Fedsas ondersteun nuwe skolebeleid

paul-colditz-fedsas

Argieffoto: Paul Colditz van Fedsas.

Die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas) het vandeesweek in ʼn verklaring gesê die nuwe beleid, wat standaarde stel vir skoolhoofde in Suid-Afrika, wat op 18 Maart vanjaar in die Staatskoerant gepubliseer is, is ʼn positiewe mylpaal vir onderwys in die land.

Fedsas is ʼn vrywillige vereniging van skoolbeheerliggame by openbare skole en staan die behoud en bevordering van gehalte-onderwys voor.

Paul Colditz, uitvoerende hoof van Fedsas, het gesê die organisasie is bly oor die nuwe beleid en trots op dit wat die onderwysdepartement bereik het.

“Fedsas was een van die rolspelers wat versoek is om kommentaar te lewer op die konsepbeleid. Ons wil die minister van basiese onderwys, me. Angie Motshekga en haar departement gelukwens met hierdie beleid,” het Colditz gesê.

“Die finale beleid oortref ons verwagtinge. Dit is weldeurdag en sal ʼn belangrike maatstaf wees vir skoolbeheerliggame wanneer aanbevelings oor kandidate vir skoolhoofde gemaak word. Dit verskaf ook duidelikheid oor die verhouding tussen ʼn skoolhoof en die skoolbeheerliggaam.”

Die organisasie sê ʼn skoolhoof is ʼn kernskakel in die onderwysketting. “Vir Suid-Afrika se onderwysstelsel om suksesvol en kompeterend te wees, is uitstekende skoolhoofde ononderhandelbaar. Skoolbeheerliggame speel ʼn bepalende rol in die aanstellingsproses van skoolhoofde. Hierdie beleid dra by tot die beskerming van die bevoegdheid van beheerliggame om hierdie proses te bestuur en aanbevelings vir die aanstelling van skoolhoofde te maak,” het Colditz gesê.

Fedsas het ook die minister en die onderwysdepartement bedank vir die steun wat hulle aan skole bied. “ʼn Beleid soos hierdie maak dit duidelik besluite oor skoolhoofde kan nie aan vakbonde of vakbondgenote in die departement oorgelaat word nie. Onlangse mediaberigte oor die ‘verkoop’ van skoolhoofposte deur vakbonde, bevestig die integriteit van die aanstellingsproses moet bo verdenking bly.”

Colditz het ook gesê die organisasie is daartoe verbind om skole vir gehalte-onderrig te bevorder. “As gerekende rolspeler in die onderwys, sal ons voortgaan om die minister en haar departement te steun in inisiatiewe wat bydra tot die verwesenliking van Fedsas se ideale.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Disselboom ·

Die ding wat Disselboom nie so lekker verstaan nie, is hoe die bevraagtekening van die staat se matriekeksamen se waarde met konsepte soos “gehalte-onderwys” in openbare skole saamwerk? Soos dit vir Disselboom lyk, is daar soveel stringe A’s elke jaar en self heelwat 100%-uitslae vir vakke wat wil lyk of die hele matriekgedoente se vlak te laag is om die regte slim ouens en presteerders van die bondel te onderskei; en die universiteite word oorspoel met 30/40/50 duisend aansoeke elke jaar…. dan is daar moet iets groot fout?

Leonard van der Dussen ·

Sulke staatsbeleide klink goed, maar dit werp ‘n vernederende skaduwee oor alle beheerliggame se (swak) vermoëns waar dit nie orals van toepassing is nie. Verder verhoog sulke beleid die staat se inspraak in onderwys, terwyl die staat se rol minder moet word en onderwys die gemeenskap se eiendom is. Veral in die Suid-Afrika van 2016 met ‘n regering wat sy inspraak en reëls op reëls gebruik volgens die kommunistiese handboek om alles en almal onder hulle duim te hou, is beleid soos hierdie net nog ‘n verskerping van onderwyswetgewing wat reeds oor-sosialisties is en gevaarlike instrumente aan die staat gee om sy wil in onderwys af te dwing. Ek meen dat Fedsas se steun hieraan te ongekwalifiseerd en polities korrek is, en dui op kortsigtigheid.

Basson ·

Geluk FEDSAS, en baie dankie vir die onbaatsugtige werk wat julle agter die skerms doen waarvan baie gewone mense geen benul het nie.

Paul Colditz en sy span verdien voorwaar soliede goue medaljes, en ons almal behoort hulle ten volle te ondersteun.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.