Familievriend getuig in Panayiotou-moordsaak

Jayde Panayiotou en haar man Christopher. Foto: Facebook

Jayde Panayiotou en haar man Christopher. Foto: Facebook

ʼn Polisiebeampte en ʼn voormalige familievriend van die Panayiotous het getuig hoe Christopher Panayiotou voor hom grootgeword het en hoe hy sy huweliksbevestiging met Jayde bygewoon het.

Speurder ao Louis Eksteen, van die polisie se georganiseerdemisdaadeenheid, wat 16 jaar lank vriende was met die Panayiotous voor Jayde verlede jaar vermoor is, het in Christopher en sy twee medebeskuldigdes se voortslepende hofsaak getuig. Die mans staan tereg op aanklagte wat met Jayde se moord verband hou.

ʼn Hofsaak-binne-ʼn-hofsaak is tans aan die gang om te bepaal of ʼn video-opname tussen die beweerde middelman Luthando Siyoni en Panayiotou, tydens ʼn polisieklopjag verlede jaar op 29 April, toegelaat kan word.

Die onderwyseres is in April verlede jaar op die buitewyke van Kwanobuhle in die Oos-Kaap dood aangetref en haar man word daarvan beskuldig dat hy haar moord georkestreer het.

Eksteen het Maandag aan die hooggeregshof in Port Elizabeth gesê hy het die paartjie se troue bygewoon en Christopher het hom gekontak as hy raad nodig gehad het.

Hy het gesê Christopher het voor sy oë grootgeword en die sakeman was maar ʼn jong seuntjie toe hy jare gelede die Panayiotous bevriend het.

Eksteen en die Panayiotous is intussen vervreem.

Die speurder, wat 28 jaar ondervinding in die polisie het, was aanvanklik nie betrokke in Jayde se moordsaak nie. Hy het aan die hof gesê hoe hy, op die dag van Jayde se verdwyning, ʼn oproep ontvang het van Christopher se pa, Costa, wat hom gevra het om hulle te help soek na Jayde.

Eksteen het tydens dié soektog betrokke geraak en as ʼn “vriend” gehelp, en nie in sy amptelike hoedanigheid as ʼn polisiebeampte nie. Hy het later direk in die ondersoek betrokke geraak toe die ondersoekbeampte, Kanna Swanepoel, sy bystand versoek het. “Kanna wou hoof of ek kan help, omdat ek beskuldigde nommer 1 (Christopher) ken en dat beskuldigde nommer 1 deur Luthando Siyoni geïmpliseer word.”

Die polisie het daarna ʼn plan beraam waar Siyoni Panayiotou sou bel. Eksteen het besluit wat die uitsmyter in verskeie oproepe, wat tussen die twee mans opgeneem is, aan die sakeman moet sê. ʼn Paar van die oproepe is Maandag in die hof gespeel.

“Ek is in groot moeilikheid, ek moet jou bel,” sê Siyoni in een van die oproepe aan Panayiotou, wat dan vir die uitsmyter sê hy moet hom oor 15 minute terugbel.

Siyoni het vroeër getuig die polisie het hom “gedwing” en “gedreig” om sy werkgewer te bel, as deel van die operasie. “Dit was óf werk saam óf tronkstraf. Hulle het gesê ek moet Chris kry om skuld te bely [op sy vrou se moord] sodat daar iets kan wees dat hulle hom in hegtenis kan neem, want hy het die geld vir my gegee,” het Siyoni vroeër aan die hof gesê.

Eksteen het vir Siyoni gesê wat hy aan Panayiotou moet sê en die twee mans het mekaar uiteindelik by ʼn vulstasie ontmoet. ʼn Opname-toestel is in Siyoni se voertuig geplaas en hy het Panayiotou oorreed om in die motor te klim.

Die staat voer aan Siyoni se ontmoeting met Panayiotou het plaasgevind omdat die uitsmyter sy weergawe aan die polisie wou verifieer.
Siyoni, ʼn staatsgetuie, het egter intussen ʼn ommekeer gemaak oor die inhoud van sy verklaring wat hy by die polisie afgelê het waarin die sakeman geïmpliseer word.

Die verdediging wil hê die opname, wat tydens die operasie geneem is, moet nie toegelaat word nie.

Die staat voer aan Panayiotou het die uitsmyter van sy Infinity nagklub betaal om sluipmoordenaars te huur wat Jayde kon ontvoer en vermoor omdat sy “ʼn finansiële las” was.

Die saak duur voort.

Lees alle vorige berigte oor Christopher Panayiotou op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Ek bid ·

Ek bid dat reg en geregtigheid geskied, die verdediging probeer op n slinkse manier uitkom en daarmee impliseer hul Christopher panayiotou finaal, jy moet mos onskuldig kom omdat jy dit nie gedoen het Terry Price?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.