Fedsas hof toe oor skuld aan Vrystaatse skole

fedsas-SAMRK-vrystaat-onderwysdept-2018-01-19

Fedsas het in Januarie ‘n klag teen die Vrystaatse onderwysdepartement by die SA menseregtekommissie en openbare beskermer ingehandig. Foto: Fedsas/Twitter.

Nadat alle versoeke vir betaling van die jaarlikse oordraggeld op dowe ore geval het, gaan die hulp van die hooggeregshof nou ingeroep word om die Vrystaatse onderwysdepartement te dwing om sy werk te doen.

Dit volg nadat talle skole in die provinsie nou aan die einde van die eerste kwartaal steeds nie hulle oordraggeld van 2017 van die departement ontvang het nie. Skole gebruik die geld om hul bedryfsuitgawes soos water, elektrisiteit en skryfbehoeftes te dek.

Die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas) het die Suid-Afrikaanse menseregtekommissie en die openbare beskermer in Januarie vanjaar gevra om ondersoek in te stel na die Vrystaatse onderwysdepartement se herhaalde versuim om die oordraggeld aan skole uit te betaal.

Verder het Fedsas sy prokureur opdrag gegee om ʼn aanmaning aan dié departement te stuur om te eis dat die gelde binne twee weke oorbetaal moet word.

“Dit is nou twee maande later en die departement het steeds nie verlede jaar se oordraggelde betaal nie. Boonop vertraag die departement ook die aanstelling van talle posvlak 1-onderwysers,” het dr. Jaco Deacon, adjunkhoof van Fedsas, gesê.

Hy het bevestig die hofstukke hiervoor is Dinsdag 27 Maart ingedien. Fedsas en die Suid-Afrikaanse onderwysunie (SAOU) nader die hooggeregshof nou gesamentlik om die geld te kry en aanstellings by skole gemaak te kry.

“Die tweede kwartaal begin binnekort en beheerliggame doen wat hulle kan, maar in baie gevalle hoop skole se skuld op omdat rekeninge nie betaal word nie.”

Deacon het gesê provinsiale onderwysdepartemente is verantwoordelik om twee keer per jaar geld van die nasionale tesourie aan skole te betaal. “Hierdie geld behoort nie aan die provinsiale onderwysdepartement nie – die departement moet dit bloot aan skole oorbetaal. Die eerste oorbetaling van 2018 moet in Mei vanjaar gemaak word, maar 2017 se geld is nog uitstaande. Wat het die Vrystaatse onderwysdepartement met hierdie geld gemaak?”

Deacon het gesê wat die talle aanstellings by die skole betref, het beheerliggame die aanbevelingsprosesse tydig en korrek afgehandel. “Die aanstellings moes betyds vir die nuwe skooljaar gemaak gewees het. Die eerste kwartaal is egter nou reeds verby en talle skole moet steeds oor die weg kom met te min onderwysers en in baie gevalle ook nie ʼn skoolhoof nie.”

Hy het bygevoeg dat hierdie soort wanbestuur onderwys in Suid-Afrika bedreig. “ʼn Onderwyser in elke klas, toiletgeriewe en skryfbehoeftes – dit is die soort uitdagings waarmee skole dag na dag te doen het. Hierdie uitdagings hou nie net ʼn bedreiging vir gehalte-onderrig in nie, maar dit is ʼn direkte aanslag op kinders se basiese reg op onderrig.”

  • Maroela Media het die departement van basiese onderwys genader vir kommentaar en sal ʼn opvolgstorie doen sodra ons terugvoer oor die kwessie ontvang het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Alida ·

Toe ANC kry vir julle! Net nog n skandaal en miljoene aan regskostes. Mooi man.

Hansie ·

Maar verstaan die mense nie! hulle moet R20 miljoen gebruik vir Ace se afskeidspartydjie . Baie meer mense gaan daaruit profeteer

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.