Federer, Nadal verbeter tennisrekord in Kaapstad

Roger Federer in aksie tydens sy wedstryd teen Rafael Nadal in Kaapstad. (Foto: AP/Halden Krog)

Trevor Noah was propvol kwinkslae gedurende gisteraand se Match in Africa-liefdadigheidswedstryd in Kaapstad.

Die aanbieder van The Daily Show het onder meer vir Roger Federer gesê dat hy verspot maklik met die 38-jarige tennis-superster se kop kan smokkel, want nes Federer is sy pa ook van Switserland en sy ma van Suid-Afrika afkomstig.

Maar ná die fanfare van Noah se dubbelspelstryd saam met Rafael Nadal teen Federer en die Microsoft-ghoeroe Bill Gates, het die komediant ook ’n paar wyse woorde gespreek.

“Ons het gehelp om meer as $3 miljoen (meer as R45 miljoen) vir liefdadigheid in te samel, terwyl ons die wêreldrekord vir die meeste toeskouers nóg by ’n tenniswedstryd verbeter het. ’n Duisend van my drome het op een aand waar geword,” het Noah gesê.

Want op ’n ietwat winderige Kaapse aand het 51 954 geesdriftige Suid-Afrikaanse tennisliefhebbers die Match in Africa-skouspel bygewoon. In die proses het hulle die vorige bywoningsrekord met amper 10 000 toeskouers verbeter.

Rafael Nadal in aksie tydens sy wedstryd teen Roger Federer in Kaapstad. (Foto: AP/Halden Krog)

Die vorige rekord is verlede November opgestel toe Federer vir Duitsland se Alexander Zverev voor 42 517 toeskouers in Meksiko getroef het.

In gisteraand se enkelspelwedstryd het Federer die 33-jarige Nadal met 6-4, 3-6 en 6-3 geklop. En hoewel daar baie glimlagte was, het hulle steeds spelgewys hul uiterste bes gedoen.

“Dit is ’n ongelooflike voorreg om vanaand hier te wees. Natuurlik het ons probeer om met ons beste spel vorendag te kom; dit is immers waarvoor ons bekend is. Terselfdertyd was dit ’n absolute plesier om die baan weer met Rafa te deel en om vir die eerste keer hier in die pragtige Kaap te speel. Dit het alles net soveel meer spesiaal gemaak,” het Federer gesê.

“Vanaand het oor soveel meer as net tennis gegaan en ek hoop van harte dat ons dit weer sal kan doen. Ek hoop dat Rafa dit weer eendag sal kan kom saamdoen; om weer terug na dié mooi land te kom. Ek is trots daarop om ’n verbintenis met Suid-Afrika te hê.”

Op sy beurt was Nadal net vol lof vir die ondersteuners en vir Federer gewees.

Roger Federer en Rafael Nadal omhels mekaar ná die wedstryd in Kaapstad. (Foto: AP/Halden Krog)

“Die atmosfeer in die stadion was elektries en ek dink nie ons kan heeltemal ons gevoelens verwoord nie. Dit is ’n een-keer-in-’n-leeftyd-ervaring om voor só ’n skare in ’n ongelooflike stadion te speel,” het Nadal gesê.

Hoewel hy al as tiener vantevore in Suid-Afrika gespeel het, is dit die eerste keer dat hy die land as professionele speler besoek het.

“Roger, sy gesin en span verdien beslis ’n klop op die skouer vir die wyse waarop hulle hierdie skouspel aangebied het. Dit was ’n reuseplesier om deel van die aksie te kon wees.”

  • Met sy liefdadigheidsinisiatief het Federer reeds meer as $52 miljoen vir minderbevoorregte kinders in Afrika ingesamel.
  • Federer en Gates het die dubbelspelwedstryd met 6-3 gewen. Die Springbok-kaptein, Siya Kolisi, het vooraf ’n Bok-trui aan Federer oorhandig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Kiewiet ·

Ai Hoe Lekkerrrrrr. Wys jou net wat kan gedoen word as n mens will. Kyk die pragtige gesindheid tussen die twee supersterre van tennis. Doe so voort.

Leeuwyfie ·

Wie is hierdie liefdadigheidsorganisasie? Die staatskoffers?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.