Fase 4-beurtkrag tot dán voorspel

Argieffoto

Eskom het Woensdag aangekondig fase 4-beurtkrag kan moontlik tot die naweek voortduur.

Die kragvoorsiener sê hulle is steeds besig om Koeberg se eenheid 1 te herstel. Dié eenheid het Dinsdagmiddag meganiese probleme begin ondervind.

Maroela Media het vroeër berig dié eenheid is van die netwerk ontkoppel weens ʼn fout met een van sy turbines. Die kernkragreaktor is steeds veilig, maar ʼn seewaterpomp is beskadig en dit kan etlike dae duur voor die eenheid weer gebruik kan word. Die fout by Koeberg het ʼn verlies van 930 MW aan die netwerk tot gevolg gehad.

Die kragvoorsiener sê hy gaan fase 4-beurtkrag tot verdere kennisgewing toepas. Beurtkrag kan ook moontlik oor die naweek verwag word.

“Ons probeer intussen soveel as moontlik noodreserwes opbou. Ons versoek verbruikers om elektrisiteit spaarsamig te gebruik en ons by te staan om die vraag te verminder,” het Eskom gesê.

Intussen het die DA ʼn nasionale veldtog van stapel gestuur om die regering te dwing om stappe te doen om die kragkrisis op te los. “Pres. Cyril Ramaphosa het tydens sy staatsrede ʼn klomp beloftes oor energiesekerheid gemaak. Sedertdien het die toestand in werklikheid net vererger. Binne 48 uur het die land van geen beurtkrag nie na fase 4 oorgegaan,” het Ghaleb Cachalia, DA-woordvoerder van openbare ondernemings, in die parlement gesê.

Cachalia sê Ramaphosa bevind homself in ’n tweestryd, naamlik of hy gaan aanhou om Eskom die alleenreg as kragvoorsiener te gee en of hy Eskom se monopolie gaan verbreek.

Cachalia sê die uitwerking van voortdurende kragonderbrekings het ook verdere nadelige gevolge vir die land se ekonomie gehad. “Klein ondernemings sluit hul deure en mense verloor hul werk. Ons het baie vinnig verandering nodig.”

Die DA het ’n paar voorstelle gemaak van hoe die land vorentoe kan beweeg sonder om swaar op Eskom te steun:

  • Gwede Mantashe se toekoms as minister van energie en minerale hulpbronne moet heroorweeg word. “Hy is ’n groot struikelblok en gaan voort om belangrike stappe om energiesekerheid te verseker, in die wiele te ry.”
  • Eskom kan in twee entiteite verdeel word met die oog op gedeeltelike of volledige privatisering.
  • Die DA het in sy nasionale begrotingsvoorstel vir die 2020-’21-boekjaar werklike aansporings vir huiseienaars ingestel om sonkragstelsels te installeer deur tot R75 000 belastingkorting vir elke huis aan te bied.
  • LED-gloeilampe en energiedoeltreffende toestelle moet van BTW vrygestel word.
  • Mantashe moet munisipaliteite toelaat om bykomende elektrisiteit by onafhanklike kragprodusente (IPP) aan te koop.
  • Die ANC-regering moet Cosatu se voorstel om pensioenfondse te gebruik om Eskom se skuld te vereffen, teenstaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Strandloper ·

Die hoeveelheid groot mobiele kragopwekers wat by Koeberg staan is nogal lagwekkend of eerder ironies…

SJME ·

Negatief is ek nie maar, dit gaan NIE gebeur nie…

Staal julleself…

DieKriek ·

Goed, maar mense wat direk by Eskom krag kry word ongeveer R50 per dag gevra vir die beskikbaarheid van krag. Vandat beurtkrag ingestel is, is daar ongeveer 6 dae per maand waar krag nie beskikbaar is nie. Hoe kan n mens Eskom dwing om dit by die rekening af te trek?

Erika ·

Wie het ook pre paid krag, en het al opgelet, voor die krag afgaan is jou units byvoorbeeld 100 sodra dit aankom, is jou units 94 selfs minders, nou waar het die ander units heen verdwyn terwyl die krag af was? Of is ek die enigste een met hierdie probleem?

Sarel ·

Die waarheid agter die Beurtkrag moet voorsien wordcen Eskom sowel as die Regering moet erken dat Eskom besig iscom die sukkelende ekonomie te vernietig.

Louw ·

Ag , daar gaan niks van kom nie. Ons hier in Plett het nog n ekstra probleem, , n uur na die krag af is, is Tekom se dieste ook af..

Nicky ·

Dit gaan ‘n baie koue en donker winter wees……. Geen vertroue dat hierdie gemors opgelos gaan word nie.
Die Land se algehele toestand is ‘n bewys dat hulle net nie die land kan regeer nie…… wat nog van krag voorsien.

John ·

Wat hier aan die gebeur is: die ANC volhard om om te sien na hul ondersteuners basis deur werksekerheid aan hul te bied ipv om die totale landsbelang te dien. Met hierdie as gegewe sal sukkelende staatsondernemings nooit reggeruk kan word nie, inteendeel sal die belastingbetaler meer en meer moet pa staan en les bes sal Suid Afrika al meer `n vervalle staat word en armoede hand oor hand verder toeneem.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.