Fase 6 en hoër moontlik in winter; so lyk situasie by kragstasies

Kgosientsho Ramokgopa (Foto: GCIS)

Fase 6-beurtkrag en hoër is ʼn groot moontlikheid vir die wintermaande wat voorlê.

Dr. Kgosientsho Ramokgopa, minister in die presidensie verantwoordelik vir elektrisiteit, meen egter die kragkrisis kan opgelos word ondanks die uitdagings by Eskom.

Die minister het vroeër die week ’n media-inligtingsessie gehou ná sy besoeke aan Eskom se kragstasies.

Ramokgopa het die uitdagings by elk van die kragstasies uiteengesit. Dit sluit onder meer in steenkoolgehalte weens onderbelegging by myne, probleme met emissievlakke by sommige kragstasies en werkers se moraal vanweë sommige stasies wat in die nabye toekoms uit diens gestel moet word.

Kgosientsho Ramokgopa (Foto: GCIS)

“Ek is meer as vol vertroue dat ons die kapasiteit, die wil en die kundigheid het om beurtkrag op te los. Ek is seker sodra ek na die kabinet gaan en uitstippel wat hierdie opsies [om uitdagings by kragstasies op te los] is, ons behoort te kan sê wat die tydlyne is.”

Van die moontlike oplossings wat Ramokgopa voorgehou het, sluit in om ou steenkoolkragstasies se lewensduur te verleng, maar dan nie aan die klimaatdoelwitte te voldoen waartoe die regering hom verbind het nie.

Hy meen verder daar moet belê word in die opknapping van steenkoolkragstasies om hul werkverrigting te verbeter en dat dit nodig is om buite die beperkings van Eskom se balansstaat te dink en om fiskale ondersteuning aan Eskom te verleen, selfs al het dit ’n groter begrotingstekort tot gevolg.

Só lyk situasie by Eskom se kragstasies

Oor Medupi en Kusile het Ramokgopa gesê ʼn groot aantal van Eskom se kapasiteit sit by die twee kragstasies en hulle is daarom te groot om te misluk.

Medupi

By Medupi is die groot probleem die voortydige mislukking van eenhede – met die oudste eenheid wat net agt jaar oud is en die jongste net twee jaar oud. Korrupsie is hier ʼn groot probleem met die verkeerde toerusting wat gebruik word weens verskaffers wat probeer munt slaan uit die situasie by Eskom. Medupi kan tot 24% van die tyd nie teen sy volle kapasiteit funksioneer nie. Medupi se energiebeskikbaarheidsfaktor (EBF) staan op 70%.

Kusile

By Kusile is daar drie eenhede wat uit diens uit is nadat ʼn voerpyp na hul gedeelde skoorsteen ineengestort het. Kusile beskik oor ʼn stelsel vir nat uitlaatgas-ontswaeling, maar weens menslike foute en foutiewe toerusting het ʼn sementagtige aanpaksel tot strukturele skade aan die voerpyp gelei. Eskom het egter nou toestemming van die departement van bosbou, visserye en die omgewing gekry om die stelsel te omseil om herstelwerk te versnel en sodoende die drie eenhede weer teen die einde van die jaar te kan aanskakel en meer as 2 000 MW tot die stelsel te kan voeg. Die EBF van die beskikbare eenhede is net oor die 37%.

Kgosientsho Ramokgopa tydens een van sy besoeke aan Eskom se kragstasies (Foto: GCIS)

Kendal

Kendal sukkel om binne sy besoedelingsperke te bly en moet hy gevolglik opwekking beperk. Een van die opsies wat oorweeg word, is om toestemming te kry om die perke te mag oorskry om die kragstasie op volle kapasiteit te laat loop. Kendal se EBF is 46,75%.

Matimba

Matimba is een van Eskom se bes presterende kragstasies, maar daar is groot probleme om die nodige onderdele vir herstelwerk te bekom. ʼn Opsie wat dus oorweeg word, is om op kort termyn verkrygingsprosesse te omseil. Die stasie het ook ʼn probleem met steenkoolgehalte. Matimba se EBF is 75%.

Majuba

Majuba wek nie teen die helfte van sy kapasiteit op nie weens die meulaanleg wat opknapping benodig. Eskom het egter nie geld om dit te doen nie. Majuba se EBF is net meer as 47%.

Lethabo

Lethabo is nog een van die bes presterende stasies, maar sukkel ook met steenkoolgehalte. Lethabo het ʼn EBF van 73,81%.

Tutuka

Tutuka lewer net ʼn kwart van sy opwekkingsvermoë weens ontwerpfoute by talle van die eenhede. Van die ander eenhede is reeds aangepas, maar daar is nie geld om die ander op te knap nie. Die stasie is veronderstel om in 2030 gesluit te word. Tutuka het ʼn EBF van net 26,02%.

Die Tutuka-kragstasie (Foto: GCIS)

Matla

By die Matla-kragstasie word daar ook gesukkel weens swak steenkoolgehalte en die EBF is 53,75%.

Kriel

Kriel lewer ook nie eers die helfte van sy opwekkingsvermoë nie weens sy koeltorings wat nie opgeknap is nie. Kriel se EBF is 49,64%.

Duvha

Duvha lewer ook net om en by 40% van sy vermoë.

Arnot

By Arnot moet twee eenhede in 2026 afgeskakel word en dit sal tot gevolg hê dat sowat 400 MW verlore gaan. Arnot se EBF is 50,4%.

Hendrina en Grootvlei

Vier van Hendrina se eenhede is uit diens terwyl drie eenhede by Grootvlei uit diens is. Hendrina het ʼn EBF van 23,3%.

Die Hendrina-kragstasie (Foto: GCIS)

Camden

By Camden moet drie eenhede teen Julie buite werking gestel word en die hele kragstasie moet in 2025 sluit.

Koeberg

By Koeberg is daar ʼn vertraging van meer as 40 dae vir die herindiensstelling van eenheid 1. Drie stoomontwikkelaars by eenheid 2 sal ná afloop van die suksesvolle werk aan eenheid een, ook vervang word.

Eskom se oopsiklus-gasturbines word al meer ingespan. Volgens Ramokgopa is dit veronderstel om net 4% van die tyd te loop, maar loop dit nou al 11,5% van die tyd. Daar word sowat 45 000 liter diesel per eenheid gebruik wanneer die kragstasies loop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Jacobus ·

Om iemand miljoen plus te betaal om te vertel wat om reeds weet is nie snaaks nie. Kusile en Medupi is juis van ontwerp tot konstruksie beplan as ‘n nimmereindigende plunderpotte.
Moenie van steenkool praat nie – ons prima gehalte word uitgevoer na lande wat ou Skril oortuig het om meer groen te leef – teen vergoeding natuurlik!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.