Federer speel toergids vir Kolisi in Zürich

Die tennisheld Roger Federer was toergids vir Springbokkaptein Siya Kolisi in die strate van Zürich. (Foto: Roger Federer/Twitter)

Springbokkaptein Siya Kolisi het ʼn draai in Zürich gegooi ná die Bokke se toer in die Verenigde Koninkryk – en niemand anders as die tennisheld Roger Federer het toergids in die bekoorlike strate van Switserland se grootste stad vir die Bokheld gespeel nie.

Federer, wat 20 Grand Slam-titels agter sy naam kan skryf, het foto’s van hom en Kolisi op sy Twitter-blad geplaas.

“Benodig enigiemand ʼn toergids? Ek het ʼn Springbok gevind wat deur die strate van Zürich dwaal. Wat ʼn plesier om jou te sien, Siya,” het Federer geskryf.

Die Switserse tennisster was saam met sy ouers, Robert en Lynette, in die stad. Lynette is in Kempton Park in Suid-Afrika gebore en Federer handhaaf steeds noue bande met die land.

Hy was in Februarie verlede jaar in Suid-Afrika vir die Match in Africa-vertoonwedstryd tussen hom en die Spanjaard Rafael Nadal.

Kolisi het voor die wedstryd ʼn Springboktrui aan Federer oorhandig.

Federer is ʼn groot ondersteuner van die Bokke en het destyds die Springbokke se Wêreldbekeroorwinning geloof. Hy het vertel hy het uiteindelik die eindstryd gekyk terwyl hy sy hare laat sny het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.