Fase 2 van skoolaansoeke skop binnekort af

(Argieffoto: Verskaf)

Die Gautengse departement van onderwys se aanlyn skoolaansoeke vir die 2022-akademiese jaar open eerskomende Maandag vir alle gr. 1-leerders sowel as gr. 8-leerders wat nié tans in ’n openbare skool in Gauteng is nie.

Dié leerders sal geplaas word as deel van fase 2 van die departement se aanlyn registrasieproses.

Ouers en voogde wat nie tydens fase 1 namens hul gr. 7-kind kon aansoek doen om plek in ʼn hoërskool nie, sal in fase 2 geakkommodeer word.

Aansoeke vir dié fase sal Maandag om 08:00 open en op 8 Oktober om middernag sluit.

Fase 1 van die departement se aanlyn registrasieproses het Vrydag gesluit. Altesame 351 169 aansoeke is tydens dié fase ontvang, sê Steve Mabona, woordvoerder van die departement.

Maroela Media het vroeër berig die departement se aanlyn registrasieproses geskied vanjaar in twee fases nadat die “ou manier van doen” verskeie probleme veroorsaak het. Die verandering sal die proses glo makliker en meer hanteerbaar vir ouers, voogde en openbare skole in Gauteng maak.

Mabona meen die nuwe manier van doen blyk suksesvol te wees.

“Ons het onsself hierdie jaar oortref, nie net as die departement nie, maar as belanghebbendes, ouers en voogde om die nuwe tweefasige benadering tot dusver ʼn sukses te maak.”

Die plasing van fase 1-leerders sal tussen 15 Oktober en 30 November plaasvind terwyl fase 2-leerders tussen 15 November en 30 November in skole geplaas sal word.

  • Ouers of voogde wat hulp benodig met die aansoekproses kan die departement se distrikskantore of instapsentrum besoek, of die departement by 0800 000 789 skakel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.