurion

Nooddienste op die toneel. (Foto: Netcare 911)

Die Gautengse polisie ondersoek ’n klag van poging tot moord nadat ’n paartjie Vrydag in die vroeë oggendure in Pierre van Ryneveld in Centurion met ’n skerp voorwerp aangeval is.

Brig. Mathapelo Peters, woordvoerder van die polisie, sê aan Maroela Media ’n familielid (18) is ure ná die voorval in Aliwal-Noord in die Oos-Kaap in hegtenis geneem in verband met die aanval op die paartjie. Die paartjie is albei vermoedelik in hul laat veertigs.

Volgens Shawn Herbst, woordvoerder van Netcare 911, is paramedici omstreeks 01:42 na ’n misdaadtoneel ontbied waar ’n man en ʼn vrou albei met ’n skerp voorwerp gesteek en aangerand is. Albei het verskeie steekwonde tydens die voorval opgedoen.

Die vrou is met paramedici se aankoms in ’n kritieke toestand aangetref. Die man het op sy beurt matige beserings in die voorval opgedoen en is na ’n hospitaal geneem vir verdere mediese behandeling.

“’n Helikopter is weens die ernstige aard van die vrou se beserings ontbied om haar na ’n spesialisfasiliteit te haas,” sê Herbst.

Volgens Peters dui ’n voorlopige ondersoek daarop dat die verdagte en’n onbekende vrou die paartjie oorval en aangerand het.

Die twee verdagtes het daarna in die man se voertuig op die vlug geslaan. Dié voertuig is ure later verlate naby Tembisa opgespoor. Die polisie is steeds op die vroulike verdagte se spoor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

pan ·

Dit sal net beter raak as ons n tuisland kan kry vir ordentlike Godsdienstige mense waar ons in vrede ons eie heil kan uitwerk en maatreëls in plek kan kry om alles wat tot niet gegaan het in SA weer op te bou.

Karolis ·

Pan, ons sal moet begin praat van koop. Ons gaan niks verniet kry nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.