Fase 2-inentings begin vandag: Só lyk teikens

‘n Gesondheidsorgwerker word by die Chris Hani Baragwanath-hospitaal ingeënt. (Foto: Emmanuel Croset/AFP)

Fase 2 van Suid-Afrika se inentingsprogram begin Maandag met die regering wat uiters ambisieuse teikens gestel het.

Altesaam 478 733 Suid-Afrikaners is tydens die eerste fase van die inentingsprogram ingeënt. Tydens dié fase is daar op gesondheidsorgwerkers gefokus en die regering se doelwit was om 1,2 miljoen mediese werkers in te ent.

Volgens dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, sal daar in fase 2 van die inentingsprogram voortgegaan word om gesondheidsorgwerkers in te ent, asook gepoog word om die teiken van 1,2 miljoen teen die einde van die week te behaal.

“Ons sal ook begin om burgers wat 60 jaar en ouer is in te ent aangesien hulle die kwesbaarste is om siek te word of aan Covid-19 te sterf,” het Mkhize Sondagaand tydens die bekendstelling van fase 2 van die inentingsprogram gesê.

Die doelwit is om vyf miljoen mense van 60 jaar en ouer teen einde Junie in te ent. Volgens Mkhize sal die tempo van inentings eers later vandeesmaand begin toeneem aangesien dit tyd sal vat om aan die hantering van die nuwe entstof gewoond te raak.

Daar sou teen laat gisteraand nog 325 260 dosisse van die Pfizer-entstof in Suid-Afrika aangekom het, met altesaam 975 780 dosisse van dié entstof wat dan beskikbaar sal wees. Volgens Mkhize word daar beoog om teen einde Junie 4,5 miljoen dosisse van die Pfizer-entstof en twee miljoen dosisse van die J&J-entstof in Suid-Afrika beskikbaar te hê.

Altesaam 87 persele sal van Maandag af in bedryf wees om met inentings te begin as deel van fase 2 van die inentingsprogram. Altesaam 83 persele is in die openbare sektor en vier in die private sektor.

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid. (Foto: Twitter)

Meer as 7 000 SMS-boodskappe is volgens Mkhize aan gesondheidsorgwerkers uitgestuur en 4 288 aan mense 60 jaar of ouer om Maandag vir hul inenting aan te meld. Diegene wat vir die inenting gaan, moet hul identiteitsdokumente saamvat en diegene wat aan ʼn mediese fonds behoort, moet ook ʼn bewys van lidmaatskap kan toon. Inentings sal ook by ouetehuise gedoen word.

Volgens Mkhize het meer as 1,2 miljoen mense van 60 jaar of ouer reeds op die elektroniese entstofdatastelsel (EVDS) geregistreer.

In dié stadium kan mense nie kies watter entstof hulle wil ontvang nie. Wanneer iemand ingeënt word, sal hulle meegedeel word met watter entstof dit is en of ʼn tweede dosis nodig is.

Die Pfizer-entstowwe is veilig en werk goed, het Mkhize gesê en bygevoeg dat die tweede dosis ses weke ná die eerste een toegedien kan word. Talle mense toon ʼn matige teenreaksie op die entstof, waaronder griepsimptome soos ʼn matige koors, hoofpyne en moegheid, asook ʼn uitslag, swelling en pyn waar die inspuiting toegedien is. Volgens Mkhize verdwyn die simptome gewoonlik binne ʼn dag of twee, maar diegene met ernstige teenreaksies moet mediese hulp kry.

Die entstof sal volgens Mkhize mense beskerm teen ernstige Covid-19 of die dood. “Geen entstof werk egter 100% nie en ons weet nog nie of inentings die oordrag van die virus keer nie.” Daar is ook nog nie duidelikheid oor hoe lank die entstof beskerming bied nie.

 

Deel van: SA-nuus

Koronanuusbrief

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Teken in op die nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

16 Kommentare

jongste oudste gewildste
Fedup

Ambitious targets or not.
50% of cdc employees in America will not be taken any vaccine.
And these are the people who knows what’s going on.
That is saying a lot.

Baardman

Fase 4 sal al aangekondig word dan is daar nogsteeds gesondheidswerkers wat moet kry. Net soos wat die vuurwapen aansoeke agterstallig is.

Tubac

Sien is glo.

Madeleine

Passop. Bid oor dit.

Mariana

Good luck with that.