Fedusa ondersteun Comair-staking

Argieffoto: cyberairlines.net

Argieffoto: cyberairlines.net

Die vakverbond Fedusa het Donderdag sy volle steun toegesê aan die staking deur lede van Uasa, nadat salarisonderhandelinge vasgeval het.

Bedrywighede by die plaaslike en internasionale toonbanke van Kulula en British Airways het Donderdagoggend geringe vertragings van ongeveer 15 minute beleef toe werkers begin staak het.

Die United Association of South Africa (Uasa) eis ʼn 30% salarisverhoging oor ʼn drie jaar periode, wat met 10% per jaar begin, wat ʼn VPI-verhoging insluit.

Comair bied egter 22,5% aan vir dieselfde periode.

Werkers wat staak sluit Comair-kliëntediensagente, kaartjieverkopeagente, opritbeheerders, lughawebeheer en spesialediensagente in.

Dennis George, algemene sekretaris van Fedusa, het in ʼn verklaring gesê die vakbondfederasie ondersteun die staking, aangesien Uasa en Comair al sedert November 2015 onderhandel.

George het gesê Uasa is tans die enigste aktiewe vakbond binne die lughawe-onderhandelingseenheid en verteenwoordig meer as 58% van die werknemers. Hy het bygevoeg dit bly twyfelagtig hoe Comair beplan om die impak van die staking deur gebeurlikheidsplanne te beperk.

“Fedusa erken Uasa se pogings en glo dit is belangrik dat Uasa streef na die ondersteuning en bevordering van behoorlike werk en voordele en billige salarisse vir sy werkers,” het George bygevoeg. “Die federasie doen ʼn beroep op Airports Company of SA (Acsa) om die stakingsgebiede by lughawens bespoedig, sodat die beplande, vreedsame betoging onverhinderd kan voortduur.”

George het gesê Fedusa bied sy volle ondersteuning aan stakende Uasa-lede wat by die lughawens in Kaapstad, Johannesburg, Durban en Port Elizabeth begin staak het. Hy het gesê dit is belangrik dat Comair kennis neem van die gevolge van massa ongerief en vertragings wat ʼn beskermde staking van ʼn aktiewe vakbond, wat die meerderheid van werkers verteenwoordig, kan hê.

“Fedusa doen ʼn dringende beroep op Comair om die saak op ʼn vriendskaplike wyse op te los en die onderhandelings te benader met die nodige toewyding en wysheid om die toenemende vlakke van ongelykheid te verminder.

Maroela Media het vroeër berig Die lugvaartmaatskappy Comair het Donderdag gesê sy bedrywighede gaan steeds voort ondanks ʼn staking deur werknemers verbonde aan die vakbond Uasa. Lees meer.

Lees alle vorige berigte oor Comair op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Hannes ·

As hy nie wil werk nie, jaag hom weg. Hy verdien op die staduim ‘n inkomste. Daar is baie insluitend myself wat ,wat sal gee net om ‘n inkomste te kan kry. Wat werkloos is en niks het om in te bring huis toe nie. Niks, nie eens brood op die tafel kan neersit vannaand om te eet nie. Ek sal so werk doen al is dit vir die helfte van sy salaris.

Paul ·

Dis nou ‘n manier om jouself uit ‘n werk uit te staak. As jy staak en al die vliegtuie is steeds betyds, toon jy mos eintlik vir jou werkgewer aan dat hy sonder jou kan klaarkom.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.