Familielid vas vir moord op tiener

(Argieffoto: pixabay)

ʼn 19-jarige man is Maandag vasgetrek vir die moord op ʼn 14-jarige meisie nadat haar liggaam oor die naweek in ʼn puttoilet in Mpumalanga gevind is.

Brig. Leonard Hlathi, woordvoerder van die polisie, sê die meisie is Woensdag die laaste keer lewend gesien. Familielede het die volgende dag onraad begin vermoed toe hulle dreigboodskappe per selfoon ontvang het. In een van dié boodskappe is ʼn losprys geëis vir die meisie se vrylating.

“Die familie het die polisie in kennis gestel en ʼn saak van ontvoering is aanhangig gemaak,” sê Hlathi.

Die meisie se liggaam is Saterdag deur ʼn familielid in ʼn puttoilet by haar huis ontdek. Die polisie is na die woning ontbied en ʼn saak van moord is geopen.

“Die polisie het onverpoosd gewerk op soek na die meisie se moordenaar(s) en het Maandag ʼn deurbraak gemaak deur ʼn verdagte in hegtenis te neem.” Volgens Hlathi is daar intussen vasgestel dat die verdagte familie van die meisie is.

Daar word geglo dat die meisie moontlik voor haar dood bedwelm is en ʼn nadoodse ondersoek sal gedoen word om die oorsaak van haar dood te bepaal.

Die man wat aangekeer is, sou na verwagting Dinsdag in die Kabokweni-landdroshof verskyn op aanklag van moord, maar hy sal nou eers later verskyn. Volgens Hlathi wil die ondersoekspan eers nog verdere ondersoek instel voordat die verdagte in die hof verskyn.

“Die verdagte kan moontlik op nog bykomende aanklagte teregstaan.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Belinda ·

Familie is veronderstel om te beskerm en veilige hawe te wees.

Sarel ·

14 jr. Maar vermoed eers die volgende dag? Hoe nou waar moes sy dan gewees het?

johanf ·

In SA is alles moontlik, kinders vermoor dan hul ouers…
My innige simpatie aan die ouers en familie, ek glo nie ek so so iets kon verwerk nie, regtig hartseer vir julle…..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.